Mooie Clara – moet kies
Die Engelse wat, te oordeel na hul letterkunde, baie van die liefde weet, het ‘n gesegde dat “all’s fair in love and war”. Of daardie “alles” sulke agterbaksheid insluit soos ons nou in ons eie “trots Suid-Afrikaans” sepie Sewende Laan beleef, het ek egter bedenkinge oor.
Die arme Marko, al weer aan’t aftjop in ‘n romantiese driehoek, wend hom nou tot bedenklike taktiek om sy teenstander se hand in die as te probeer slaan. Om Clara met lieg en bedrieg teen Lucas op te maak, en Lucas in die verleentheid te stel deur ‘n knoeiery met sy kredietkaart is baie lelik, ja, soos die fraaie Clara sou sê.
Sonder om prekerig te wees, hoe moreel geregverdig is dit om ooit, ooit in ‘n ander se beursie te peuter?
Die Engelse kan hóé slim wees, maar als kan waaragtig nie “fair” wees as dit by die liefde kom nie. Van ons Maleise vadere kom ‘n Afrikaanse spreekwoord waarin ek nogal glo. Dit is dat dat iemand se kierang sal braai . Al is die betekenis van kierang onseker en hoekom dit nou juis sal braai ‘n raaisel, staan die betekenis vas: die kwaad wat jy doen, gaan jou terughap.
Dus, Marko, ou maat, luister maar na die oom hier op Melkbos en smeer jou vet: jy gaan nog riemspring, kêrel!
Blogbesoekers met lang geheues sal onthou dat twee maande gelede in hierdie ruimte ‘n woordjie meegespreek is oor ‘n vorige driehoek waarin die stomme Marko ook aan die kortste ent getrek het. Dit was die driehoek Marko/Diederik/San-Marie (die oulike rooikoppie).
My advies was dat net een manier bestaan om so ‘n tameletjie volwasse te hanteer, en dit is soos my Amerikaanse vriend John Painter jr. van Portland, Oregon, dit so ondubbelsinnig stel: “Swift, brutal and without mercy” – bedoelende sonder genade teenoor die self en die eie ego. Net een se wense tel immers aan die ou einde van die dag (soos Naas Botha sê), en dit is die meisie s’n.
Vir kykers het ek egter gewaarsku: moenie verwag dit sal vinnig oor en uit wees nie, want soos Wikipedia op die web hoogdrawend verklaar: “In television shows, a love triangle is often prolonged for a lengthy amount of time, delaying any final declarations of love between the pursued character and his or her suitors that may prematurely end this dynamic or displease fans.”
Klaarblyklik het Marko dadelik besef dat hierdie oom, soos Churchill verklaar het, ”have not always been wrong”. Hy het my goeie advies nie in die wind geslaan nie, die bitter pil vinnig gesluk en die aftog geblaas. ‘n Wen-wen-situasie.
Van my vrese dat daardie intrige deur die draaiboekskrywers soos ‘n stuk gomlastiek uitgerek sou word, het genadiglik nie veel gekom nie.
Hierdie keer wonder ek egter. My suspisie is dat Sewende Laan se draaiboekskrywers by Hollywood gaan kers opsteek het. Van Marko en Lukas se vurige mededinging om Clara se hand gaan ons vorentoe derhalwe sommer nog heelwat sien, raai ek.
Dan ontvou boonop terselfdertyd die smeulende liefde van die stoïsynse Neville en die Felicity-bokkie in sulke kompliserende omstandighede dat selfs die uwe met al sy rype lewenservaring nie herwaarts of derwaarts weet nie. Oral gaap net afgronde.
Kykers, so maklik soos destyds met San-Mari-tjie gaan julle nie weer loskom nie. Maak maar julle gordels vas en byt op julle tande!
”
Kommentare