top of page
  • Uitmelkbos

“MAAR EEN VAN DAARDIE DINGE”

Aan die vooraand van ‘n langnaweek is by die Vrystaatse Universiteit ‘n sogenaamde ope dag gehou om matrieks op die kampus rond te wys en touwys te maak. In die groep van die Sentrale Hoërskool was ‘n seun van 18 wat al van ses maande oud ‘n diabeet was. Almal was bewus van sy probleem.

Die middag het hy nie op die gewone tyd by die huis opgedaag nie. Namate die ure rek, het sy ma, Tokkie, al hoe bekommerder geword. Later het sy vriende van hom begin bel. Nee, hulle het hom nie op die bus terug gewaar nie. Sy het die skool probeer. Daar was geen teken van lewe nie. Die hekke was gesluit en die langnaweek in volle gang.

Radeloos, probeer sy toe die universiteit. Die skakelbord was nog oop en skakel haar deur na ‘n vriend by die openbare skakelafdeling wie se pa ook ‘n diabeet was. Hy het dadelik die erns van die situasie besef en alarm gemaak. ‘n Veiligheidwag op sy laaste rondes om lokale te sluit, ontdek toe die bewustelose seun uitgestrek op die vloer van ‘n lesingsaal.

‘n Ambulans is ontbied. Dié jaag met hom na die Universitas-hospitaal langs die kampus .

Toe sy ma by die hospitaal kom, loop sy haar vas in ‘n uitgebreide mediese span onder aanvoering van die hoogs ontstelde professor wat die seun gewoonlik behandel. Die pasiënt was steeds bewusteloos en aan ‘n klomp pype gekoppel. Voorbereidings is getref om hom ‘n hartskok toe te dien as sy hart sou gaan staan.

Die binne-aarse toediening van glukose was gelukkig betyds en voldoende. ‘n Hartskok is net-net afgeweer. Ure later het hy dronkerig sy bewussyn herwin. “Waar is ek? Wat maak ek hier” wou hy by sy ouers langs sy bed weet.

Einde van die storie – buiten vir die medies rekenings natuurlik!

By die skool het geen haan weer daaroor gekraai nie. Die skoolhoof het in salige onkunde voortgeleef. Die “verantwoordelike” onderwyser – onverskillige bliksem! – is nooit voor stok gekry nie. Dalk het hy selfs later ‘n senior pos beklee danksy ‘n “skoon rekord”. Hopelik darem nie. Want ek haas my om by te voeg: in die onderwys was ook baie voortreflikes wie se toewyding niemand kon bevraagteken nie.

In die kultuur van die tyd was wat gebeur het, maar “een van daardie dinge” – ‘n ongelukkige glipsie wat ter wille van die vrede en verhoudinge stilletjies onder die mat ingevee is. Onthou, dit was 30 jaar gelede: toe niemand nog van Facebook en ander sosiale media gehoor het nie.

Die dood van Enock Mpianzi (13) ruk die deksel af. Ons seun, Johan, nou 49, kon ook dood gewees het, besef ons opnuut. Trouens, hy sou ongetwyfeld dood gewees het as daardie veiligheidwag hom nie die Vrydagmiddag bewusteloos op die vloer gekry het nie. Iemand sou die Dinsdagoggend op die lyk afgekom het. Dalk sou die onderwyser dan moes verduidelik waarom op die bus terug een minder kind was as op die bus die oggend.

Die ontsteltenis oor die argelose pligsversuim in die geval van Enock vind sterk aanklank in ons gesin. ‘n Lastige skuldgevoel knaag terselfdertyd. Om koppe te tel, is tog ‘n basiese vorm van kontrole. Hoekom het ons die saak dan maar gelos? As ons en andere oor soveel jare nie skuldiges laat skotvry kom het nie, was daardie basiese, noodsaaklike, feitlik vanselfsprekende dissipline dalk teen hierdie tyd beter ingedril by elke onderwyser wat oor die heil van groepe moet waak.

Ons oorversigtigheid om “nie op tone te trap nie”, was ‘n fout. Kom ons erken dit maar eerlik. Hopelik is dit nooit te laat om ekskuus te vra aan almal wat in die 30 jaar na die amperse treurspel op die kampus van die Vrystaatse Universiteit die lydende partye van gruwelike agtelosigheid was nie.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page