In die sogenaamde lotto-debakel rondom die stomme Philanders van Kaapstad staan twee feite uit:
(i) Die Philanders het ‘n lang kans gewaag, wat nie afgekom het nie;
(ii) Die media was aan die slaap en agtelosig.
Al die verwarring by mense wat nie kan verstaan wat gebeur het nie, vrese oor bedrog, aandrang op onafhanklike ondersoeke en suggesties dat die ware wenners die prysgeld met die Philanders deel, is dus loutere onsin, omdat dit alles op wanpersepsies berus.
Ag, hierdie ou man wat 12 jaar gelede al sy kantoordeur by Naspers agter hom toegetrek het, het tog nie die strewe om ‘n tweede-linie-ombudsman te wees wat mediakwessies probeer uitpluis nie. Oor hierdie geval word egter só bontgepraat dat dit eenvoudig onmoontlik is om te bly swyg.
In die stukkie hierbo wat as illustrasie dien, kom ene Brigitte Ottermann die media sterk by oor slonsige joernalistiek. Volgens haar “the media messed up big time”. Daaroor stem ek met haar van harte saam.
Kernfeite is nie voor publikasie gekontroleer nie – amper ‘n klassieke surreksie van die skertsende opmerking by koerante in my tyd: “Don’t let the facts interfere with a good story!”
Die enigste scenario is immers dat die Philanders se “wenkaartjie” gekoop is NADAT die uitslag van die betrokke trekking aangekondig is. Geen ander verklaring bestaan nie. Hoe maklik is dit dan nie om die (reeds aangekondigde) wennommers in te vul nie!
Daarna laat die poniekoerant “Son” toe dat hy met slap pap in ‘n wip gevang word. Waarskynlik om die boereverneukery met die agterna-gekoopte kaartjie geloofwaardigheid te probeer gee, kry hy ‘n wenk dat die Philanders die R91 miljoen gewen het.
Sy verslaggewer en fotograaf val só oor hul voete om die “groot storie” in die koerant te kry dat hulle die mees basiese joernalistieke eis veronagsaam: om van hul feite seker te maak. Een kyk na die datum op die kaartjie sou die Philanders immers as kansvatters ontmasker het.
Maar nee, “Son” publiseer. Niemand op kantoor langs die linie af vra die klaarblyklike vrae nie.
Toe volg die ernstige dagblaaie en die ander media holderstebolder. “Son” se storie word uitasem opgevolg. Maar steeds bly die kernvraag oor die geldigheid van die kaartjie onbeantwoord.
Watter onsin om dan daarna, welwetende wat die feite is, in die opskrif van ‘n hoofberig, nogal, vroom te verklaar: “n Droom lê aan skerwe”! Dis mos die opperste leser-misleiding. Al droom wat aan skerwe was, was klaarblyklik die Philanders se droom om R91 miljoen met ‘n slenter in te palm.
Ook me. Ottermann tas in hierdie opsig mis en kom ná al haar (ander) korrekte ontledings by die verstommende slotsom uit dat die Philanders onskuldige slagoffers van die bokkerop was, wat almal se simpatie verdien.
Sy wil selfs sien dat die ware wenners hul prysgeld met die Philanders deel. Goeie aarde, hoe maklik sal dit dan nie vir ander opportuniste wees om vorentoe dieselfde slenter uit te haal en te kom bakhand staan oor “n droom aan skerwe” nie?
Die Philanders se haglike omstandighede en klaarblyklike naïwiteit noop ‘n mens om instinktief met ‘n “ag siestog” te reageer. Maar die harde waarheid is: hulle het geweet wat hulle doen. Toe verbrand hulle hul vingers. “Droom aan skerwe” se voet.
Die munt het ook ‘n keersy. Dit is dat die media ‘n dure plig teenoor hul lesers/kykers het om openhartig te wees oor hoe hulle kontroles op ‘n kritieke punt só klaaglik gefaal het. Ek het nog nêrens werklike boetedoening hieroor gesien nie – ook nie in vanoggend se Ombudsmanrubriek in “Die Burger” nie.
Comments