Mev. Skoon Melkbos by haar Honoris. Drie ander eerbewyse hang in die De Kocks se huis in Flamingostraat.
As ‘n motor se flikkerligte skielik begin flits sonder ‘n afdraai in sig, wonder jy: wat’s fout? As die motor dadelik van die pad trek en op die geel sperstreep stilhou, hoop jy maar dis iets soos ‘n selfoonoproep – niks ernstigs nie.
Dit gebeur nou die dag voor my in Otto du Plessisstraat, Melkbos. Ek herken dadelik die wit Mercedes. Dit behoort aan Chan de Kock. Maar dis nie hy agter die stuur nie, dis Blanché, sy vrou wat herstel van ‘n rugoperasie. Sy loop nog maar sukkel-sukkel.
Ek skrik – dalk keil die arme vrou se rug haar op – maar is sommer dadelik ook vies vir haar. Goeiste, waar ry die vroumens rond? Sy hoort nog die huis. Nog beter: plat op haar rug op ‘n harde bed!
Ek bring die Honda ook tot stilstand om ridderlik te gaan navraag doen wat skort en, indien nodig, ‘n ondersteunende arm aan te bied.
Toe bemerk ek in my truspieël die aktiwiteit langs die pad. Dis Blanché, stywe rug en al, besig om stukke plastiek op te tel wat deur ongepoetste morsjorse argeloos by motors se venters uitgesmyt is.
Morsjorse se wegsmyt-plastiek – en dit in haar toestand, bid jou dit aan!
Maar eintlik moet dit my nie verras het nie – dis dan presies waarvoor ons in 1993 by Probus (‘n klub vir afgetrede beroepsmense en sakelui) vir Blanché ons eerste Honoris-eretoekenning (die enigste tot dusver) gegee het: morsjorse se plastiek en ander gemors.
Aan: Mevrou Skoon Melkbos – die vrou wat ons ou dorpie ‘n skoner, mooier, aangenamer plekkie gemaak het om soggens op wakker te word en saans vir die sonsondergang oor die see te sit en kyk juis deur dit van morsjore se plastiek en dinge te reinig. Sy het later van drie ander instansies vir haar ywerige gemeenskapsdiens eerbewyse ontvang.
‘n Stuk of tien, twaalf jaar al pak Blanché en haar span Donderdae die dorp se besigste strate en die breë kilometers-lange strande met die golwende duine, gewapen met plastieksakke. As hulle klaar is, ken jy die wêreld nie.
Voor hierdie toegewyde, fluks vrou en haar arbeidsame “assistente” op die toneel gekom het, moes ‘n mens soms maar op jou tande byt oor die toestand van Melkbos se strande. Ek onthou hoe ek en swaer Fanie van Wyk een oggend deur die opdrifsels moes trippe, trappe, trone, en my lam verduideliking dat dit nie altyd so is nie; slegs wanneer matrose hul plastieksakke vol rommel oor hul skepe se dekke in die see stort voordat hulle Tafelbaai binnevaar.
Later het ek gehoor daardie storie is nie honderd persent in die kol nie. Dis maar die seestrome wat hierlangs só maal wat die strand dermate bemors. Hoe ook al, dit was ‘n bron van verleentheid vir ‘n Melkbosser as jy saam met besoekers so deur die hope onsierlikhede moes koers kry wanneer jy met die uitsig op Tafelberg wil spog.
Toe span Blanché en ds. Stefan van Heerden, gewese Melkbos-NGK-leraar, saam. Uit Melkbos se gemeenskap kom dadelik ondersteuning. Uit ‘n gemeenskappie wat destyds letterlik onder Melkbos se port jacksons gewoon het (hulle het intussen netjiese huisies in die nuwe woonbuurt Olive Grove betrek), word ‘n span saamgestel. Vriende stoot ‘n geldjie vir sop of toebroodjies ná die ure arbeid in son, wind en reën. Die De Kock-Van Heerden-inisiatief se bal rol.
Sedertdien behartig Blanché die volledige logistiek, wat in ‘n stadium ingesluit het die agterna-was van die amptelike uniforms – aanvanklik geel T-hemde. Borge uit die gemeenskap het na vore gekom, o.m. die eiendomsgroep Rawson, en die Lotto dra sy deeltjie om die boeke te laat klop. Blanché se Bybelstudiegroep maak beurte om die mae te vul.
‘n Vername rat in die wiel is Chan se donkerblou Bantam-bakkie waarmee sy die spanne rondkarwei (jare lank boonop op sy petrol!). Hyself, ‘n senior oud-amptenaar van die Reserwebank, spring nie vry nie. As jy met Blanché getroud is, is jy altyd op roep, moes hy gou leer. Sy “Skattie” sorg daarvoor dat hy ook nie verveeld raak van sit en wag nie!
Die munisipaliteit se samewerking is teen wil en dank ingekatrol met die verskaffing van plastieksakke en dies meer. Só, met al die hupstootjies uit ‘n verskeidenheid bronne, kon die projek deur goeie en slegte tye oorleef. Op die oomblik is dit ‘n goed gevestigde gemeenskapsprojek, wat voordele na weerskante inhou. Een groep pluk die vrugte van die skoner dorp, die ander van ‘n gereelde geldjie – party se enigste van die week.
As jy tot hiertoe gelees het, weet dan dat ek nie om dowe neute skryf nie. Ek wil hê jy moet so geïnspireerd wees dat jy net wil help – al sou dit net wees om self die rug te buig en ‘n stukkie gemors van die grond tot in ‘n drom te verskuif. Moet net nie anderpad kyk nie. Laat weet gerus as jy lus het om op enige wyse betrokke te raak. Ek sal die boodskappe by die regte adres besorg. Dan doen ek darem ook iets vrugbaar!
(Blanché is ‘n Vrystater meld ek graag. Kom van Smithfield se wêreld. Mens, jy sal nie glo hoe praat sy Sotho nie. Soos ‘n boorling. Een keer het haar vlotheid in daardie beeldende Afriktaal haar niks in die sak gebring nie. Dit was die aand toe gewapende rowers hulle langs die vleisbraaivuur aankeer in die ommuurde tuin van die De Kocks se kinders in Pretoria. Blanché betoog soos ‘n welsprekende advokaat. Geen reaksie, buiten dalk groter irritasie en ongeduld. Later blyk dit sy het met ‘n onbegrypende muur gepraat. Die kwaaddoeners was Mosambiekers of iets, wat dalk gedink het die wit vrou spot met hulle!)
Comments