Ons het Sondag van ons eie Ouma Marietjie van Wyk, Tokkie se ma van amper 99, met ‘n aangrypende diens in die NG kerk Melkbos afskeid geneem. Francois Hanekom was die prediker. Hy het opnuut sy meesterskap bewys met ‘n gedenkrede vol deernis en humor, wat ‘n mens opgebeurd met dankbaarheid vervul dat so ‘n mens ook jou lewe aangeraak en verryk het.
Onder Ouma se hopie nagelate dokumentjies was haar doopseël, lidmaatskapsertifikaat, aanstellingsbrief as Sondagskoolonderwysereres wat in ‘n collage op ‘n skyfie op die skerm geflits is. Tussen die dokumente was ook ‘n ander flentertjie vergeelde papier … die eerste kwitansie op haar begrafnispolis, wat op 1 Augustus 1947 uitgeneem is. Foto hierbo.
Daardie eerste premie van drie sjielings (plus-minus 30 sent) het noodwendig oor die jare groter geword. Met hoeveel weet ek nie. Wat ek wel weet, is hoeveel gemoedsrus en tevredenheid haar opbetaalde polis my liewe skoonma besorg het. Die teenwoordigheid van die ondernemer se boekie in haar handsak – soos haar ID-boek en “radioliksens” – was ‘n stut waarmee sy, soos derduisende tydgenote, deur die lewe is.
Hul begrafnisse is betaal, het daardie garde goedgelowig geglo, en glo party steeds van harte. Party verwag selfs dat ná alles nog ‘n neseiertjie sal oorbly wat onder die kleinkinders uitgedeel kan word!
Uiteindelik , 65 jaar later, was Ouma se polis ‘n skamele R869 werd – die prys van ‘n goeie kisruiker.
Polisiehouers kry darem boonop ‘n korting van R2 000 op die totale koste van die begrafnis. Soos ek ondernemers se ingewikkelde tariefstruktuur nou leer ken het, beteken dit dat naasbestaandes hulle maar moet klaarmaak om van R5 000 af (heel basies) tot tienduisende meer uit eie sak op te dok. Dit sluit nie die koste vir die graf of nis in nie.
Ek pen hierdie neer in die grootste deernis, en hoegenaamd nie met ‘n beswaarde gemoed nie. Verstaan tog mooi. Seker maar min mense se harte sal so verhard wees dat hulle oor begrafniskoste van ‘n geliefde sal skeef opkyk of kla.
My tema is maar net dit: dat ‘n mens – veral ‘n oumens uit ons era – met min dinge so “vir ‘n raaid gevat” is as met hul begrafnispolisse, en die vae beloftes waarmee hulle hulle lewenslank laat troos het. Soos Aspoestertjie se koets, het hul lykwaens as’t ware ook pampoene geword!
Comments