top of page
  • Uitmelkbos

MONUMENT VIR MANDELA



Mount Nelson?

Moet een van die pieke van die Drakensberg – of dalk sommer die hele berg – na oudpres. Nelson Mandela genoem word?

Mnr. John Tungay, stigter van die Drakensbergse Seunskoorskool, het voorgestel dat Cathkin Peak Mandela se naam kry. As beelde van Amerikaanse presidente in die berg Rushmore uitgekap kan word, kwalifiseer die oudpresident darem seker vir dié eer, meen hy.

Met die byvoeging van die stertjie “of dalk sommer die hele berg” stuur die uwe sy eie vlieërtjie op. Moet dit nie op mnr. Tungay se rekening sit nie.

Oor die meriete van die Tungay-plan (met of sonder die HvD-amendement) laat ek my nie uit die. Laat die Kwazulu-Natallers en bewaringsliede dit eers onder mekaar uitspook. Oor die meriete daarvan om kreatief te begin dink oor ‘n gepaste gedenkteken vir Mandela is ek egter vuur en vlam.

Die man is ‘n internasionale ikoon. Suid-Afrika sal nie ná sy dood kan volstaan met ‘n munisipaliteit hier, ‘n universiteit daar en ‘n straat of drie wat sy naam dra nie. En die land se grootste lughawe heet klaar na Oliver Tambo.

‘n Waardige monument sal uitgedink moet word.

As ek nog die platform van ‘n koerant of koerante gehad het, sou ek in die versoeking wees om ‘n kompetisie uit te skryf – met GROOT pryse – om Suid-Afrikaners aan die dink te sit oor hoe Mandela vereer moet word.

Tungay wil met die vernoeming van ’n piek in die Drakensberge nasiebou en nasionale eenheid bevorder. “Mandela is ’n simbool van iets wat veel beter is as wat ons op die oomblik kry. Ons is nie ’n Reënboognasie nie.”

Die Tungay-voorstel kry uit talle oorde die wind van voor. Dit herinner my aan my eie ervaring toe ek in Augustus 2002 in ‘n brief aan “Rapport” gewaag het om op te merk: “ ‘n Groter en unieker eer kan Suid-Afrika sy beroemdste seun nie bied nie as om die Nasionale Krugerwildtuin te herdoop tot die Nelson Mandela-wildtuin.”

Die volgende week was daar drie kwaai briewe wat sê nee, asseblief tog nie. My voorstel is “onbekook” en “moedwillig”. ‘n Vriendin het in haar private reaksie selfs van “verraad” gepraat.

Enkele vriende het privaat wel hul eensgesindheid betuig. Een het voorgestel dat ek van die brief ‘n glansafdruk maak en dit bewaar, “want dit sal nog geskiedkundig word.” Klaarblyklik gaan dit nie gebeur nie.

Die stof het vinniger gaan lê as wat ek verwag het. Al glo ek steeds dit sou vir Suid-Afrika – en vir die Wildtuin self (uit ‘n internasionale bemarkingshoek) – ‘n goeie ding wees, aanvaar ek die plan is doodgebore.

Maar dit verander niks aan die saak nie: ons sal vinnig groot en kreatief moet begin dink. Mandela word nie jonger nie.

En dink net watter plusfaktor dit vir samebinding kon wees as die uiteindelike wen-idee uit Afrikanergeledere gebore sou word, veral as dit ‘n element van toegewing (selfs opoffering) kon bevat.

Of wat praat ek alles?

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

تعليقات


bottom of page