top of page
  • Izak de Vries

Martie gryp die handskoen

Ha! Ek het gewens iemand wil die guts hê om my aan te pak oor jeugliteratuur, en niemand anders nie as Martie Preller het die handskoen opgetel, die rapier gelig en geskryf!

Ek gaan meer as een inskrywing afstaan aan haar gedagtes.

Ten eerste: Wat lees tieners? Dis hoe Martie hierdie vraag beantwoord:

Wat lees tieners? Daar was destyds so 'n simposiumding in Pietersburg daaroor. En die bevinding? Tieners lees alles (nes ons). Een kind het dit so mooi gestel - sy het begin lees met die rillers en daardie tyd was sy besig met Lord of the Rings. En natuurlik lees hulle almal Engels ook - vir die gretige leser is daar net eenvoudig nie genoeg Afrikaanse boeke nie. Later was daar nog 'n simposium in die Kaap. Tieners was daar om self te praat. Thomas van der Walt van UNISA het gereël. Tieners lees alles! Na die tyd het ek vir een gevra, toe ek by haar verbyloop, of sy soms soos 'n alien voel? Sy het my so gekyk, geknik en ja geantwoord. Al troos wat ek kon gee, was dat meeste van ons so voel en dat die gevoel nie weggaan nie :) Dit was die een rede hoekom ek soos 'n maniak gelees het as kind. Almal rondom my het gelyk asof hulle presies weet wat hulle doen, behalwe ek! Dus is ek 'n alien :) Maar in boeke was mense wat nes ek gevoel het. Wat ook verward ens ens was. Sjoe - dit was salig om daardie mense te kry. Later het ek tot my ontsteltenis agtergekom dat ander weer dink EK weet wat ek doen - hie hie. Menswees is nie maklik nie. Nie vir sissies nie. :)

Oor die idee van “tienerlektuur” is daar baie gestry.

Elizabeth sê:

Izak, ek stem glad nie saam met die term “tienerlektuur” nie. Dit is volwaardige letterkunde. Ek dink die probleem kom in dat volwassenes wat dit skryf, vandag se tieners se intelligensie en ondervinding onderskat. Om werklik jou te kan indink, en dan te skryf as tienerkarakter, vat baie. En die wat dit wel die beste regkry, is die mense wat eerlik is oor die lewe, sonder om doekies om te draai. Ons wil ons kinders dalk te veel probeer beskerm teen realiteite, maar hulle sien dit tog in hul eie huise. En daarom het hulle, net soos ons, ontspanning ook nodig. Maar op 'n vlak van letterkunde wat nie onderskat moet word nie. Want is die tiener wat lees, nie tog op soek na drome, eiewaardigheid en ontvlugting nie? En bowenal - om dalk 'n antwoord te kry. En hierdie antwoord moet eerlik en realisties wees. Hulle kan nie gefop word nie.

Martie se antwoord hierop is:

"Tienerboeke” is maar net boeke met "jonger" karakters in, ens. Dit word so gebruik vir bemarkingsdoeleindes. As jy vir tieners vra wat hulle van 'n boek dink sal jy soveel verskillende antwoorde kry as wanneer jy vir "grootmense" vra wat hulle dink van 'n boek! Sg. "jeuglektuur" is maar net 'n "genre" want elke ouderdomsfase het sy/haar eie universele menslike uitdagings. Gebeure soos egskeiding sal byvoorbeeld (moontlik) 'n groter impak he op 'n "kind" van 12 as 'n "kind" van 30 wat dalk al eie kinders het. Of nie? Karakters kom maar almal êrens vandaan nes ons. Hulle het ook 'n geskiedenis wat 'n invloed op hulle gehad het, nes ons. As die karakter wat jou beetkry 'n kind is, is dit 'n "kinderboek". Maar skrywers mag nie 'n vervelige boek vir sy/haar lesers van ENIGE ouderdom skryf nie! :)

Sieltjie sonder sorg het egter ’n waar ding gesê:

Ek lees nou vir die eerste keer Dinge van 'n kind van Marita vd Vyver en wonder hoe tieners dit nou ervaar, want dit speel mos in die 70's af.

Meer as dit, niemand het ooit, selfs destyds nie, dit ’n tienerboek genoem nie. Was dit omdat dit oor tieners gegaan het wat tieners was toe óns tieners was?

Blackeyedsuz sê oor die dilemma van die verskillende genres:

Het al baie oor die gewonder, want as volwassene kan ek steeds nie wag vir Francois Bloemhof se boeke (watter genre ookal) om te verskyn nie. Ek was gaande oor Zita, en Joshua van Eden. Barrie Hough het my nog altyd geroer, en hoewel sommige mense gekant is teen die "lessies" wat Barrie soms ingegooi het was sy skryfwerk relevant, toe én nou. Vir grootmense en tieners. Ek dink ek verkies dalk die term "jeugboeke", want ek is oud maar steeds baie "jeugdig" in die hart.. :-)

Hierop het Martie geantwoord:

Hallo Blackeyedsuz. Jislaaik, ja. 'n Mens lees mos wat jy wil - dis die lekkerte van boeke! En daarby is ek ook oud (amper antiek) maar my hart is baie jonk - so jonk dat ek kinderboeke skryf - nie omdat ek antwoorde het nie, maar omdat ek ook wonder! Nes kinders :)

Ek is nog nie klaar nie, want ek het intussen ander, lekker sappige inligting ingewin. Word vervolg.

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page