Diva, deur Isa Konrad. Resensie: Melt Myburgh. (Boeke24) Melt Myburgh vertel van die groot plesier wat hierdie boek hom gebring het (met voorbehoude), maar hy sorg self vir ‘n paar mooi oomblikke. Die eerste is waar hy beskryf hoe ’n speurder sy eie integriteit onder verdenking gebring het: “Hy het sy naam met ‘n plank geslaan …” Heerlik! Ook sy beskrywing van die ontknoping wat die grense van die verbeelding verras.
Nuwe Stemme 5, saamgestel deur Heilna du Plooy en Loftus Marais. Resensie: Marius Crous (Boeke24) “Soos ‘n wafferse Simon Cowell het ek nou almal aangetree en oor almal iets positiefs of iets tot stigting en lering genoem.” Marius Crous het die beste manier gevind om ‘n bloemlesing soos Nuwe Stemme te benader. Kort en kragtig en almal kry ‘n beurt. Baie nuttig ook om byderhand te hê wanneer jy die gedigte lees. Die betrokke digters sal waarskynlik voel dat Crous by elkeen meer kon uitgewei het. Miskien wel. Maar dán sou veel minder lesers die resensie klaargelees het. Die krag van hierdie resensie lê in sy bondigheid.
Veronica – die kleur van liefde, deur Alita Steenkamp. Resensie: Riette Rust. (Boeke24) Met ‘n werk soos hierdie, waar ‘n précis van die verhaal dit maklik reduseer tot ‘n versameling clichés, is dit meer billik teenoor die skrywer om ‘n effe meer filosofiese, kwasi-akademiese benadering te kies. Hou jou lyf sosioloog. Ná hierdie resensie is dit nie nodig om die boek ook te lees nie.
Comments