top of page
Uitmelkbos

Loopgrawe en onderrokke

Lona Gericke skryf oor Chuck Norris kan deel deur nul, deur Annelie Ferreira, Uit, deur Fanie Viljoen, Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran, deur Eric-Emmanuel Schmitt,  Moord per suurlemoen, deur Jelleke Wierenga, Bennie Boekwurm vertel lekker stories, deur Louise Smit. (Rapport Boeke) ’n Boekhandelaar vertel my by die Woordfees op Stellenbosch dat die eerste loopgraaf waaruit daar vir Afrikaans geveg word, dié van jeug- en kinderlektuur is. Dis daardie ou opvatting dat as kinders nie vroeg al ’n liefde vir boeke verkry nie, hulle nooit as volwassenes lesers sal word nie. Lona Gericke doen met hierdie vyf resensies haar deel vanuit daardie voorste loopgraaf. Op die oog af lyk dit of Gericke ’n beginselbesluit geneem het oor die manier waarop sy die resensies aangepak het. Sy moes besluit wie haar lesers is, en verstaanbaar, meen ek, het sy gemeen dit sal ouers eerder as jong lesers wees, heel prakties. Om dié rede is haar hele aanpak van só ’n aard dat mens in elke geval ’n idee van inhoud kry, asook van die vaardigheid van die skrywer. Die ouer kan dan self besluit of dit die soort boek is wat tot sy/haar kind sal spreek. Al wat ek mis by dié resensies is ’n aanduiding vir die ouers oor die beskikbaarheid van die boeke as e-boeke. Alles goed en wel? Kan enigiemand gerus wees as dit as vanselfsprekend aangeneem word dat kinders nie koerant lees nie?

Ilza Roggeband bespreek Stukke teater, deur Pieter-Dirk Uys. (Boeke24) Roggeband fokus in haar resensie op Pieter-Dirk Uys se geskiedenis en hoe die vyf tekste wat in hierdie boek opgeneem is, bygedra het tot sy oeuvre. Goed en wel. Dit is sekerlik nie ’n slegte ding dat hierdie tekste beskikbaar bly nie, maar Roggeband is skynbaar onbewus van die problematiek rondom dramatekste: Wie lees dit? ’n Bloemlesing met dramatekste laat mens onmiddelik wonder of daar ’n prys van die SA Akademie na Pieter-Dirk Uys op pad is.

Marius Crous resenseer Oorsee, deur Tertius Kapp. (Boeke24) ’n Week later bevestig Marius Crous my vermoede – dit is weer vanjaar drama se beurt by die Hertzogprys. Crous bepaal hom meestal by die digkuns, maar die aanslag en gesag waarmee hy Oorsee benader, laat my dadelik voel hy moet meer dikwels oor ander genres as die poësie skryf. En vir Tertius Kapp, vir wie volvulling uiteindelik eers sal kom wanneer besprekings van die opvoering van Oorsee geplaas word naas hierdie resensie, is Crous se evaluering sekerlik van baie groot waarde. Baie dinge kan skeefloop met ’n opvoering, maar as die teks nie inhoudelik sterk is nie, beteken die opvoering nie baie nie. Crous weeg en vind Oorsee meer as voldoende.

Dewald Koen skryf oor Die potlooddief se bruid, deur Keina Swart. (Boeke24) Vanjaar is die jaar van die rubriekskrywers, lyk dit my. Keina Swart is vir my ’n nuweling, en dis nie haar skuld nie – ek is net ’n baie sporadiese koerantleser en steek my neus nooit in tydskrifte nie. Dewald Koen se bespreking is gloeiend, maar ek is ’n bietjie skepties oor sy opmerking dat alle Suid-Afrikaners hulle met een van die mense in Swart se verhale sal kan vereenselwig. Almal? Hoe wyd reik Afrikaans?

Fransjohan Pretorius resenseer Rebelspoor, deur L.J. Bothma. (Boeke24) Daar is nog baie mense wat belang stel in die geskiedenis van die Afrikaner. As mens kyk na al die twak wat die ver-regses op die sosiale media kwytraak oor die geskiedenis van die Afrikaner, soek ’n mens by ’n selfpublikasie soos hierdie ’n gesaghebbende mening om jou te oortuig dat die boek die koop en lees werd sal wees. Of nie. Fransjohan Pretorius is die ideale persoon vir dié taak, en sy bespreking is ook van so ’n aard dat mens dit net kan lees vir die inligting wat hy deurgee.

Martie Retief-Meiring bespreek Pruimtwak en skaduboksers, deur Danie Marais. (Rapport Boeke) Een opmerking in hierdie baie positiewe resensie van Danie Marais se versameling rubrieke en essays trek onmiddelik die aandag. In die eerste paragraaf skryf Retief-Meiring dat die titel absoluut onaanvaarbaar is. Sy maak die opmerking, maar sê nie hoekom sy só negatief daaroor voel nie, en gaan onmiddellik voort om die bundel se goeie hoedanighede te bespreek. ’n Mens aanvaar alles wat sy sê, want as gesiene rubriekskrywer praat sy met gesag. Tog is dit daardie opmerking oor die titel wat bly smeek om ’n verduideliking, en wanneer dit wegbly, die indruk wek dat dit gewoon persoonlike smaak is wat daar praat.

Elmari Rautenbach resenseer Ikarus, deur Deon Meyer. (Rapport Boeke) Resensies van Deon Meyer se romans is in baie opsigte “tasters”. Dit is noodsaaklike leesstof vir die ingewydes, wat ’n proeseltjie nodig het om te weet dat alles nog wel is met hul skrywer en dat die nuutste pennevrug op sy gebruiklike hoë peil is. Dit is ook vir diegene wat nu en dan ’n Meyer-boek sal opneem, of dit nog nooit gedoen het nie, ’n prikkel, ’n aanspreking – kyk, hier is waaroor dit gaan, wat keer jou? Elmari Rautenbach bevind haar in die aangename posisie dat dit eintlik nie nodig is om oor die gehalte van die skryfwerk te moet oordeel nie. Wat sy moet doen, is om haar twee lesersgehore iets te gee wat hulle end-uit sal lees, en dalk sal herlees, soos mens met resensies soos hierdie doen, vir implisiete leidrade wat die reeds bekeerdes daardie ekstra spoed boekwinkel-toe sal gee, en die ander sal laat wonder wat hulle mis. Rautenbach is ’n gesoute joernalis, en het haar resensie “verpak” met die wete dat sy ook moet oplet vir dinge wat ’n eietydse leser sal snap. Soos die verwysing na die kool-klankie in een karakter se kantoor, met net daarna die opklaring oor professor Tim. Dit is top-gehalte resensies soos hierdie wat lesers na ’n boekeblad lok.

Dineke Volschenk skryf oor Rewolusie van die hart, deur Adriana Falling. (Rapport Boeke) Nog ’n ou hand in die boekewêreld, Dineke Volschenk, skryf oor ’n boek in ’n genre wat nie dikwels boekeblaaie haal nie: ’n Christelike roman. Ek wonder baie in watter rigting die letterkunde volgende gaan beweeg, en Volschenk se opmerking dat Christelike romans ook ’n plek in die letterkunde het, is daarom vir my opvallend. Ons het ’n lang pad gestap sedert C.M. van den Heever.

Riete Rust bespreek Pedale van papier, deur Rhona Scheepers. (Rapport Boeke) Riette Rust teken dadelik aan hoekom Pedale op papier die aandag trek. Dis ’n debuutroman oor ’n kind wat deur ’n kerkman gemolesteer word. Rust skryf onderhoudend en begrypend, maar algaande begin mens vermoed dat haar moed eintlik in haar skoene is – weens swak redigering, taalfoute en uiteindelik iets onverwags, naamlik dat die geheel dweperig is. Dit laat my dadelik aan Dineke Volschenk se opmerking (hierbo) dink. Versigtig trap, Crito, dat jou onderrok nie uithang nie.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page