‘n Familielid vir wie ek baie lief was, is so twee weke gelede dood. Hy was 37. Ek het deur donderwolke Johannesburg binnegevlieg na sy begrafnis. Gister, met die kerse op my seuntjie se verjaardagkoek, het ek teruggedink aan die ligflitse in die oorkantste wolke wat ek vanuit die vliegtuig kon sien. Terwyl my kind die kerse doodblaas, het ek vir die eerste keer in my lewe die woorde van Macbeth verstaan: “Out out brief candle …”
(“Life’s but a walking shadow, a poor player That struts and frets his hour upon the stage And then is heard no more …”)
En vanoggend, toe ek teenoor die vrou wat soms hier ons kantoor se vloere kom was, mompel of ons dan die enigste mense is wat op Menseregtedag werk, vertel sy my weer ‘n ander storie. Van die mense hier anderkant wie se wasgoed sy was en wat haar nooit betaal nie. Nee, sê ek vir haar. Dit kan mos nie. Sê vir hulle hul moet jou betaal. Sy trek haar skouers op.
Die universele handves van menseregte stry ‘n bietjie met Shakespeare. Hulle sit die dertig basiese menseregte uiteen. Veral het elke mens op aarde die reg op lewe. En hoe die lewe ingekleur word, is ook ander mense se verantwoordelikheid. Ons leef nie meer in die feodale tye nie, so mense kan nie van ander mense verwag om vir hulle te werk in ruil daarvoor dat hulle slegs op hulle grond bly nie. Ahem! Laat hierdie my nou dink aan onlangse plaaswerkeropstande hier in die Kaap …
Of aan die vrou wat vandag net haar skouers optrek omdat sy weet dit gaan niks help om vir die mense te gaan vra om haar die geld te gee wat hulle haar skuld nie.
Ek kan niks meer doen aan die lot van die afgestorwene na wie ek hierbo verwys nie. Wat hom betref, is daar by my net ‘n gevoel van verlies. Wat betref ander mense saam met wie ons die aarde deel, bly die woorde van Shakespeare my vandag by. En ook iets van Plato: Be kind, for everyone you meet is fighting a hard battle.
Wat beteken die handves van menseregte vir enigeen van ons wat toegang het tot ‘n rekenaar, internet, lopende water, elektrisiteit … Mooi woorde. Maar hoe afdwingbaar is dit regtig vir iemand wat dit nodig het, omdat hy eintlik net sy skouers optrek teen alledaagse ongeregtigheid wat teen hom gepleeg word?
Shakespeare is méér reg as die handves van menseregte, dink ek. Alledaagse ongeregtigheid vind teen almal van ons plaas en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Daar bestaan nie iets soos ‘n reg op lewe nie. As daar nou een ding is wat seker is op Menseregtedag vanjaar, is dit hierdie feit. Niemand van ons het ‘n sê oor hoe lank ons sal leef nie.
Maar ons hét ‘n sê oor hoe ons leef.
Groete, Naomi M
Comments