top of page
  • Izak de Vries

Maar Tintin in Tibet


MAAR TINTIN

 Te koop by Kalahari.

Ook beskikbaar as e-boek.  As daar een boek is wat my heeltemal onkant gevang het in 2013, is dit Maar Tintin in Tibet deur Annelie Ferreira. Dit is vars, dit is anders en dit lees baie lekker. Dit is my goedvoelboek van die jaar. Soos met alle resensies probeer ek baie hard om nie die verhaal weg te gee nie, maar ek wil tog waarsku: ’n Deel van hierdie boek se genot is om heeltemal onvoorbereid om te gaan met die teks. Dus: As jy nie jou lees wil bederf nie, gaan ervaar dit eers self. Dan kom kyk jy of jy met my saamstem. Ek wil graag die boek oopkrap vir ’n leser wat meer wil weet, maar ek gaan poog om nie té swaar te wees nie, want die teks self is borrelend, al spreek dit moeilik kwessies aan. ’n Lekkerleesboek Maar Tintin in Tibet is ten eerste ’n lekkerleesboek. Hoewel ek moeite sal doen om te verduidelik dat daar waarskynlik meer in die teks steek as wat ’n mens sou vermoed, sou dit ’n fout wees om nie in die eerste plek die teks te lees vir die suiwer genot daarvan nie. Daar is skreeusnaakse oomblikke en die manier waarop Annelie Ferreira in ’n jong student se kop en taalgebruik kan inskuif, is benydenswaardig. So open die teks:

Dae soos daai Vrydag behoort te kom met ’n waarskuwing.’n Soort shit alert, sê maar op jou selfoonwekker, verskaf deur ’n span van die Huisgenoot­-astroloog, Die Burger se Weerhaan en George Claassen. Dit behoort alle areas van shit te dek (bladsy 5). Dit is ongetwyfeld die soort teks wat ouers vir hulle tieners (ouer as veertien) en hulle twintigers in die hand moet stop, maar eers self ook moet lees. Dit is dus ’n boek wat oud én jonk sal aanspreek, hoewel dit nie vir jong kinders veel sal beteken nie, daarvoor is die goed wat aangespreek word heeltemal te volwasse. Ek dink byvoorbeeld nie my knaap van elf sal dit geniet nie, maar jong volwassenes, hulle ouers en hulle oupas en oumas sal. Die karakters Lukas is ’n predikantskind en het sy eerstejaar in teologie gedoen, maar toe opgeskop. Daarna is hy VSA toe waar hy vis gepak het om geld te verdien sodat hy kon studeer wat hý wil. Ons ontmoet hom aan die einde van sy derde jaar, pas klaar geskryf (daar is nog een sleepvak) en nou is hy op pad Struisbaai toe saam met Ingrid. Ingrid is sy meisie, sy stukkie, sy lekkerindiebed. Ingrid is pragtig en die kelners kan nie hulle oë van haar borste afhou nie. Sy is ook baie slim. Wiskunde is haar ding. Dis nou as Lukas nie haar klere van haar lyf vry nie. Lukas se pa, dominee Kruger van Bloemfontein, is een van daardie oudedoosdominees wat Radio Kansel luister en glo ’n vrou sal jou nie respekteer as jy eers met haar seks gehad het nie. Om die waarheid te sê, dominee Kruger van Bloemfontein glo die wêreld se probleme is volledig te danke aan Eva en haar nageslag, want hulle wil nie meer tevrede en onderdanig wees nie. Ons leer ook, nogal onverwags, Lukas se ma ken. Sy was tot en met die begin van die boek ’n stil, sagte predikantsvrou. Nou moet die leser maar self sien wat gebeur, want haar nuwe vriendin dra nie ’n bra nie. Nodeloos moet ons ook erken dat dominee Kruger van Bloemfontein se iesegrimmige houding jeens vroue dalk juis te doen het met die “nuwe” vrou wat nie meer onderdanig wil wees nie. Ja, op dieselfde dag as wat ons, die leser, haar leer ken, leer Lukas en dominee Kruger haar ook vir die eerste keer werklik ken – al leef hulle reeds meer as twintig jaar met haar saam. Lees maar self wat híér uitkom. Dis nogal sexy. Die storie Lukas en Ingrid is toe nooit Struisbaai toe nie. Op pad na sy woonstel ry ’n leerlingbestuurder sy Golfie flenters en terwyl hy nog daar staan en gesels met die man van die bestuurskool, bel sy pa om te sê hy (dis nou die dominee) staan en wag voor Lukas se woonstel. Lukas haas hom na die deurmekaar woonstel en daar vertel dominee Kruger van Bloemfontein vir sy seun dat daar skynbaar ’n messias in Beaufort-Wes is, hulle twee moet gaan ondersoek instel. Arme Lukas. Daar gaan sy naweek saam met Ingrid. Boonop, asof dinge nie erg genoeg is nie, sê Ingrid ewe skielik sy wil uitmaak. Wat volg is ’n chaotiese paar dae waartydens Lukas en sy pa drie keer deur die Du Toitsklooftonnel moet ry voor hulle uiteindelik op Beaufort-Wes opdaag. Wat hulle daar kry, gaan ek nie verklap nie, maar ek kan wel sê dat dit ’n Damaskuservaring was. ’n Uitdaagboek Die teks ís uitdagend, hoewel dit dun is (net 143 bladsye) en soos ’n spanningsverhaal lees. Aan die een kant spreek dit talle eg Suid-Afrikaanse kwessies aan: Rassisme, dweepgodsdiens, gay bashing, ’n Victoriaanse preutsheid rakende seks voor die huwelik, boersheid jeens seks oor die “kleurgrens”, armoede en roekelose taxis is maar ’n paar daarvan.
Pa sug graag: “Wat jy saai sal jy maai”, gewoonlik in gesprekke oor F.W. en die uitverkoop van die Afrikaners, vroue in die kerk, gays in die kerk, ensovoorts – hy’s NG predikant, maar van sy beste vriende is Doppers (bladsy 5). Aan die ander kant vra die teks ook van die leser om sekere vooroordele af te lê:
Enigeen kan dit mos verstaan?Enigeen wat nie soek na die geringste verskoning om in ’n tirade uit te flip oor die jong mense van vandag / nuwe Suid-Afrika / goddelose wêreld / tick a box nie (bladsy 20). Dit is ook, soos Etienne van Heerden se Klimtol, ’n scriptible teks (aldus Barthe se definisie), die leser moet dus self sekere gate invul en help skryf aan dit wat nie gesê word nie. Ons is bevoorreg om puik, toeganklike skrywers in Afrikaans te hê. Dink aan skrywers soos Chanette Paul en Karin Brynard, wat ook alledaagse Suid-Afrikaanse kwessies aanspreek, maar vir die gewone leser skryf. Paul en Brynard daag uit, hulle tekste is tjokvol literêre verwysings, maar is met besondere vernuf afgerond sodat die leser gewoon kan voortblaai en die teks geniet. Tog is daar diepgang vir dié wat dieper wil lees. Ek sou Ferreira se Maar Tintin in Tibet ook in hierdie kategorie plaas. ’n Leser kan beslis die storie geniet sonder om die verwysings te snap (en hierdie leser het waarskynlik ’n groot aantal gemis). Tog, sonder die nodige skakels is die teks minder voltooid. Die titel en die intertekste Daar is verskeie belangrike intertekste en die heel belangrikste hiervan word reeds vir ons in die titel saamgevat.
bfw
En ek weet nie of jy ooit ’n Tintenboek gelees het nie, Koos, maar Tinten in Tibet is die enigste boek waarin Tintin ooit gehuil het. Goodbye, Chang, Goodbye. Goodbye. Die titel verwys dus na die Engelse vertaling van Hergé se Franse teks, en nie na die Afrikaanse vertaling nie.
Tintin in tibet
blue lotus
Jy was lank my swartste troebadoer, jy’t die troebel water van my hart geroer. Maar eintlik weet ek my hart was toe nog kouewateromoskoon vir die Here & Tintin om in te woon. Die oorgang van kindwees na grootmenswees, gaan met verandering gepaard. Jy word bewus van die wêreld om jou:
Al die woorde het verander in die palm van ons hand & en nou is dit ’n vreemde land. Nel se woorde is ’n elegie, ’n groet aan ’n vriend, maar praat ook oor ’n afsterf van iets êrens in jou binneste waarheen jy nooit weer sal kan terugkeer nie:
Koos die lyn is dood tussen my hart & jou mond se mooiste woorde. Daar het reeds ’n uitstekende resensie van Maar Tintin in Tibet op LitNet verskyn. Professor Cas Wepener, wat spesialiseer in praktiese teologie, se resensie word hoog aanbeveel. (Cas Wepener, 2013. Maar Tintin in Tibet reis ver, maar ook binnetoe. LitNet. 8 Oktober 2013.) Hiermee twee kort aanhalings uit Wepener se resensie wat Nel se woorde dalk beter sal toelig:
In vyftien kort hoofstukke word jy dan ook saamgeneem op ’n reis in ’n Mercedes waarin kinders en ouers, die liefde, “rigting in die lewe” en godsdiens vir ’n boeiende en prettige leeservaring sorg. Asook:
En pa en seun se verhoudings met die vroue in hulle lewens staan juis op hierdie oomblik voor besondere uitdagings.  Belangrik: “die lyn is dood” tussen pa en seun aan die begin van hierdie boek. Pa is ’n bedonderde predikant wat nie glo in voorhuwelikse seks nie, terwyl Lukas en Ingrid al lankal hierdie sotlikheid afgegooi het; en dit is maar net die een oortjie van ’n enorme seekoei. Meer nog: Kyk hoe gereeld Lukas se selfoon nie ontvangs het nie (“die lyn is dood” in Nel se woorde), en hoe belangrik hierdie tegnologiestiltes is vir Pa én seun in hulle verhouding. Wepener beweer dat hierdie netwerkstiltes nodig is die vir wonderwerke wat moet gebeur in dié teks. Kuifie in Tibet Vir diegene wat nié Hergé se Kuifie in Tibet ken nie, hiermee ’n vinnige opsomming (sonder om die klimaks weg te gee). Kuifie, Kaptein Sardijn en Spokie hou vakansie in die Hotel des Sommets in Vargèse, ’n fiktiewe dorpie in die Franse Alpe. Kuifie keer terug van ’n deeglike staptog in die berg. Sardijn sê hy is nie nou lus die berge nie, want hulle is te gevaarlik. Kyk, beduie hy na die koerant, daar het pas weer ’n vliegtuig neergestort in Nepal. Die vliegtuig het tydens ’n storm in die berg vasgevlieg. Kuifie raak aan die slaap ná sy lang wandeling en droom van Chang, die seun wat hy in China ontmoet het. Hy droom die seun roep om hulp. Kort hierna daag ’n brief van Chang op waarin hy vir Kuifie vertel dat hy wil kom kuier en dit neem nie lank om uit te vind dat Chang op daardie gedoemde vliegtuig was nie. ’n Soekgeselskap het intussen uitgevind dat daar nie ’n enkele oorlewende op die vliegtuig was nie. Kuifie is egter onkeerbaar: Chang het hom gekommunikeer in ’n droom, en het om hulp geroep. Hy glo vas Chang leef en só beland hy op ’n ongelooflike avontuur om sy vriend se lewe te red, al sê almal dat Chang lank al reeds dood is. Nou wil ek nie die verhaal weggee nie, maar dit is baie belangrik dat hulle daar in Nepal hoor dat die Jeti, daardie mitiese oerdier van die Himalajas, daar rondhang waar hy Chang wil soek. Die vraag is dan tweeledig: Bestaan hierdie dier, en is dit ’n walglike, hartelose gedierte? Lesers moet maar self die antwoord kry. Die antwoord op hierdie twee vrae hou direk verband met die soeke na die Messias in Beaufort-Wes. Bestaan die messias, en is die persoon ’n bitter gevaarlike mens? Lees maar self, ek sal nie die spel weggee nie. Verskeie ander intertekste Lukas luister langs die pad na die Melktertkommissie en Bruno Mars. Sy pa luister RSG en Radio Kansel. Die Burger word gereeld gelees. ’n Leser kan baie tyd afstaan aan die ondersoek van die onderskeie intertekste, en ek dink dit sal ’n lekker uitdaging wees vir leeskringe. Jack Kerouac se On the Road mag natuurlik ook betrek word.
complt
  1. Kuifie, in Kuifie in Tibet, word ook “geroep” en die kommunikasie maak nie sin nie. Die leser moet dit aanvaar. Die intertekste is duidelik.

  2. Die Bybelverhaal van die Wyse Manne stel soortgelyke eise aan die leser. Hier is ’n klomp geleerdes wat skielik op hulle kamele spring (die outydse weergawe van die Mercedes) en hulle ry dat die stof klap agter ’n spul tekens aan wat vir buitemense geen sin maak nie.

  3. Dit is waarskynlik in dominee Kruger se geaardheid om alles ’n bietjie belangriker en spoggeriger te laat klink as wat die geval is. Die oubaas is dalk effens stereotiep in sommige opsigte, maar hy het my geweldig aan my eie pa laat dink. Daardie selfaangestelde spoggerigheid waarmee sekere Afrikanermans deur die lewe geloop het, kon ek onmiddellik mee identifiseer.

  4. Ek het vroeër genoem dat Maar Tintin in Tibet ’n scriptible teks is. Dit verwag dus van die leser om sekere afleidings te maak. Ek beskou punt 4 nié as goed genoeg om gate in die vertelling toe te laat nie, maar ek dink dat die ander drie punte dalk beteken dat die leser kan help kopkrap oor hierdie saak. Uiteindelik is die rit en die ontdekking al daar geldig. Die ervaring wat Dominee Kruger daar het, verander sy lewe. Lees maar weer die Bybel. In ’n Messiaanse verhaal is dít presies wat moet gebeur. Karaktergroei Een van die goed wat ons op skool ingeprent word, is dat daar groei moet wees in ’n karakter. Natuurlik is daar tekste waar groei juis nié plaasvind nie, maar in die een gebeur dit deeglik. Lukas, sy pa, sy ma én sy meisie is beter mense wanneer die leser van hulle afskeid neem. Die veranderings wat hulle ervaar is boonop geldig en duidelik verantwoord. Ter afsluiting Ek moet ophou. Dié gesprek raak te lank. Onthou dus my woorde aan die begin: Maar Tintin in Tibet deur Annelie Ferreira is beslis my die goedvoelboek van die jaar. Maar Tintin in Tibet, deur Annelie Ferreira, is in 2013 deur Tafelberg uitgegee.

3 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page