top of page
  • Uitmelkbos

MAAR NET EEN DUBROVNIK


dubrovnik-001

IMG_1402

IMG_1408

IMG_1403

Die stadsmuur van die middeleeuse stad Dubrovnik beslaan 1 940 meter en het nie minder nie as 1080 steil trappies, blink uitgetrap deur derduisende voete deur die eeue. Die uwe voel of ‘n druppel Van Deventersweet op elke liewe trappie gestort is.

My bestyging van hierdie gedugte Kroasiese Everest van gemesselde klip was in die vroeglente. Van hitte was nie sprake nie. Van reuse-inspanning wel. Die ou man met die geruite Skotse pet en die krom kierie uit die Laeveld het rus-rus maar vasberade geklim – elke trappie ‘n simbool van verowering.

Bo is hy begroet deur applous van die gids en die aanmoediging van Tokkie wat plek-plek bedagsaam bly talm het om nie die agteros te ver agter te laat nie. Later, terug op moederaarde, was bejaarde Suid-Afrikaanse toeris en jong Kroasiese gids dit roerend eens: Daardie durf verdien ten minste ‘n vergulde sertifikaat – liefs met ‘n aksiefoto in kleur. Ons gids dink al lank aan die bemarking van so ‘n herdenking, en was in sy skik dat die gryse Suid-Afrikaner ook die lewensvatbaarheid raaksien.

Van die enorme muur af is die uitsigte oor die asuurblou Adriatiese see asemrowend. Elke toneel waarop jy jou kamera fokus, adem as’t ware die woorde van die Ierse skrywer Bernard Shaw: “Those who look for a paradise or want the Garden of Eden on earth must come to Dubrovnik.”


IMG_1379

IMG_1399

IMG_1398

IMG_1419

Shaw is waarskynlik deur hele inspirerende pakkie oorrompel: Die merkwaardige stad (‘n Wêrelderfenisgebied sedert 1979) in sy totaliteit met sy vele versteekte stegies en verrassende hoekies; die forse, karaktervolle argitektuur; die wydse oseaan in al sy grootsheid; die milde mediterreense klimaat en die ontspanne lewenswyse. Wonder hoeveel tavernes, taphuise en restaurants hul aanloklike plaaslike spys en drank op Dubrovnik se gesellige stadspleine aanbied.

Dit is ‘n stad waarmee jy kort ná jou aankoms in die prentjiemooi hawe dramaties kennis maak. Die toerbus stop op ‘n hoogte met panoramiese uitsigte op die hierdie “Pêrel van die Adriatiese kus”, soos dit in daardie wyke tereg bekend is. Dit slaan jou asem weg om die ganse bastion soos ‘n kosbare kroonjuweel op die blou fluweelkussing van die see voor jou uitgestrek te sien lé.

In die ommuurde stad is die pragtige hoofstraat ‘n breë geplaveide wandellaan. Dit heet die “Stradun”. Aan die waardige, onopgesmukte hoofstraat kry jy antieke kerke, museums en ander bekoorlike geboue in die Italiaanse Barokstyl. Die Gotiese Palazza del Rettore (setel van die staat) naby die meesterlike sandsteen-katedraal en kloktoring is in 1441 gebou. Tussenin is soewenierwinkels, roomyskiosks en dies meer ingepak.

Iemand met ‘n voorliefde vir trappies tel, beweer binne die die grense van die ou stad is altesaam 4 343 en in Dubrovnik in die geheel ‘n formidabele 5 423. Dit sluit ‘n outentieke weergawe van Rome se beroemde “Spaanse trappies” in. Maar wees gerus. Oor my bemeestering (vermeende bemeestering) van al daardie duisende trappies sal ek geen oordrewe, geromantiseerde aansprake maak nie.

Ons is die ou stad in by die indrukwekkende hoofhek bekend as die “Pile”. Net binne is ‘n Fransiskaanse monnikeklooster wat ‘n apteek huisves waar al sedert 1317 medisyne gemeng word – taamlik lank voor Van Riebeeck! En sommer dadelik wag die impak van die eerste stel trappies boontoe, wat jou skielik aan die wysheid laat wonder om hulle te pak.

Die treffende skoonheid uit die hoogtes van die verowerde omgewing bied darem dadelik ‘n lafenis. Ver-ver verrys berge uit die see. Teen die einde van die staptog kyk jy af op ‘n skilderagtige seiljaghawe omring deur die sambrele van tavernes en seekosrestaurante. Die wyn is glo verfrissend en die oesters hemels. Ook die verstommende boukuns van die muur se torings, vestings en ander fortifikasies laat jou vasbyt om niks te mis nie. Daar is maar net een Dubrovnik. Soos jy vorder, groei die verwondering. Dit strek Kroasië tot eer dat hierdie erfenis so behoue kon bly.

Presies om 14:00 het die Opera se diep fluit oor die hawe weergalm. Die wit skip het stadig van die vaste aarde begin wegskuif op ons laaste skof na Venesië. Op al die dekke het mense saamgedrom. Soos Dubrovnik kleiner word en die watervistas groter, het ‘n verruklike nuwe skouspel hom ontvou.


IMG_1501

IMG_1508

Presies om 12:20 het iemand op dek 12 opgewonde uitgeroep: “Haai!”. Dit was nie ‘n haai nie, wel ‘n dolfyn wat blinklyf uit die water opstyg. Presies om 14:21 was daar weer ‘n uitroep: “Sneeu”. Toe ons opkyk, was die pieke van die Alpe in die verte spierwit gespikkel. Die toneel van die al groter wordende see, die verdwynende hawebrug en die Alpe op die agtergrond het die Opera se passasiers klaarblyklik aangegryp. Hulle het in stilte vasgenael bly staan, so asof hulle bang is dat hulle soveel skoonheid nie weer in hul aardse bestaan gaan sien nie.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page