….
Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020) via LitNet:
Verklarings van Media24:
Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke “The Lost Boys of Bird Island” en “Die Seuns van Bird Island” asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.
….
Die Bird Island-histerie het ‘n stille dood gesterf. Die land kan weer asemhaal, dankie tog. Maar wat gebeur t.o.v. al die valse bewerings en gerugte wat as’t ware op die markplein verkondig is? Word die skromelike onreg wat mense aangedoen is, eenvoudig maar begrawe en vergeet?
Enkele vrae verdien beslis antwoorde voordat afsluiting (“closure”) moontlik is, meen ek. Voorheen het ek al twee briewe oor die onderwerp vir koerante geskryf, en ‘n derde sal een te veel wees. As ek tog ‘n derde sou aanbied, sou ek graag ‘n klompie vrae aan die orde wou stel. Hier is net tien, wat tog ‘n goeie toets behoort te wees vir elkeen wat nog die Bird Islandstories glo of half glo:
Watter ander krieseltjie getuienis verbind die “derde minister” (Barend du Plessis) aan ‘n pedofielnetwerk buiten dat hy – met die medewete van sy kantoor en gesin, let wel – op ‘n militệre helikopter na Bird Island gevlieg is vir die opening van ‘n ghwanokaai? Waarom dan te bang wees om die “derde minister” se naam te noem as jy so seker van jou saak is? Laat hom dan maar kom met ‘n lasteraksie! Waar is die “nog onthullings” (ook oor Minnie se selfdood) wat telkemale uit soveel monde belowe is? Waar is al die slagoffers van Bird Island heen dat geeneen in drie dekades na vore gekom het nie, selfs nou wanneer hulle so gesmeek en oral gesoek is? Waarom is geen saak by die polisie aanhangig gemaak nie en is hierdie verskriklike dade nie by die WVK geopper nie? Is ‘n mens nie moreel en regtens verplig om sulke ernstige misdrywe teen kinders aan te meld nie? Is versuim om dit te doen nie ‘n ernstige misdryf wat strafbaar is nie – vrae wat sekerlik ook geld t.o.v. Minnie se beweerde aanranders (die tweelingbroers wat by name genoem word? Watter bewyse/bronne het Chris Steyn vir haar jongste aanspraak dat Mark Minnie “gedwing” is om die weg van selfdood te kies? Wie het hom “gedwing” en hoe? Hoekom het Chris Steyn nie in haar 2006-boek, Publish and be damned reeds na die betrokkenheid van Magnus Malan en Barend du Plessis verwys as sy self nou loop en vertel dat sy in die jare 80 al daaroor ingelig is? Kan iemand die Babelse verwarring opklaar oor die seuntjie wat na bewering in sy agterlyf geskiet is? Tussen die medeskrywer van die boek, die skrywer van die voorwoord en ‘n kritiese resensent heers oor die nare incident en die identiteit van die slagoffer maar grote onklaarheid. In elk geval: hoe sou selfs Superman so ‘n skoot kon oorleef? Hoekom loop ‘n geneesheer wat dan so ‘n ernstige misdryf teenoor ‘n kind sou toegesmeer het, skotvry tussen sy druiweboorde, en word ‘n matrone wat dan omkoopgeld sou ontvang het om haar mond te hou, nie geskraap nie? Hoekom stel Chris Steyn haar nie eenvoudig net, soos genl. Johan van der Merwe, beskikbaar vir ‘n leunverklikkertoets ten einde haar geloofwaardigheid te beskerm nie, in plaas daarvan om uittartend te vra dat sy verkeerd bewys moet word? As ek nie vir myself ‘n plafon gestel het, sou daar beslis ook ‘n vraag of wat aan die adres van die uitgewery Tafelberg en die media gewees het. As die nuwe etiek is om eers gerugte te publiseer en dan getuienis te loop soek, is elke mens mos weerloos.
Ten slotte: omdat in die onheuglike sage soveel naamloses gefigureer het, sou ek my brief onder die skuilnaam “Mnr. Z” wou skryf!
コメント