
Van vyf sterre tot ‘n bouval
Vyf hotels figureer in my en Tokkie se wittebroodsdae aan die begin van 1967. Hul geskiedenis is, helaas, oorwegend maar droewig. Vier van die vyf is in Natal. Op ons reis deur daardie provinsie vandeesmaand het ons by die vier gaan inloer: in die Drakensberg, op Amanzimtoti, in Durban en op Umhlanga Rocks.
Die Royal Natal Hotel aan die voet van die manjifieke Mount-Aux-Sources was ons eerste aanryplek. Ons het ons tweede huweliksnag, 1 Januarie 1967, in die eertydse baken in die Drakensberg deurgebring. Nou is dit ‘n bouval – hartverskeurend om te aanskou. Onkruid staan twee meter hoog waar die deftige eetsaal was, en in die koninklike kwartiere waar Koning George en sy gesin in 1947 uitgespan het, ontbreek stukke dak.
Die derde nag was ons in die Beach aan die lagune op Amanzimtoti. Tot siens, Beach. Hy en sy ou buurman, die Lagoon, is gesloop om vir woonstelle plek te maak: die L’Escalier Cabanas. Ten minste ‘n swierige naam.
Van die vierde nag af was ons in die Lonsdale in Weststraat, Durban – nie uitsonderlik nie, maar netjies, skoon, gesellig en bekostigbaar. Drie ordentlike etes per dag, Drie sterre. Die Lonsdale is nou ‘n vervalle “boardinghuis” vir immigrante uit Afrika.

Juweel van die noordkus
Vir die laaste nag het ons geldjies oorgehad om op te gradeer. Ons trek toe na Sol Kerzner se Beverly Hills in Umhlanga Rocks, destyds sy vlagskip. Dis die enigste van die Van Deventer-vyf wat uitgestyg eerder as agteruitgegaan het. Ek het die plek nou weer uit elke hoek afgeneem.
Dankie tog vir die Beverly Hills (steeds die toonbeeld van elegansie daar langs die Oyster Box). Anders kon dit lyk ons wittebroodsreis was getoor. Tokkie sê hoeka ons huwelik self is omtrent al van destyds wat nie verbrokkel het nie. Dit hou al 49 jaar.
Durban is ‘n Afrika-ontdekkingsreis in die kleine. Sowat van naamsveranderinge slaan die pilgrim met ‘n volslae lamheid. In die stad wou ek graag ook gaan kyk waar ek in die 50s ‘n jaar of wat gewoon het, op skool was en kerk toe gegaan het Na ‘n yslike soektog kon Tokkie my darem eindelik afneem op die kaal erf wat Botanic Grove 9, ons tuiste, intussen geword het. Die NG gemeente Berea waar ou dominee Adler die leraar was, is nou net ‘n saaltjie by ‘n ouetehuis. By Suidstrand het ek as 10-jarige die eerste keer die branders aangedurf. Die bekende vakansiehotels staan nog fier, maar die plek trek my nie meer nie. Die stadskern lyk verslete.

Hier was ons huis Gelukkig is Berea nog die toonbeeld van grasie met jakarandas wat plek-plek aan Pretoria herinner. By my skool, Port Natal, lyk alles piekfyn en netjies. Die Botaniese Tuin is steeds verkwikkend. Die Moses Mabhida-stadion is ‘n meneer. Boonop het ons op een verdwaal die hoog aangeskrewe Bread Ahead ontdek. Die Durbaniete bak strate beter as wat hulle deesdae rugby speel!
Umhlanga Rocks is ‘n perd van ‘n ander kleur. Verbeel jou die branders breek op Sandton se strand. Dan het jy Umhlanga Rocks, juweel van die Natalse noordkus, skaars 15 km van Durban op die N3.
Die uwe ken Umhlanga maar skraps van die een nag se oorslaap in die Beverly Hills en ‘n paar keer se vinnige inzirts. Dis die vakansiemekka met die pragtige promenade, interessante wandelhoof (pier), elegante hotels aan die seefront, ‘n ontwerpers-vuurtoring en 300 sonskyndae per jaar. Dit was my prentjie altyd.
Poort na Gateway
Maar die keer is Gateway ook op ons program – glo die grootste winkelsentrum in die suidelike halfrond. Toe die een geweldige verrassing op die ander. Die enorme Gateway, wat glo meer as tweemiljoen besoekers per maand lok, is klaar asemrowend. Maar rondom hom verrys vinnig ‘n stylvolle sakestad. Dis die ene moderne wolkekrabbers en boulevards.
‘n Rykmanskolonie. So eerstewêrelds, soos Sandton. Al verskil: hier breek die branders werklik op ‘n skilderagtige strand. En ja, natuurlik sal jy vergeefs na die Gautrein soek.
(Die eerste huweliksnag is deurgebring in die Hotel Winburg, wat later in ‘n “herberg” omskep is.)
Comments