top of page
  • Uitmelkbos

MET SPOT BED TOE

Om die spot met iemand te dryf, is geregverdigde sosiale kommentaar. Dis dikwels ook deksels doeltreffend as politieke wapen.

Veral spotprentekenaars kan stekies uitdeel wat, tot groot vermaak van koerantlesers, wie of wat ookal die teiken is, dodelik tref.

Een voorbeeld is Zapiro, wie se spotprente (veral oor Jacob Zuma) deesdae só gewild is. Ek kry gedurig op my rekenaar e-posse van die kenmerkende Zapiro-humor.

Kyk, dié man is vrek goed – soos ander andere ook Fred Mouton van Die Burger ‘n uitblinker is.

Soms is die stekies van die ridders van die spotprent subtiel, soms ietwat grof. Persoonlik sou ek, as ‘n gewese redakteur, byvoorbeeld huiwerig gewees het om met my koerant se spotprente op geloofstone te trap.

In Afrikaans bestaan immers ‘n minder bekende spreekwoord wat lui: Met spot gaan jy na bed. Dit beteken eenvoudig: Dit waarmee jy spot, kan jou dalk tref.

Dit kan, met ander woorde, sleg boemerang.

Dit is daardie boemerang-risiko waarop nie alle spotdrywers, volgens hierdie ou gryse, altyd voldoende ag slaan nie.

Kom ons los maar die Zapiro-Moslem-debat, en fokus op ’n ander vorm van spot wat deesdae uiters populêr is. Ek verwys na prentjies en dinge wat e-pos-korrespondente vir mekaar heen en weer flits.

Een wat in die jongste tyd vier of vyf keer op my skerm opgeduik het, is oor Bafana-Bafana. Dis konsuis van Suid-Afrika se sokkerspan aan’t oefen op ‘n geheime oefenterrein.

In werklikheid is dit ‘n foto van ‘n trop bobbejane (rêrige, harige sekelsterte) in formasie in die veld.

Op die redes sal ek liefs nie nou ingaan nie, maar verwysings na Adoons is in sekere kulture rede tot groot aanstoot, soos ons al in die Parlement ook beleef het. Ek dink daarom dis onsensitief en uittartend om die Bafanas as bobbejane uit te beeld, en voel ongemaklik as sulke uitbeeldings op my skerm oopgaan.

Sou die verspreiders nie daaraan dink nie dat hul “grappies” onvermydelik ook ‘n wyer gehoor sal bereik – spesifiek uit daardie kultuurgroepe by wie dit as geweldig vernederend beleef kan word, of gee hulle doodeenvoudig nie om nie?

Omdat ek die mense wat vir my e-pos stuur as my vriende ag (meesal) verkies ek om te glo hulle is nie kwaadwillig nie, net onnadenkend.

Asseblief, laat ons tog maar twee keer dink hoe dit kan boemerang as ons blindelings op brose verhoudinge bly trap.

Moenie dat ons “met spot bed toe gaan nie”.

Dit geld ook nie net spot nie. In die laaste paar dae het ek ‘n e-pos gekry wat, met waardering, die positiewe uitsprake oor Botha, Hertzog en Smuts, grondleggers van die Unie van Suid-Afrika, deur ‘n swart vryskutskrywer, Meshack Mabogoane, in die koerant Business Day sirkuleer.

Die opskrif is … wag daarvoor …: “ They’re not all stupid, greedy and corrupt.”

Goeie aarde, dis mos rou rassisme op die omgekeerde Malema-patroon. Op hoeveel skerms is daardie opskrif nie met diepe ontsteltenis en wrewel gelees nie?

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Kommentare


bottom of page