top of page
  • Izak de Vries

Mooiloop, bebliksemde Boetman

As ek nou ’n digter was, soos Kammakazi, sou ek ’n gedig wou skryf. Ek is nie. Daarom dus net ’n kort nota waarin die hartseer van ’n ontydige dood bekla word.

Chris Louw het styl gehad. Om homself met ’n AK die lewe uit te help, sê nogal iets oor hom.

Jip, Boetman kon ’n bliksem wees.

Ek het baie met hom te doene gekry in die tyd toe die Boetman-debat losgebars het. LitNet was ’n kardinale aar vir Chris se woede op daardie tydstip.

En dis juis daar waar Chris my een oggend wou toets. Hy vuur weer een van sy branders af, maar teken dit Chrisjan en ... stuur dit van sy buurman se rekenaar af.

Nou, enige een wat iets weet van die joernalistiek, weet dat jy jou bronne mooi deeglik nagaan. Daar is kodes wat ons volg. Chris was bekend daarmee. In die tyd toe die ANC ’n verbanne organisasie was, moes jy weet waarna om te kyk, anders kon ’n apartheid-dude namens die ANC ’n verdoemende verklaring uitreik. (Vandag doen Julius dit sommer.)

Chris was die moer in toe ek sy brief in twyfel trek, en stuur toe van sy eie rekenaar af ’n moerse opvolgbrander teen hierdie klein snotkop!

Ek het maar koel geantwoord dat ek bloot die protokol volg wat hy, Chris, ook sou toepas onder die omstandighede.

Ek het die toets geslaag. Chris was daarna altyd vriendelik met my.

Nou ja. Dis maar een staaltjie en dit vertel niks oor die wonderlike werk wat Chrisjan Louw in Suid-Afrika gedoen het nie. Sy dryfkrag en sy hardkoppige geloof in ’n demokratiese Suid-Afrika het baie gehelp om die warse Afrikanerpsige te help draai.

Ek vermoed sy teleurstelling in die diknekke wat die demokrasie wil kaap, het bygedra tot sy dood. Sy gekose wapen sê iets vir ons.

En nou is hy dood. ’n Spies het geval – Chris sou geweet het wat dit beteken.

Ek weet nie hoekom hy dood is nie. Ek weet net dit is hartseer dat ’n man met soveel talent uitgewerk is uit die SABC.

Hamba Kahle, Boetman. Laat die donderslae dreun oor Pretoria.

2 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page