‘n Geween en gekners van tande is opnuut in sekere geledere aan die orde nadat Fluffy, leier van Fernkloofreservaat op Hermanus se hoof-bobbejaantrop, op die tweede verdieping van ‘n spoghuis in die woonbuurt met dieselfde naam doodgeskiet is.
Op die foto word die ou grote, wat sy naam gekry het weens sy lang maanhare, onwaardig van die toneel van sy afsterwe gedra-sleep – nie ‘n mooi prentjie nie. Hoe jammer dit ook al is dat so ‘n lot diere tref, bestaan egter ‘n ander kant van die saak wat die pro-bobbejaan-faksie nie altyd kan of wil verstaan nie.
As iemand wat self al heelwat onder bobbejane gely het, vra ek diegene wat so begaan is met trane in my “navy-blou oë: wat op aarde moet die arme slagoffers doen? Verwag julle hulle moet net eenvoudig aanvaar bobbejane swaai die septer en hul eie lewenskwaliteit is sekondêr?
Bobbejane word ‘n nasionale plaag, sê my vrou, Tokkie, en sy het dit nie mis nie te oordeel na die stroom berigte van bobbejane wat mense alle hel op aarde gee. By Kaappunt, Bettiesbaai, Hermanus – waar nie al nie – moet geviktimiseerde huisbewoners hul eiendomme barrikeer om stropende bobbbejane uit te hou. Kwaaddoeners breek in en saai verwoesting. Deure en vensters word slinks verwyder; ys- en koskaste oopgeruk en geplunder.
Selfs motors op ”veilige” parkeerplekke is nie bobbejaanbestand nie. Die kese krap die rubber uit, verwyder die ruite en hou dan jollifikasie met wat ook al binne te ase is. Hulle knak die lugdrade.
Kos word uit verskrikte kinders se hande gegryp. ‘n Mens ys oor die gevaar dat iemand – veral ‘n kind – wat doodonskuldig by ‘n piekniekplek n toebroodjie sit en eet, so toegetakel moet word. Om ‘n wang met daardie skerp kloue oopgevlek te kry, is bepaald nie ‘n aangename vooruitsig nie. Plastiese chirurgie en selfs permanente skending kan jou voorland wees.
In die bos noem ons bobbejane die “mafia van die diereryk”. Dit is geen lieftallige troetelnaampie nie. In Sabiepark is mense se huise al binne deur ‘n trop bobbejane histeriese bobbejame dermate verwoes dat geen enkele stukkie breekgoed of ander glasware heel gebly het nie. Seffs die mure is so betjorts dat dit oorgeverf moet word. Rooi wyn is op wit sitkamermeubels uitgegiet.
Die skade is enorm en die oorweldigende stank bly lank hang as herinnering van die diepe ellende wat jou getref het. Jy huil nie net ‘n dag of twee nie!
Ook ons eie huis het verskeie kere deurgeloop. ‘n Yslike gat is amper dwarsdeur die grasdak gegrawe. Die gaas voor die vensters is aan flarde geruk. ‘n Kleintjie was een keer ure lank binne toegesluit. Veldwagters moes kom om hom te ontset – bolle oweral. Ek en ‘n mannetjie het mekaar in die kombuis trompop ontmoet.
Op die stoep lê die tafel en stoele gereeld pote in die lug. Op ‘n warm dag is die swembadjie ‘n gewilde trekpleister. Die water is pikswart en onwelriekend na so ‘n swempetalje. Sit ons vir die voëltjies kos uit word die houer taks om taks uit die boom geruk en teen die grond geslinger.
Een moedswillige ou het twee dosyn eiers van ons kombuisblad geroof en binne sigafstand die een na die ander welbehaaglik uit die dop gesuig.
Op die warmste dag moet die huis – elke liewe venster – deeglik gegrendel word as ons gaan stap. Elke gas wird gewaarsku: pas op vir die bobbejane!
Volgens Leon Steyn, ’n omgewingspesialis van die Overstrand-munisipaliteit,
kan die dood van Fernkloof se leier tot ’n bevolkingsontploffing of dissiplineprobleme in die trop lei. “Ander mannetjies in die trop sal waarskynlik nou begin baklei om ’n nuwe leier te bepaal. Gewoonlik is dit ook net die leier wat met die wyfies mag paar. Nou kan enigiets gebeur.”
Hierdie stories hoor ‘n mens telkens. Jy hoor ook: probleembobbejane is die gevolg van mense se onverantwoordelikheid. Jy hoor, ten slotte – en dit maak my ferplie die duiwel in – dat sekere plekke eintlik aan hulle behoort; “hulle was voor ons hier”.
As die plek aan hulle behoort, moet hulle dan gerus maar die heffing betaal en vir die instandhouding opdok, is my wederwoord.
Presies wat die antwoord is, weet ek nie. Maar leeus en luiperds kan tog nie meer in stede se strate ronddwaal nie – nie in Kaapstad nie, nie in Johannesburg nie, selfs nie in Nelspruit nie, al was hulle “voor ons hier”. Ook bobbejane sal moet terug na die onbewoonde klowe, berge en boswêreld waar hul soewereiniteit nie deur mense begrens word nie.
Slim mense SAL ‘n plan moet bedink.om die bobbejaangevaar hok te slaan en as daardie plan dan sou wees om die wapen teen die boggom-kommando op te neem, dan is dit jammer en alles, maar dan is dit onvermydelik.
Σχόλια