Ek weet dit klink verskriklik erg, maar ek vrek oor 'n klein seuntjie! Daar is net iets anders aan 'n knapie van so tussen 3 en 6 jaar oud wat my behoorlik week van gemoed maak... iets wat ek nog nie in dogtertjies kon raaksien nie. Het seker ook iets te doen met die feit dat ekself net seuns gehad het, en daar aljimmers troppe van hulle in my huis saamgeskaar het. Hierdie tyd van die jaar kan ek my so verkyk aan die mannetjies by die Bulletjie-rugby. Ai julle, daai verbete uitdrukking as hy met die bal langs die doellyn afgehol kom, daai ekstase as hy 'n drie kan druk! Ek tjank natuurlik elke keer... Om van die ouers se ekstase nie te praat nie! 'n Blogger (ek vergeet nou wie) het die afgelope paar dae 'n opmerking gemaak oor ouers se gedrag langs die veld. Ek het myself ook maar lekker skuldig gemaak daaraan destyds... behoorlik soos 'n dronk spiritsm**d tekere gegaan. Op en af gehol saam met die ander ma's en pa's (so 7 maande van die tyd nogal op krukke ook!) Darem nou nie gevloek en beledig nie - net luidkeelse aanmoediging vir whoever die bal gehad het, en ekstra luidkeels as dit my kind was. Nietemin, ek het egter drasties my gedrag verander, na 'n skreeusnaakse insident waartydens ek myself deur ander se oe gesien het. Dit was 'n ander skool se ma wat regtig baie erg was. Sy het naderhand almal geirriteer soos wat sy aangegaan het - selfs die pa, wat rustig aan sy pyp gestaan en suig het. Toe haar knaap weer 'n slag met die bal wegtrek en sy so te se saam met hom langs die kantlyn af hol, al skreeuende, laat waai die pa droogweg met "Boeta paas vir jou ma, sy's oop!" Almal het natuurlik opgecrack, maar dit het haar geensins afgesit nie. Maar ek het van toe af beduidend bedaar.
Elkgeval, ek dwaal alweer van die punt af soos gewoonlik.
Hieronder is 'n paar foto's van Bulletjies in ons omgewing wat behoorlik alles ingesit het. Is hulle nie te dierbaar nie?
Comments