top of page
  • Uitmelkbos

MET BLINDHEID GESLAAN

‘n Massiewe ineenstorting van veiligheidstelsels sou nodig gewees het vir ‘n sensitiewe geheim oor ‘n sleutelminister se private lewe om dekades lank geheim te bly.

Dink mense werklik dat PW Botha en Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie, nie presies geweet het wat in die private lewe van vername kabinetslede aangegaan het nie? En dat selfs polisie-ondersoeke eenvoudig doodgesmoor sou kon word sonder dat enige kennis daarvan boontoe uitlek?

Is dit moontlik dat ook militệre intelligensie deel van ’n doodswyg-komplot kon wees ondanks die klaarblyklike veiligheidsrisiko’s van sulke nagtelike avontuurtjies soos in die boek “Seuns van Bird-eiland” beskryf en deur die geheimsinnige Mnr. X in ‘n latere klandestiene onderhoud beweer word? Sou die staatsveiligheidsraad sulke aktiwiteite maar handjies-gevou geduld het?

Vincent Torlage, gewese lyfwag van min. Magnus Malan wat 16 jaar lank in teen-intelligensie gewerk het, wys in ‘n Facebook-inskrywing tereg uit hoe veral ‘n minister van verediging hom met sulke gevaarlike speletjies aan afpersing sou blootstel. Dit kon tot iets erger as die Profumoskandaal uitkring.

Torlage skryf: “As daar soliede getuienis was, sou ons dit ondersoek het. Die minister sou op spesiale verlof geplaas word hangende ‘n volledige ondersoek. Selfs gerugte sou tot ‘n ondersoek lei. Dit sou onmoontlik gewees het om dit toe te smeer.”

Hy wys voorts op hoe deeglik die minister opgepas is. Hy is nooit iewers heen sonder sy lyfwagte nie. Selfs met vakansies is die lyfwagte saam. Ook kerk toe het Torlage hom vergesel. Hoe sou hy dan so doodstil in die nagtelike ure kon verdwyn om onbehoorlike dade te gaan pleeg – en selfs daarna stil-stil in ‘n geheime nessie ‘n lekker ontbyt wegsit, aldus Mnr. X?

Volgens die gewraakte “onthullings” van die skrywers Chris Steyn (gewese eggenoot van die huursoldaat Eeben Barlow), voorheen bekend as Christa Steyn en Chris Steyn-Barlow, en Mark Minnie. ‘n afgedankte polisieman met ‘n skimmelrige loopbaan, was die kring van mense wat geweet het of behoort te geweet het, nogal aansienlik. Helikopters het tog bemannings. Die polisie en speurdiens het gesagsvlakke. Hospitale het verpleeg- en administratiewe personeel. Chirurge het ontvangsdames, ens.

Moet ons werklik glo dat van die president en nasionale intelligensie se kantore op makrovlak af deur elke ander vlak tot selfs by huishoudings wat moes sorg vir kos, beddegoed, handdoeke en dies meer, almal met blindheid geslaan was vir wat om hulle aangaan of hulle opsetlik daarvoor blind gehou het?

Wat sou die rede gewees het?

Daarmee, vir nou, my laaste woord oor die reuse-onreg wat Magnus Malan en sy familie so argeloos aangedoen word.

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page