top of page
  • Uitmelkbos

MET MIDDERNAG ….


 Sou die gebruik iewers nog bestaan dat die name van elke sterfgeval in die jaar by ‘n middernagdiens somber van die kansel genoem word?  Dan kom die hartseer naastes in hul banke orent in bewoë oomblikke van tedere herinnering. Ek dink daaraan toe ons gister op Melkbos uit die kerk stap ná die gedenkdiens vir Anneline Jacobs wie se mooi begrafnisbrief (ontwerp deur die kunstige Hildegard Martin) hierbo afgebeeld word.

 In ons ou gemeenskappie sou daardie lys vanjaar lank raak.  Die Bybelse woord oor “70 jaar en as jy baie sterk is 80” voel ons terdeë aan ons lyf. As ek effens verder terugdink – Tokkie berispe my daaroor  – dwing ek om op my vingers die sterftes sedert my 70ste verjaardag-ontbyt twee jaar gelede te tel. Anneline is die vyfde vrou wat daar was, wat nou langboompies toe is. Van die mans is “net” twee heen. Maar sewe vriende in twee jaar – dis ‘n klomp.

 Weer Tokkie aan die woord: “Onthou dit was jou 70ste, nie jou 40ste nie!”  Geen kommentaar.

 Maar laat ek nie te somber raak so aan die vooraand van die Oujaar nie.  Vir ‘n balanserende glimlag hier weer ‘n Oujaarstorie wat ek o.m. in “Praat-praat in Tamatiestraat” vertel – van ou Murphy se bydrae tot ‘n nagmaalsdiens in ‘n Kaapse NG gemeente enkele jare gelede.    

 Murphy van Murphy se Wet, natuurlik. ‘n Wet wat al baie lank die ou mensdom beteister.  Rondom 1870 het die volgende versie in ’n Amerikaanse koerant in die deelstaatOhioverskyn: I never had a slice of bread/ particularly large and wide/ that did not fall upon the floor/ and always on the buttered side.

 As ’n sny brood val, val dit altyd op die gesmeerde kant –skitterend.  In daardie gemeente het die brood nie op die gesmeerde kant geval nie. Brood, watter brood?  Die broodlose nagmaalstafel was as ‘t ware gedek vir ’n beduidende dilemma.  

 Die moedswillige Murphy het uit die staanspoor geknor. Die koster was met verlof. Die leraar moes instaan. Dié vergeet die kerk se sleutels by die huis, en die pastoriemoeder kom lewer dit met skreeuende bande af.

 Krisis nommer twee is dat die orrelis ook weens onvoorsiene om­standighede afwesig is. Die herder cum koster moet moue oprol.   Hy sing toe ’n solo, want die musiek en woorde het nie op die skerm verskyn nie.

 Krisis nommer drie is veral uitdagend. Toe die nagmaaltafel se net sorgvuldig opgevou word, kom die ontdekking:  o jittetjie, waar is die brood?  Die beteuterde leraar het amper gepleit: “Kanons maar so sonder brood voortgaan?” “Nee,” skud nege nagmaalgangers heftig die kop; nie sonder brood nie.

 “Cometh the hour cometh the man.” ’n Ouderling vloog weg na die Engen-vulstasie om die nodige te gaan koop, terwyl die gemeente sing en die Here prys. Murphy reis saam . By die vulstasie word die gesant die ge­tuie van ’n diefstal. Dit verg tyd en oorredingsvermoë om hom weens van die misdaadtoneel los te skeur.

 Hy daag swetend by die kerk op met ’n plastieksak in die hand. Die waardige geleentheid kan volgens die formulier voortgaan. Maar wat kom uit die konsistorie? Nie brokkies nagmaalbrood nie; net een bord met hompe “chelsea buns”.  Die gemeente moes maar dié taai brood moedig inwurg terwyl hulle in wroegende stilte verlang na ’n ekstra slukkie wyn….

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

コメント


bottom of page