top of page
  • Uitmelkbos

MELK EN HEUNING

Dis die lang somervakansie en onse dorpie bars uit sy nate.  Op die strand, by winkels en in die kerk is dit nuwe strandsambrele, vreemde registrasienommers en onbekende gesigte. Toe dr. Marius Falck by die Kersdiens besoekers vra om hande op te steek, skrik ek effens. Sal nie verbaas wees nie as die “vreemdelinge aan ons poorte” in die meerderheid was.

 Hoop die besoekers geniet die lang strandwandelinge, die  goue skemers, die  skilderkwas-sonsondergange, Tafelberg doer voor in sy vele stemminge, en die lekker seekos by Orca in Kusweg – as hulle plek kan kry by die onopgesmukte eetplek wat vir baie Kapenaars sinoniem met Melkbos is. Die porsies is gul soos Melkbossers se gasvryheid.

 Hoop hulle ontdek ook die lekker geplaveide wandelpaadjie langs die see doer van Land’s End af verby die ou Kliphuis-restaurant (nou Castella Amare) en die NSRI. Ook lekker rotspoeletjies daar waar kinders vir ure kan speel en klouter.

 Hoop hulle ry die kuspad Blouberg toe en verken die bekoorlike baaitjies een vir een: Holbaai, Kreefbaai, Eerstesteen ….  Plekke om rustig te sit en droom terwyl die branders aanrol.

 Hoop hulle ry ook ‘n bietjie noordwaarts, loer by Ganzekraal in (in vakansietye ongelukkig ietwat oorbevolk) en die karaktervolle vakansiedorp Yzerfontein.  Langebaan is sowat 100 km ver – ‘n moeitewerd-mekka met sy reuse-strandmeer. Voor Langebaan lê die Weskuspark met sy gesellige braaiplekke, amper onherbergsame kustonele en groot troppe bokke. As die elande in die fynbos verbykom, is dit ‘n treffende gesig, hoor.

 Hopelik sal Melkbos-besoekers ontdek hoe op hul drumpel die eersteklas-wyne en wonderlike kelders van Durbanville-wynroete wag om ontdek te word. Meerendal op die Vissershokpad is ‘n persoonlike gunsteling. Nitida se restaurant lok smulpape. Die moderne Durbanville Hills se uitsigte is voortreflik.  

 Vir uitsigte: Probeer gerus ook Grootbaai se Spur en Cape Fish Market. Lyk of Tafelberg oor die baai al hoe nader skuif terwyl jy jou geelbek of T-been geniet. Haal sommer die MyCitibus daarheen – jy kry die panoramas van berg en see op die koop toe. By die Moyarestaurant op die voorstrand by Eden On The Bay kan jy voete in die water ‘n melkskommel wegsit. Aan die fraaie Kleinbaai, ‘n klein entjie aan,  kry jy die immer gewilde Ons Huisie. Peusel sy beroemde calamari terwyl jy onder ‘n strandsambreel ‘n koue sauvignon blanc van hierdie kontrei op die tong neem …   

 Vir ‘n smaaklike, outydse ontbyt is Philadelphia se Pepper Tree ‘n prima-keuse. Die dorpie, net 17 km van Melkbos op die pad na Malmesbury (N7), raak ‘n regte toeristetrekpleister met sy knusse winkeltjies en allerlei. Die historiese ou kerk is ‘n besienswaardigheid (soos Mamre se orrel, vir diegene wat in sulke dinge behae het).   

 Nog nader is die Padstal by die Total-dienssstasie op die Weskuspad (R27). Vele verrassings op jou voorstoep – onder meer die varsste plaasbrood warm uit die oond.

 Ek (wat natuurlik bevooroordeeld is) glo jy kan op Melkbos en omgewing so lekker kuier dat die Kaap self maar aan sy eie hordes oorgelaat kan word. Maar as jy opsluit wil soontoe, luister na hierdie ou en trakteer jouself op ‘n kanaalvaart van KIKS (die Kaapse Konferensiesentrum) af na Sol se One & Only-hotel aan die Waterfront (teenaan die Akwarium). Dis ‘n onontdekte heerlikheid tussen duur waterfront-woonstelle verby. Hou dop vir die super-seiljagte as jy by jou bestemming kom.  

 By die Waterfront is die nuwe in-plek die Grand Café met sy tafels, stoele en selfs sagte rusbanke op die wit seesand. As jy nie LANK vooruit bespreek het nie, kan jy maar net gaan loer hoe die mense met die dik beursies kuier …. En dan dankbaar terugkeer na Melkbos se rustigheid.

 Vir die herlaai van geestelike batterye staan die NGK Melkbos se deure oop.  In vakansietye is Sondag net een erediens, om 09:30. Die Oujaarsaand-diens is om 19:00. As jy dominee  Marius een keer hoor sing het, vergeet jy nie sy stem nie.  

 Te veel vir een vakansie? Nou-ja. Kom dan maar weer!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page