
Martie Retief Meiring., skryfster
van die resensie van “Byl in my bos”,
wat vanoggend op Die Burger se
Boekeblad verskyn het.
Teen die sakkende son sien Hennie van Deventer daar is deeglik in sy bos gekap. Op pad na sy 70ste verjaardag en as voorlopige verjaardagpresent aan homself klee hy elke oopte in die bos in met ’n grafskrif. Dit word ’n omvattende in memoriam van mense wat eens tuiniers was tot mense wat presidente was.
Van Deventer, ’n gesoute koerantman en oudredakteur met 34 jaar se ondervinding, weet hoe om vernuftig die galery van mense wat deur sy leeftyd invloed op hom gehad het, staanplek in sy eie herinneringe te gee.
Nog voor die leser kan stuit teen herinneringe wat net ’n fraksie te yl of ander wat doodgewoon te oninteressant is, verweer die skrywer homself in sy inleiding dat die boek anekdoties is en nêrens na ewewigtigheid en volledigheid gestreef word nie. ’n Jammerte.
Die leser mis die volledigheid plek-plek, want Van Deventer het in sy loopbaan in ’n geskiedkundige tyd wel met vele persoonlikhede in aanraking gekom om tog meer volledig en insigryk oor hulle te kon skryf. Hy is immers ’n bedrewe, gepubliseerde skrywer en het meestal sy eie sieninge en herinneringe al geboekstaaf. Die nuwe leser van sy werk sal wel geprikkel word deur byvoorbeeld sy mening dat hy De Villiers Graaff, destyds ’n anti-regeringsman, eerder as president sou wou sien as die tóé aangestelde Marais Viljoen. Met ’n onbedwonge eerlikheid beskryf hy karakters en insidente wat hy self in sy lewe as ’n gedugte apartheidsondersteuner ontmoet het. Hy verwys ook na sy ontnugtering en (wat in vorige skrywes meer uitdruklik meegedeel is) met apartheid en sy beweeg na meer liberale standpunte wat hom as redakteur van Die Volksblad ook heelwat kritiek ontlok het deur baie van sy lesers.
Die leser sal verstom wees, eerder as krities, oor Van Deventer se grafskrif vir Helen Suzman. Met watter eienaardige eerlikheid kon hy, só ’n bedrewe en stellig gesofistikeerde joernalis, skryf dat Suzman “die eerste vrou was wat ek teengekom het by wie geen onderdanigheid teenoor mans bestaan het (of geveins is) nie”.
Die indruk dat ’n mens met ’n heel verouderde manlike chauvinisme te doen het, word enigsins teengespreek met sy finale woorde: “Dit is die Helen Suzman vir wie ek ná haar afsterwe op die eerste dag van 2009 simbolies ook my eie vlag halfstok laat hang het.” Die feministe sal hom genadig wees. Dis immers bekend dat baie van die veral Nasionaliste-parlementariërs ook vir eers soos Van Deventer gedink het en later ook hul vlag halfstok vir so ’n vrou sou hang, by wyse van spreke.
Sy plesier aan humoristiese insidente helder die bundel geweldig op. Herinneringe aan Verwoerd, John Vorster en PW Botha lewer nie nuwe insigte nie. Wel die joernalis se oog vir die ironie wat soms in die geskiedenis opduik.
Sy braaivuurvriende, sy koerantkollegas, politici en mense wat hy as rykes, slimmes, skones en doodgewones tipeer, kry plek-plek, wel deur anekdotes, ’n innemende lewendigheid. Dit is veral onder sy kollegas dat hy die eksentrisiteite, onnutsigheid en selfs vindingrykheid onthou.
Hieronder tel die al dikwels oorvertelde, weergalose opskrif wat Ronnie King, uitmuntende taaladviseur van onder meer Die Burger in die uiters korrekte taaljare van die sestigs die wêreld ingestuur het: “Ouderling in gat beseer deur latrine”. (Die feite van die storie was korrek: Die ouderling het in die gat geval waarin ’n buitelatrine gebou sou word.) Die bundel is goed versorg. Die foto’s is soos kiekies geplaas. Of dit ’n belangrike bydrae is tot die herinnering aan soms baie bekende mense? Moontlik nie, maar oorwegend is dit leesbaar en gesellig.
GRIFFEL MEDIA EN TARLEHOET, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 213 BLADSYE, ISBN 978-0-620-43653-3.)
Martie Retief Meiring is ’n rubriekskrywer en joernalis.
Comments