Oor “Duisend dae in die Sabie” het Vrydag ‘n “gulle”* resensie in “Die Laevelder” verskyn. Die resensent is Marius Bakkes, ‘n media-raadgewer en redakteur van reis- en toerisme-tydskrif in die Laeveld, en bestempel homself o.m,. as “bymekaarmaker van alles wat oor die Laeveld geskryf word.”
Bakkes skryf:
“Oud-koerantman Hennie van Deventer se “Duisend dae langs die Sabie” is ‘n hedendaagse werfjoernaal wat veral tot baie in die Laeveld sal spreek. Dis die aantekeninge en kant-aantekeninge van etlike jare se gereelde verblyf by sy vakansiehuis in Sabiepark.
“Hierdie is ‘n uitsoek- private ontwikkeling op die walle van die Sabierivier digby die Krugerhek. Talle bekende Suid-Afrikaners en wildliefhebbers het oor die jare daar vakansieplekke en woonhuise gehad. Ek dink aan Mimi Coertse en die sakeman Werner Ackerman. Die bekende Afrika-wildlewe-kinematograaf David Hughes en sy fotograafvrou het op ‘n stadium permanent hier op Sabiepark gewoon. Oor hulle het ek weer ‘n SAUK-televisiedokumentêr kom maak na die bekendstelling van Hughes se suksesvolle National Geographic-produksie “The last feast of the crocodiles”. Die bekende argitek, kunstenaar en bewaringskundige, Hannes Meiring wat onlangs dood is en sy vrou, die joernalis Martie Retief het my en ‘n paar vriende een slag die eksklusiwiteit van Sabiepark laat beleef. Hannes en Martie het hulle lieflike Afrika-huis hier op die rivierwal vir ‘n naweek tot ons beskikking gestel nadat hulle weer op ‘n keer my wegbreekhuisie op Rhodes in die suidelike Drakensberge besoek het.
“Van Deventer was onder meer redakteur van Volksblad in Bloemfontein. Hy het as uitvoerende hoof van koerante by Naspers afgetree. Sy vol lewe as persbaas het hom egter nie verhoed om talle publikasies, meestal herinneringskrifte en vertellings die lig te laat sien nie. Duisend dae langs die Sabie is die jongste en handel oor die ervarings wat van Deventer en sy mense oor die jare hier beleef het. Die van Deventers wissel woonplekke met ‘n aftree-strandhuis by Melkbosstrand af.
“Hier op Sabiepark is hy en sy vrou Tokkie fyn waarnemers. Synde oorkant die rivier van die Krugerwildtuin bly Sabiepark met sy woonhuise verskuil van mekaar tussen die bosse die ideale plek op die wildbedrywighede te bestudeer en van naby te beskou. Dikwels is dit sommer van die stoep af, en dis dit wat van Deventer hier raakvat.
“Sy poging is ‘n goeie voorbeeld vir enigeen van ons wat graag veldnotas maak. Hy dra sy belewenis gul oor en maak mens lus om net weer iewers in ‘n ruskamp of reservaat te wees – stil te sit en te ervaar.
“Vir my as bymekaarmaker van alles wat oor die Laeveld geskryf word, is dit ook ‘n belangrike publikasie. Dit is nog ‘n ervaring aangeteken en ‘n tydgees vasgevang. Dikwels is dit daardie enkele eenvoudige herinneringskrif bedoel net vir familie wat die geheim van mens en plek soos dit eens op ‘n tyd was die beste ontsluit. Hier is dit ‘n deurwinterde Afrikaanse joernalis aan die woord.
“ ‘Duisend dae langs’ die Sabie is te kry by die Park Shop-winkels in die wildtuin. Dis ook beskikbaar by Protea Boekehuis in die Tarentaalsentrum in Nelspruit. “
*Ek leen die woordjie “gul” by die resensent, wat bevind dat die skrywer sy belewenis “gul” oordra en ‘n mens “lus maak om weer iewers in ‘n ruskamp of reservaat te wees – stil te sit en te ervaar”. Die opskrif is: “’n Unieke werfjoernaal”.
Comments