Enkele los gedagtes terwyl ek Jaybee Roux se jongste in Beeld goed bekyk:
Is Beeld se boekebelad van vandag ‘n teken van dít wat op ons wag? Twee van die resensies het reeds op Die Burger se boekeblad verskyn, wat by diegene wat die dagblaaie op die internet lees, soos ek, ‘n vreemde soort irritasie wek. Minder is nie meer nie, al het Mies wat gesê.
Lekker gelees aan Carina Diedericks-Hugo se resensie van die jongste speurroman van Stieg Larsson, “The Girl Who Played With Fire”. Ek wens sy wil haar blog weer aan die gang kry – dit was vroeg Februarie laas aktief.
Verstommend hoe gesaghebbend ‘n resensie lees as die resensent ‘n slag ‘n kenner op die boek se gebied is. Willem Pretorius het al in Van Alle Kante verwys na sy belangstelling in bonsai. Sy bespreking van “Bonsai: Kuns in die kleine” is baie goed: Hy verduidelik waar die boek in die rangorde staan van plaaslike boeke oor dieselfde onderwerp, gee krediet waar dit toekom, en vir die res is hy “underwhelmed” op ‘n baie mooi manier. Jy moet dit lees om dit te geniet.
Joan Hambidge het voor die skryf van haar resensie van Antjie Krog se “Digter wordende: ‘n Keur uit die gedigte van Antjie Krog” moes besluit of sy omvattend sou skryf, of kernagtig. Eersgenoemde sou seker die maklikste gewees het, sy is immers bekend as iemand met ‘n deeglike begrip van Krog se oeuvre. Maar dit is moeiliker om die kernagtige, opsommende bsoort espreking te skryf, soos sy dit gedoen het, en baie goedgedoen het. Dis amper kartetse wat sy in die leser se rigting afvuur; tesame gelees ‘n samevatting van kenmerke en kragpunte in Krog se poësie.
Comments