Amper soos die immergroen koningin Elizabeth wat al ses dekades op haar troon sit, sit ‘n meeu onverstoorbaar op sy troon – ‘n spits rots wat bo al die ander uittroon voor “ons” Buffelsbaaise huise, Kammarus en Kop-bo-water, waar ons al oor vier dekades vakansie hou.
Die “ons” word aangehaal, want dis nie regtig ons huise nie. Ons huur maar net, eers by prof. Bethel Muller van die Kweekskool, Stellenbosch, daarna by prof. Vaatjie du Toit, dekaan van die mediese fakulteit, en na sy afsterwe by die McSeveneys van die Rand.
Nietemin, van die eerste dag dat ons by Kop-bo-Water stilgehou het, sit ‘n meeu op daardie rots. Soms twee. Soms drie. As die rots soms onbemeeu is, kan jy maar weet: dis nie vir lank nie. En as vreemdes kom lol, gee dit huismoles af.
Selfs vir iemand wat van die lewensiklus van meeue so min weet soos ‘n katlagter van saffraan, lyk dit onwaarskynlik dat dit, soos die gryse vorstin van Engeland, vandag nog dieselfde vlees en bloed is as wat ons rondom die 70’s daar aangetref het. Meeue se lewens is maar soos seegras, glo ek. Vandag in sy fleur in die water. More verdor uitgespoel op ‘n barre strand.
Oor die “troonopvolging” sit ek en wonder terwyl ek die huidge bekleder van die pos van Kammarus se ruim dek af sit en dophou – yskoue witwyntjie in die hand, natuurlik, maar darem ‘n “extra light”-enetjie om die inname van kilojoules in toom te probeer hou.
Sou dit soos by die koninklikes ‘n kwessie wees van voorgeskrewe opvolg-prosedures: die oudste nasaat van die oudste nasaat van die oudste nasaat …. ? Sou die knusse plekkie op die rots ‘n vaste bate wees wat staakgewys vererf soos by ‘n intestate boedel (ja, ek onthou iets van my erfreg!)? Sou dit ‘n geval wees van “first come, first served” soos die Ingelse uitdrukking lui? Sou bloedige stryde om heerskappy daar gevoer word?
Maar wat ‘n uitkykpunt met branders wat skuimend aangerol kom en teen die rots breek in boog op boog wat raas en donder soos die waters van die Victoria-waterval!
Terwyl ek my meeue-mymeringe mymer, merk skoondogter Mariza op: “Sou hy nie gatvol raak om dag in en dag uit daar so te sit nie?”
“Nooit,” reageer ek met oortuiging. “Dit is mos ‘n voorreg – sy (haar?) eksklusiewe kolletjie paradys in die grote heelal.”
Hoeveel soorte seemeeue ons kuste patrolleer, op krappe en ander dooie seediertjies aas, en hul kenmerkende ‘kow-kow’ of ‘ki-ok-ki-ok’ roep – die roepe wat die kus help karakter gee – kom ek eers agter toe ek Ian Sinclair se Veldgids raadpleeg. Mense, jy kry arktiese roofmeeue, knopstertroofmeeue, langstertroofmeeue, bruinroofmeeue, suidpoolroofmeeue, haringmeeue, kleinswartrugmeeue, swartrugmeeue (algemeen hier in die Kaap), swartkopmeeue, gryskopmeeue en wat nog.
Die kennis gee my nog iets om oor te wonder. Van watter soort meeu sing Anneli van Rooyen in “Seemeeu” en Rina Hugo in “Soos ‘n seemeeu?” Watter een figureer in daardie voortreflike Duitse lied uit die jare 40 “Mowe, du fliegst in die Heimat” wat Magda Hain altyd so aangrypend gesing het op plate-aande by Volkies in die jare 50?
Daardie lied vol verlange handel oor ‘n Duitse soldaat in die Tweede Wereldoorlog wat ‘n seemeeu sien terugvlieg in die rigting van sy verre vaderland, het ek by daardie groot musiekkenner my wyle kollega Fred Schnetler gehoor.
Skrynend en hartroerend en diep sprekend tot die siel. Seker nie vreemd nie dat die gekrys van ‘n seemeeu my nou nog na my “Buffelsbaaise heimat” laat verlang – en na daardie ou wat, sonskyn of nat en koud, vorstelik die rots voor Kop-bo-Water en Kammarus bewaak.
(Kan ongelukkig nie die huidige bekleder se foto hierby sit nie. Gaan soek hom by www.hennievandeventer.com/hvdblog of op Facebook by Hennie van Deventer. Litnet bly halsstarrig weier om my foto’s te vat – HvD)
Comments