Die luiperd se prooi. Die bosbkoram is goed gekamoefleer in ‘n boom in Sabiepark.
Ek berig uit ‘n Sabiepark wat in die greep van ongekende luiperd-koors verkeer. Verlede Vrydag voor die jaarvergadering het ‘n luiperd ‘n bosbokram in ons straat, Wildevylaan, platgetrek, naby die piekniekplek.
Daarmee het die geheimsinnige sluiper hom nou aan meer Sabieparkers as ooit tevore openbaar. Hope Sabieparkers het die luiperd daar rond gesien, voor en na die vangs. Kameras het glo aanhoudend geflits. Vir ons minder gelukkiges was daar darem ‘n bloedkol en ‘n bok-kloutjie as bewysstukke.
Gistermiddag sit ons op die Van D-stoep en gesels toe die vrou des huises, Tokkie, skielik uitroep: “Wat hardloop daar?” Sy rapporteer “ ‘n valerige ding met kolle”. Almal spring op. Twee gaste sien die luiperd helder en duidelik voordat hy weer in die bosse verdwyn.
Die rooibokkies en sebras in die omgewing reageer senuweeagtig. So ver ek weet, was daar nie weer ‘n vangs nie. ‘n Stewige bosbokram het baie vleis.
Ons mis ons kleinkinders, Jacob, Thomas en Christopher, wat gister huis toe is, geweldig. Aan die ander kant is ek ietwat verlig. Dat hulle so heen-en-weer by die luiperd se houplek moes verbystap piekniekplek toe het my keel laat toetrek.
Twee okkasies was die 70-jarige verjaardagfees van my studentemaat Vos Grey by Ermelo en ‘n uitslaap-nag by ‘n nuwe tentkamp naby Pretoriuskop.
By eersgenoemde het ek beleef hoe doen die ou Oos-Transvaal se boere ‘n ding. Die fees het om 11:00 begin met koffie, tee en soetgoed. Dis teen 16:00 verdaag met ditto. Tussen is behoorlik weggelê aan koningskos.
Nog ‘n studentemaat, Johan Bekker, en sy vrou, Antoinette, van Jacobsdal het na die fees saam Sabiepark toe gekom. Op hul eerste dag in hul lewens in die Wildtuin sien hulle toe meer as die Van D’s tot dusver in ons hele vakansie. Lyk of my roetes vir ander mense beter uitwerk as vir ons!
Die tentkamp se naam (ek noem dit liewer nie) verwys na ‘n rivierstroom wat stadig vloei. Ironies genoeg, was die stroompie droog toe ons daar opdaag; Geen water weens ‘n olifant se aanslag op die waterpype.
Nou-ja, olifante maak wat hulle wil. Dat die water ure lank af was, kon die arme bestuur seker nie verhelp nie. Maar ook in ander opsigte was ons verwagtinge te hoog. Die glansfoto’s op die webwerf is bepaald ietwat misleidend en die volume van busvragte buitelandse toeriste wek die indruk van ‘n worsmasjien.
Om te dink dat ek ‘n aand op Sabiepark se stoep daarvoor verruil het, laat my diep dislojaal voel teenoor my eie plek. Dan het ek nog betaal ook vir ‘n boservaring wat ver afsteek by die Ware Jakob. Dan praat mense van die wysheid van die grysheid!
Comments