Na aanleiding van vanoggend se artikel in “By” oor die moontlike Amerikaanse wortels van die Afrikaanse heldeverhaal van die Voortrekkermeisie Racheltjie de Beer herhaal ek hier my blog van 2 Augustus 2010 oor ‘n vorige “Made in the USA”-ontnugtering. Laat ons dan nie vergeet dat “Sarie Marais” ook ‘n Amerikaanse rokkie dra nie!
PERD VAN ‘N ANDER KLEUR
“Jippie-jippie jip, ou pêhert!” Ek dag altyd Chris Blignaut se immergroen liedjie “Ou Ryperd” (deur Dozi nuwe lewe ingeblaas) is só Afrikaans soos koesisters. Een van die musikale ontnugterings van my amper 70 jaar (nou amper 72) op aarde was toe ek verneem dit dra eintlik die stempel “Made in the USA.”
“Ou Ryperd” is inderdaad ? vrye vertaling/interpretasie van die VSA se “Old Faithful we roam the range together”. Ja, ‘n perd nie net van ‘n ander kleur nie, maar ook van ‘n ander taal, land en kultuur. Gaan luister maar – Amerika se “Old Faithful” en ons Boere se “”Ou Ryperd” is vinkel en koljander.
Wat opval uit die lirieke is dat die perd in die Amerikaanse weergawe ‘n naam het en die nooi nie. In Afrikaans is dit andersom. Is die Amerikaners liewer vir hul perde en ons vir ons meisies?
Só sing Chris Blignaut en Dozi:
Ou Ryperd, ons ry die pad tesame Ou Ryperd, so deur die lewensbane Wanneer jou rydag oor is, Gaan jou ou lyf lekker rus Jy, ou Ryperd van my.
Jaag maar aan ou maat Die maan skyn helder (heller!) vanaand Jaag maar aan ou maat My nooientjie sy wag vir my vanaand O hoor hoe tjank die jakkals op die rivier se brug En dra my op jou lekker ou rug Jaag maar aan ou maat, want my nooientjie sy wag daar vanaand.
KOOR:
Jippie Jippie Jip (x2) My ou perd Daar is voer en rus En jy doen jou bes my ou perd Dra my oor die rivier se brug Dra my op jou lekke ou rug Na my nooi Sannie Die dogter van Tant Annie op die plaas.
En hier is die lirieke van “Old Faithful”:
Old Faithful, we roam the range together Old Faithful in any kind of weather, When the round up days are over, And the boulevard’s white with clover, For you old faithful pal of mine. Giddy up old fella cos the moon is yellow tonight, Giddy up old fella cos the moon is mellow & bright, There’s a coyote crying at the moon above, Carry me back to the one I love, And you, old Faithful pal of mine.
Nog iets wat ek nie geweet het nie (ek lees dit op die internet) is dat die Tukkies in ‘n stadium (wanneer?) daarvan ‘n patriotiese intervarsity-lied gemaak het:
“Stad van die noorde, O ek verlang na jouhou/ Stad van die noorde, die jakarandas is weer blou-ou/ Al my lief en leed het ek daar aanskou/ op jou wil ek my toekoms bou? Voortrekkerstad, ou Pretoria/ Elke ou Tukkie verlang na jou/ Ons Alma Mater sal ons nooit vergeet nie/ Ou Pretoria …”
Is ek dan die enigste vreemdeling in Jerusalem wat hierdie goeters nie geweet het nie?
Comments