top of page
  • Uitmelkbos

LY EN LY WEENS LUI EN LUI

Klokslag gebeur dit: Praat op die telefoon en hy lui in jou ore.  Iemand anders probeer deurkom.  Die ergste is: Aan die ander kant hoor die oproeper ook net die telefoon lui, lui, lui.  As hy hom lank genoeg laat lui, betaal hy vir ‘n oproep.

Ons ly al hoe lank weens  die luiery. Eerste keer by een van Telefoon se diensnommers ‘n hulpvaardige iemand raakgeloop. Dié het lank gewerskaf en toe aangekondig ek moet nog net die een of ander kode intik …. Dan is die Kaap Hollands.  Helaas.

‘n Melkbosse vriend ken ook daardie kode. Dit is #66#, deel hy mee. Druk net die regte knoppies. Einde van die pyn. Ek druk maar aikona. Tokkie druk maar aikona. Die gelui in ons ore duur voort.  Die begeerde ou besettoon waarmee ons grootgeword het, is steeds skoonveld.

Ander vriende luister simpatiek na ons probleem. Ja, hul telefoon het skielik dieselfde nuk openbaar.  Net een raad: Jy moet Telkom toe ry om die spulletjie reg te stel.

 Gister doen Tokkie dit. Los haar man, sy nuwe heup en sy kruk veilig op ‘n hoë stoel geparkeer en sit af Table View toe om vir eens en vir altyd  van die doring in ons telefoonvlees  ontslae te gaan raak.

 Sy staan ‘n halfuur tou.  Kom by ‘n onbegrypende dame uit.  “Problem?  What is the problem?”  Die antwoord is mos eenvoudig, reken sy: Jy skakel net die mense terug: “Jammer jy kon nie deurkom nie, die telefoon was beset.”

 Daarvoor het jy ‘n sekretaresse nodig, protesteer Tokkie. Ons verkies die telefoon moet sommer die ou joppie self doen. Soos al die jare.   Asseblief, asseblief, ons pleit vir die herstel van die besettoon wanneer die telefoon beset is. Kan mos nie te veel gevra wees nie!

 Gewerskaf op die rekenaar. “Goed, mevrou, jou besettoon is herstel.”

 Gisteraand bel ‘n vriendin op die selfoon: “Fout met julle telefoon?” “Nee, Tokkie was op die lyn.  Het jy nie ‘n besettoon gekry nie?”

 Niks gekry nie, antwoord sy. Heeltemal niks.  ‘n Doodse stilte, dit is al.

 Toe ek my vrou die resultaat van haar ekspedisie meedeel, kon ek sweer daar glinster ‘n traan in haar linkeroog.

 Het iemand iewers tog nie raad nie?  Of smyt ek eenvoudig die landlyn by die venster uit?

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page