top of page
  • Uitmelkbos

MENTORS EN TORMENTORS


 Ons sou ‘n skaflike koerantjie kon aanmekaartimmer, die 20-stuks oud-Volksbladders van alle generasies wat Johan van Wyk se debuut-blitsverkoper, “So was dit”, Saterdag formeel te water gelaat het.

Die geleentheid was by die klubhuis van die gholflandgoed Greenway in die Strand, met sy lekker kuierstoep en prag-uitsig op  ‘n strepie blou see teen die agtergrond.  Jy kon jou verbeel jy is op ‘n skip se dek.    Op daardie einste stoep/dek  het in heerlike windstil herfsweer ‘n hele feestelikheid hom afgespeel: koue wyn, keurige eethappies en tydoorbruggende samesyn met kollegas wat kuier-kuier rondbeweeg, gretig om met almal ‘n geselsie in te kry. 

 Die veterane was Wiets Beukes, latere redakteur van Die Burger, en Nancy Oosthuysen.  Hulle kom uit die geslag van 50. Wiets was die eerste Volksblad-gesig wat ek gesien het toe ek einde 1958 vir vakansiewerk in Bloemfontein opdaag.  Ons het albei in Sewende Laan (regtig) geloseer.  Hy het my lief gemaak vir Dvorak se Nuwe Wêreldsimfonie. 

 Wiets en Johan se Volksblad-kameraderie strek uit die 60’s, toe ook my en Johan se paaie gekruis het. En my en Ben van Rensburg s’n.  Ek en Ben was woonstelmaats in La Gratitude in 1965. Hy het my lief gemaak vir portwyn en Edith Piaf. Ook Ben en Rina (Koen) s’e paaie – as kollegas.  Amper 50 jaar later het hulle mekaar aansienlik beter leer – as huweliksmaats.

 Die kollegiale koppelings was velerlei en pikant. Wiets het byvoorbeeld vir Tobie Wiese, samesteller van die boek, by Die Volksblad aangestel. (Tobie en Johan is, soos sommige weet, biker-bloedbroers, ‘n stukkie kennis wat Wiets Saterdag eers hande-saamslanend te wete gekom het.)   

 Die Volksblad (nou net Volksblad) het die onderskeiding dat 60 van sy redaksielede iets soos 600 boeke gepubliseer het. Van daardie 60 was minstens ‘n halfdosyn teenwoordig. Onder hulle was Wiets die baanbreker met “En kyk ‘n wit perd” in die 60’s. Daardie boek was waarlik politiek profeties!  Die veel bekroonde Deon Meyer (nou ook gedugte fliekmaker) is verreweg die vrugbaarste.   In Johan se sleurstroom kom nog ‘n debutant, Rudie van Rensburg, met ‘n spanningsroman, “Slagyster”.

 Hy sit nogal ‘n soort Volksblad-tradisie voort.  Hy volg in die voetspore van voorste spanningskrywers soos die nimlike Deon, asook Chris Karsten en Chris Moolman (wat nie teenwoordig was nie).  Weet nie of dit die Volksblad-ervaring is wat hulle in daardie rigting geslyp het nie!

 Buiten Ben was ‘n derde Van Rensburg by die okkasie, Philip.  Vir hom het ek by Die Volksblad as verslaggewer aanbeveel terwyl ek in die jare 70 by Beeld was. Later, toe ek redakteur was, het ek hom as nuusredakteur aangestel.  Hy boer nou in Afrika as advertensie-ghoeroe. Ons is Sabiepark-vriende.   

 Johan het my in sy toesprakie sy “mentor en tormentor” genoem. Maar vinnig (en tereg) bygevoeg dat hy myne ook was. Wens iemand kon die voortspruitende spontane omhelsing van die twee ou maters afneem. Dit was nogal ‘n dag van “mentors en tormentors”. Toe ek die altyd-glimlaggende Tom Ferreira so aan sy wyntjie sien teug, moes ek ook glimlag. Kon nie help om te onthou nie hoe hy in ‘n kostelike TV-rubriek destyds die arme Edwill van Aarde se siel versondig het. Tom, knap nuusredakteur en top-humorskrywer, moes nooit vir die joernalistiek verlore geraak het nie. 

 Maar die arme joernalistiek is maar gedurig die slagoffer van pynlike verliese.   Soos ook Pieter Cronjé, Kaapstad se “Mnr. Wêreldbeker” van 2010.  Pieter was op krukke weens ‘n enkelbesering, maar dis darem nie  sokker se skuld nie!

 Op die gevaar af dat ek iemand se naam uitlos (op 72 raak die kop soms maar suf) rapporteer ek graag dat die Volksbladspan van Saterdag ook nog ingesluit het: Emile Terblanche, JP Nel, Mariëtte Immelman, Gert Myburgh, Sakkie Malherbe, Jan Bezuidenhout en Nissa Voloo.  Toekie Oberholzer was weens bronchitis afwesig. Van hulle is nou nog joernaliste.  Verskeie by Landbouweekblad. Mooi so, julle vasbyters!

Johan se ander gaste, familie, vriende, bikermaats en wat nog, het van oral gekom: per vliegtuig, op hul ysterperde, party selfs te voet. Laasgenoemde is diegene wat, soos Johan en Zandra, ‘n Greenway-adres het. Calvinia was, soos te wagte kon wees, goed verteenwoordig.  Dan was daar Annie Olivier, die uitgewer – deur Johan op sy sjarmante, romantiese manier Mooi Annie gedoop, en nie onverdiend nie, hoor.  Annie het haar ma, Hettie, saamgebring.  Ek dag dis haar suster.

 Boeke is inderdaad opgeraap soos vars, warm plaasbrood met dik botter en vyjêm by ‘n boerebasaar – die lekkerste jêm.  Party “groot kopers” is met stapels daar uit. Skitterende geskenke vir dese en gene! Ek het die beskeie Johan vooraf gewaarsku hy wil te min boeke saambring. Hy was skepties. I have not always been wrong.  Gelukkig het hy in ‘n ander opsig tog vir my geluister en ‘n klompie klaar geteken.  Anders het sy vingers sweerlik skrywerskramp gekry!

 Sowieso: Só was dit dan Saterdag by die buiging van “So was dit”. 

(HvD se “feesrede” by die okkasie verskyn volledig in die vorige blog.)

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Σχόλια


bottom of page