top of page
  • Uitmelkbos

MAN VAN woord en WOORD


As jy ‘n rype 82 is. staan jy op ‘n plek in die bos waar die Byl geneig is om te kap.  Hoekom het Dok Willie Kotze se hegte vriendekring dan so uitermate verslae, eintlik verpletterd, op die nuus van sy dood gereageer?   Dit was onverwags ja, omdat hy na die uiterlike fiks en gesond was.   Die kernrede, glo ek, is egter die intensiteit van die pyngedagte wat almal by die doodstyding te binne geskiet het:  Hoe arm gaan ons lewens vorentoe sonder die immergroen Dok Willie nie wees nie? 

 Dok Willie, soos ek hom 50 jaar lank bly noem het, was inderdaad vir almal in die Prediker se woorde ‘n man uit ‘n duisend. Hy was met ‘n monumentale rykdom aan talente geseën. Sy uitnemende gawes van hart en hoof, soos hulle sê, het hom by elkeen van ons in ‘n spesiale eie vakkie geplaas – ‘n ereplekkie wat net vir die hoogs uitsonderlike gereserveer is.

 Aan ‘n poging tot ‘n volledige opgawe van al sy voortreflike eienskappe gaan ek my nie waag nie. Ek wil hom graag primêr huldig as man van die woord (met ‘n kleinletter) en die Woord (hoofletter).

 In een kon hy skryf, met ‘n meevoerende terugreik na die hartland van sy kleintyd, die duineveld van die Kalahari. Hy kon dig oor sy diepe geloof. Hy kon helder sy ferme standpunte oor wat reg en verkeerd is in kerk en samelewing in die hoogste forums formuleer en debatteer. 

 Na die Woord (met ‘n hoofletter) het hy sy lewe gerig. Dok Willie het, soos min ander, elke dag voluit vir die Here geleef, ‘n gretige en offervaardige dienskneg. Ons almal dra kennis van sy toewyding aan sy prysenswaardige inisiatief om op die Seepuntse Promenade Bybels in die hande van mense met ‘n honger vir die Woord te plaas.  Hierdie uitlewing van die geesvervuldheid waarmee hy van die laaste groot Mighty Men-konferensie van Angus Buchan  teruggekeer het, het aan hom, soos hy dit self gestel het, ‘n “geweldige gevoel van vervulling” verskaf.

 In sy omgang met alle mense was Dok Willie altyd ‘n pilaar van Christelike waardes. Deur sy vrugbare Vrystaatse era, in die wandelgange van die parlement, as diplomaat in Mmabatho, en uiteindelik gelukkig afgetree in Seepunt, het hierde trotse, verankerde Afrikaner met sy onwankelbare verbintenis tot vaste beginsels, met sy onkreukbaarheid, koersvastheid, insig, betroubaarheid,  visie en  idealisme die ongekwalifiseerde respek van vriend en vyand geniet.    

 Dok Willie was ook ‘n stylvolle, afgeronde, verfynde en wellewende mens, ‘n geslypte gasheer en ‘n diep vriend. Dit was ‘n gesogte voorreg om ‘n gas aan sy keurige tafels of een van sy geselsmaats te wees. 

 Dit is waarskynlik as skrywer van ‘n dosynsstuks  boeke dat sy nalatenskap die verste sal reik.  Toe hy begin skryf, kon hy nie ophou nie. Van sy vriende het selfs al ietwat tred verloor met sy gedrewenheid om pen op papier te sit.  Elkeen het op sy boekrak persoonlike gunstelinge. My eie geliefkoosde “W.D.Kotzé” is “Voetspore in die Kalahari” (2004), wat sy uitgewer, Protea, bestempel het as ‘n “boeiende kultuurhistoriese dokument” oor “‘n ongerepte wêreld en ‘n harde maar avontuurlike leefwyse wat min beskore is.”

 Sy vriende neem afskeid, getroos in die dankbare wete dat ons seer gewaardeerde vriend lank-lank sal voortleef – nie net in die boekelyste van uitgewerye en die katalogusse van biblioteke nie, nie net in die parlementêre Hansards en in koerante se vergeelde argiewe nie. Eweneens in die harte van ‘n enorme skare mense, bekendes en wildvreemdes, wie se bestaan hy pertinent aangeraak en op wie se lewenspad hy  onberekenaar waarde toegevoeg het.

Naskrif As groentjieverslaggewer het ek in 1963 by die flinke, jong private sekretaris van die Vrystaatse Administrateur, Oom Sand du Plessis, ingestap.  Min kon ek raai dat ek 50 jaar later die huldeblyk by sy gedenkdiens in Kaapstad sou lewer. 

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page