top of page
  • Uitmelkbos

MELKBOS KRY ‘N POSKANTOOR


In die netjiese gebou op die foto, een van Melkbos se nuweres, was aanvanklik ‘n oulike koffieplekkie (wat gevou het) en ‘n videowinkel (wat nie veel langer as sy buurman gehou het nie). Nou huisves die gebou met die groot glasruite (soos ‘n KFC-winkel) ‘n eiendomsagentskap en die poskantoor.


Tot drie maande gelede was hier nie ‘n volwaardige poskantoor op ons dorp nie – net ‘n sogenaamde agentskap. Die het bestaan uit ‘n toonbankie in die hoek van ‘n gesellige ouwêreldse skryfbehoeftewinkel. Toue daar kon soms nogal lank raak, maar die atmosfeer was aangenaam. Niemand het ongeduldig of gefrustreerd geraak nie.


Ons Melkbossers het gehou van ons poskantoortjie soos hy is, en van die gawe, hulpvaardige mense wat altyd ‘n woordjie oor die weer ingekry het as jy ‘n pakkie kom wegstuur of ‘n brief registreer.


Toe besluit ‘n beleidmaker hoër op in die SA Poskantoor (“Whe deliver, whatever it takes”) ons dorpie het opgradering nodig. Melkbosstrand se poskantoor (poskode 7440/7441) skuif oor Sesde Laan uit Lynn Green se karaktervolle winkel tot die gebou wat jy voorheen besoek het vir ‘n koppie koffie of om ‘n video uit te neem.


Gerieflik ruim en alles. Een ongeluk: vir die eerste weke was die rekenaar nie gekoppel nie. Vir enige besigheid wat effens meer gekompliseerd is as om ‘n pakkie seëls te koop, moes jy Big Bay of Table View toe, minstens vyftien kilometer ver, met die gevolglike bykomende koste, om van tyd en beslommernis nie te praat nie.


“Hou moed, hou moed,” het die opgeruimde poskantoorman jou verseker – maar sy verleentheid was dag na dag sigbaarder oor die rekenaar wat met ‘n donker, dooie oog daar staan.


Die eerste keer toe ek instap en die rekenaar werk, was ‘n blye dag. Die poskantoorman was duidelik gelukkig, en ek was so meegevoer deur sy verandering in luim dat ek spyt was ek het nie n pakkie om iewers heen te stuur nie as ‘n soort simboliese bevestiging dat ons ou dorpie, wat poskantoorsake betref, uiteindelik geärriveer het.


‘n Dag of wat gelede week stap ek weer by die poskantoor in, hierdie keer inderdaad met ‘n pakkie onder die arm.


“Ai, meneer,” sug die poskantoorman beteuterd.


Ek sien dadelik die groot waaier in die middel van die vloer is morsdood. Die ligte brand nie.


‘n Kopknik bevestig my naarste vermoede. Ook die rekenaar is weer donker en dood. Ek sal maar moet Big Bay of Table View toe.


Moontlike oorsake van die nuwe penarie word bespreek, en die teorie word geopper dat die SA Poskantoor moontlik nie sy kragrekening betaal het nie. Dis nogal snaaks. Die klandisie grinnik, en die poskantoorman grinnik maar verleë saam.


Op pad terug van Big Bay af gaan loer ek weer in om simpatie te betoon. Die waaier woer-woer weer, die ligte brand en die rekenaar se skerm flikker. Melkbos se poskantoor is terug in besigheid.


Die rekening-teorie was toe nie korrek nie. Wat wel in die geskarrel ontdek is, is dat daardie winkel om die een of ander rede nie munisipale kragvoer kry soos sy bure nie. Dis afhanklik van ‘n kragboksie – daardie kontrepsie-dingetjie teen die muur waarin jy krag laai wat jy vooraf by Pick n Pay of n vulstasie koop.


“Ek het n bestuurder uit ‘n vergadering laat haal,” rapporteer die poskantoorman ingenome oor sy vinnige hantering van die probleem.


Vir sy flinkheid verdien hy ‘n klop op die skouer. Maar ons arme Melkbossers stap steeds bra benieud daardie stoeptrappies op poskantoor toe. ‘n Mens weet nooit wat binne wag nie.


Dan kyk ons verlangend oor die straat, na ons agentskappie waar die rekenaar net gaan staan het as Eskom teenspoed kry. En dan is ons onseker of dit inderdaad ‘n stap vorentoe is dat ons nou so voor in die koor is om ons eie poskantoor hier te hê.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page