Dat die vere tog wel in ‘n sekere sin die voël maak, was in die ou dae nogal ‘n klerenorm. Eksentrisiteit in aantrek is nie juis aangemoedig nie. Deesdae ruk by ‘n formele aandgeleentheid mans op met aandpakke en mans met blink bont Afrika-syhemde wat oor die broek hang. Party vroue se waaghalsigheid (nie net t.o.v. halslyn nie) gee jou skoon jakopeweroë.
My eie oë het al uitgepeul by ‘n jeugdiens toe die diaken oorbuig om die kollektesakkie te oorhandig. Ek was gereed om te vang wat val! By dieselfde kerk het ‘n dame wat graag haar eie ding doen, op ‘n Kersoggend met ‘n pelsjassie en visnetkouse opgedraf.
A wel, modes verander. Dit is geen nuwe ding nie. Tog wel is relatiewe eenvormigheid in ‘n stadium so nagestreef dat jy “uit” gevoel het as jy “verkeerd aangetrek” is. Dit het ook vir stranddrag gegeld.
Sarel Venter van Bloemfontein – hy word nou wat koerante ‘n gereelde medewerker noem – laat weet my verwysing na die swembroekie uit ‘n meelsakkie (vorige blog) laat hom aan ‘n storie dink wat die kultuurman Oom Gannie Viljoen glo vertel het.
Hy en Oom Barnie Human, motormagnaat, was groot vriende. Een somer is die Viljoens toe na die Humans se strandhuis op Ramsgate. (Ek en Tokkie was selwers ook al daar in die kothuis as gaste van die Humans.) Elke oggend op ‘n afgesproke tyd kry Barnie en Gannie mekaar iewers buite en stap strand toe. Gannie elke oggend geklee in dieselfde swart of donkerblou swembroekie en Barnie elke oggend in ‘n ander swierige swembroek.
Toe sê Gannie glo aan Barnie: “Jy moet nie dink hierdie is my enigste swembroek nie, ek het nog ses wat presies so lyk; een vir elke dag van die week.”
Herinner my op my beurt aan my paar hemelsbou lang kouse wat ek in standard nege rond gekoop het met my verdienste as Volkies se korrespondent vir die SAUK-jeugprogram “Ons Roep Die Jeug”. My blou kouse was van die bas in die was en dan dadelik terug aan die bas. Joe, jy moet baie blou sokkies hê, het van die meisies opgemerk. Ek het hulle nie reggehelp nie.
Oor mooi aantrek bestaan in die politiek ‘n oorlewering wat glo taamlik waar is. ‘n Agbare minister van die jare 50 was bekend as stylvol uitgevat, maar ook vir sy dwalende oog. Een sekretaresse sê toe vir haar jong kollega: “Ons minister trek darem mooi aan.” Die ander ene, ewe onskuldig: “Ja en so vinnig!”
‘n Storie wat darem seker apokrief moet wees, is van die ou wat alleen kerk toe is – vroutjie had hoofpyn of iets – en terugkom met twee blou oë. “En nou?” Nee, vertel hy, toe hulle opstaan vir die loflied, bemerk hy die tante voor hom se rok sit tussen haar boude vas. Uit pure hulpvaardigheid gee hy dit ‘n plukkie. Sy swaai toe om en klap hom dat hy sterre sien. Hy dag sy verkies haar rok presies net so in die gleufie, en druk dit versigtig terug om die status quo te herstel. Toe klap sy hom weer. Hierdie keer harder.
Dan bestaan die beroemde storie van die meisie wat die bus wou bestyg in haar stywe jannas. Aikona, werk nie. Elke mislukte poging werskaf sy agter haar rug en trek die rits ‘n entjie laer af. Die ou agter haar gee haar later ‘n stootjie onder die boudjies om haar op te help. Woedend sis sy: “Meneer, hoe kan jy sommer aan ‘n wildvreemde so vat?” Hy: “Ekskuus, dametjie, ek dag ons ken mekaar teen die tyd. Jy het al twee keer my rits laat sak!”
Ek lees iewers van die ou wat in ‘n woonstelblok se waskamer instap. Daar staan ‘n blondine in haar geboortepakkie voor die masjiene. Hy skeur sy oë weg. Toe sien hy die (misleidende) nota teen die muur bo die wasmasjien: “Verwyder asseblief al u klere as die rooi liggie doodgaan.” Wetsgehoorsame meisie!
(Snaaks, het in geen jare daaraan gedink nie. Nou onthou ek ‘n advertensie in my kinderdae se “Brandwag” van ‘n welbedeelde meisie in haar bra op ‘n bus. Die opskrif was iets soos: “Ek droom ek ry in ‘n bus in my Maidenform–buustelyfie.” Sal iemand vandag nog twee keer opkyk vir ‘n meisie sans hempie? )
Comments