top of page
  • Uitmelkbos

MAMMA, WAAR KOM ONS BABA VANDAAN?



Ooievaars bring babas. Met die stukkie mitologiese onsin het die meeste van ons grootgeword. Eers later het ons ontdek ander faktore speel ‘n deurslaggewende rol om ‘n nuwe bondeltjie in sy bababedjie te besorg. Soos in die geval van Kersvader (of Vader Krismis, soos ek die ou man met die wit baard leer ken het) is pappa se bydrae nie te versmaai nie.


Die mite leef voort in die ontwerp van miljuisende babakaartjies, geïllustreer met allerlei variasies op die tema van ‘n ooievaar wat toegewyd op pad is met sy kosbare vraggie wat in so ‘n hangmatterige affêring uit sy bek hang. Die gebruik om ooievaar-tees te hou, is springlewendig.


Op die internet is meer as een webwerf waar ‘n mens ooievaar-kaartjies kan bestel. Party is baie oulik en kreatief. Ek kry niks kommissie vir die verwysing nie, maar gaan krap gerus rond by www.storks.com.


Wat de ongeluk bring HvD vandag by ooievaars, kan u wonder. Laat ek verduidelik. Dis die “Mr. Delivery” hierbo op die foto wat ek en Tokkie nou anderdag op ‘n stillerige toggie in die Kruger-wildtuin langs die Salitjepad raakloop. (Eeienaardig, né, die totale betekenisverskil tussen raakloop en raakry!)


“Stop,” gebied sy en pluk haar Newmans uit. Ek verneem toe die witooievaar (Ciconia ciconia) is nie so ‘n volop gevogelte in hierdie gedeelte van die wêreld nie. Minder volop selfs as die pragtige saalbek met sy opvallende rooi-en-swart gebande snawel, en veel minder volop as ander boeties en sussies soos die wolnek met sy glansende swart verekleed, en veral die swart ooievaars, die kleinswart (of blouwang) en die grootswart, ‘n blinke bielie met ‘n wit pens en onderstert.


“Nie verassend nie,” merk ek op, “in die lig van die werkslas hier te lande.” Meen, baie meer swart babatjies moet in Suid-Afrika afgelewer word as wittetjies, nie waar nie? Tokkie vind hierdie poging tot humor onvanpas, en ons ry verder sonder om die ooievaar-kwessie verder uit te pluis.


Tuis gekom, wil ek dadelik probeer bepaal waar die mite van die ooievaar wat babas bring sy oorsprong het. Dalk is my bronne nie so honderd persent betroubaar nie, maar ek lees toe iewers dat dit juis die witooievaar is wat in hierdie geval die werkesel is (nie die swartes nie!), en dat die storie waarskynlik ontstaan het omdat witooievaars die gewoonte het om op geboue in stedelike gebiede in hul habitats in Europa neste te maak. Jy sien hulle dus gereeld in “menslike” omgewings.


Klink nie onrealisties nie, hoewel ek in Ian Sinclair se gids die waarneming teenkom dat die kleinswartooievaar en die witooievaar op hul somerbesoeke aan Suid-Afrika dikwels saam op oop lande en bewerkte grond aangetref word. In stede en spesifiek oor my eie huise in Bloemfontein, Randburg, Welgemoed en Melkbosstrand het ek nog nooit so ‘n witte sien rondfladder nie. Maar, natuurlik, die dae dat by die Van Deventers ‘n bondeltjie kon opdaag, is ook dekades al verby.

Dat hy babas bring, is in elk geval nie die witooievaar se enigste aanspraak op roem nie. Die goeie mense van Pole, (tog nie Poland nie!) Litaue en die Oekraïne glo dat witooievaars harmonie bring vir ‘n gesin op wie se eiendom hulle broei – dalk nog ‘n rede vir hul afwesigheid hierlangs!

Die witooievaar is die nasionale voël van Pole en Litaue. Dit is ook die simbool van die stad Den Haag in Nederland. Die beroemde Poolse digter Cyprian Kamil Norwid noem Poolse ooievaars in sy gedig “My song”:

“For the land where it’s a great travesty

To harm a stork’s nest in a pear tree,

For storks serves us all …

I am homesick, Lord! “

In die weste van die Oekraïne is die witooievaar bekend as buziok. Daar word dit verbind met die begin van ‘n nuwe gesin in ‘n nuwe huis. In die Oekraïne word die voël ook beskou as die Boodskapper van die Lente omdat dit een van die eerste voëls is wat na die winter na daardie land terugkeer.

In Afrikaans het ons ‘n ooievaar-spreekwoord wat na my wete taamlik onbekend is. Dit lui: “Een ooievaar maak nog nie ‘n herfs nie.” Die Engelse weergawe is: “One swallow doesn’t make a summer.” Die betekenis is duidelik: moenie veralgemeen nie.

Met ander woorde, moet nie na die laaste paar blogs met hul voëltemas sommer nou aanvaar dat HvD oorboord gegaan het en volslae voël-verskrik geraak het nie! Fluit-fluit, my voelstories is (voorlopig) uit!

12 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page