top of page
Uitmelkbos

MARKO, DIEDERIK EN SAN-MARI



Matriek-kamermaats met een meisie – Wiekie Moolman en HvD Die “ewige driehoek” is ‘n tema so oud soos die berge in romantiese fiksie – jy tref dit aan in boeke, verhale in tydskrifte, rolprente (veral romantiese komedies), TV-stories (die sogenaamde “soap operas” of sepies) werklike operas en operettes, trefferliedjies deur die jare … en natuurlik die werklike lewe.


Op die oomblik is Afrikaanse TV-kykers vasgenael voor die skerm terwyl die liefdesdriehoek tussen Marko, Diederik en San-Mari in die SABC2-sepie Sewende Laan ontvou (Ek noem dit sommer Half-sewende Laan omdat die program om 18:30 uitgesaai word.)


Moenie verwag dit sal vinnig oor en uit wees nie, want soos Wikipedia op die web hoogdrawend verklaar: “In television shows, a love triangle is often prolonged for a lengthy amount of time, delaying any final declarations of love between the pursued character and his or her suitors that may prematurely end this dynamic or displease fans.”

In flieks word so ‘n driehoek gewoonlik ook maar soos ‘n stuk gomlastiek uitgerek. Die ontknoping kom eers naby die einde, hoewel kykers dan ten minste ‘n duideliker afronding van die deurmekaar-liefdeslewes van die hoofkarakters as in ‘n slepende sepie kan verwag.

Waarom ek my vandag so slim hou oor ‘n esoteriese onderwerp soos ‘n liefdesdriehoek is nie omdat ek so danig baie daarvan weet nie, maar wel omdat ek op grond van een enkele ervaring (liewe lesers, lek jul lippe af!) tog voel dat ek vir Marko en Diederik kan raad gee.


Ek wil soos my kollega Johan van Wyk destyds in sy rubriek Stop van Myne in Die Volksblad, toe Anneline Kriel en haar studenteliefde Jacques Malan se liefdeslewe gekompliseerd begin raak het, vaderlik en vermanend ‘n woordjie meespreek.


Anneline en Jakkie (soos my kollega die jong Tokkelok deernisvol aangespreek het) wou nie luister nie. Of miskien wou die een luister maar die ander een nie. Hoe ook al, het daar ‘n breukspul gekom. Jacques is op sy weë en Anneline op hare. Wat van hom geword het, weet ek nie (hoop hy’s gelukkig getroud), maar Mej. Wêreld of te nie, het die skone Anneline ook maar haar kwota liefdesongeluk te beurt geval.


Of Marko en Diederik na Oom Hennie gaan luister, is seker ook maar te betwyfel. Dalk glo hulle soos my vriend Henri van Biljon van Melkbos, ‘n oud-prokureur, dat geen raad iets werd is as jy nie daarvoor betaal het nie. Dalk is hulle net eiesinnig, soos jong mense maar kan neuk om te wees. Dalk bereik my raad hulle nie eens daar op Half-sewende Laan se stel nie.


Nietemin, of dit hulle nou gaan bereik of nie en of dit indruk gaan maak of nie, verklaar ek nou hier met volle oortuiging dat daar net een manier is om so ‘n tameletjie soos met daardie oulike rooikoppie San-Mari volwasse te hanteer, en dit is soos my Amerikaanse John Painter jr. van Portland, Oregon, dit so ondubbelsinnig stel: “Swift, brutal and without mercy” – bedoelende sonder genade teenoor die self en die eie ego. Net een se wense tel immers aan die ou einde van die dag (soos Naas Botha sê), en dit is die meisie s’n.


Meen, toe ek in matriek was was daar ‘n oulike kortrok-meisie in standerd agt met wie ek dan gekys was en dan weer nie gekys nie. In ‘n stadium was sy selfs my matriek-kamermaat, Wiekie Moolman, se nooi!


Een Saterdagaand keer hy toe na ‘n afspraak met ‘n somber gesig na ons gemeenskaplike tuiste in die Jack Pauw-koshuis by Potch-Volkies terug en deel my sonder lang stories die stand van sake mee: “Kammie, sy’s nog lief vir jou.”


Daar en dan gee hy haar toe in ‘n daad van roerende opoffering aan my terug. Geen woede-uitbarstings, geen verwyte, geen kwade gevoelens nie. Net: “Sy wil jou hê, so vat jy haar dan.”


Wat ek toe die volgende Saterdagaand sonder seremonie gedoen het. En toe gaan die lewe vir almal rustig voort.


Dalk is Wiekie se soort ridderlikheid ‘n seldsame verskynsel op hierdie ondermaanse met al sy intriges, beroeringe en emosies. Maar dat dit vir ons gewerk het, is ‘n feit soos ‘n volmaan.


Wel, om volkome eerlik te wees, het dit vir die volgende ses maande gewerk. Toe’s ek en Wiekie uit matriek uit en vind sy ‘n nuwe liefde – met wie sy toe ook getroud is.


Ces’t la vie.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page