top of page
  • Uitmelkbos

LOOPBAAN OP DIE VERHOOG

‘n Kabouterkoning in 1952, ‘n energieke klavierspeler in 1956, ‘n dominee in 1957 en ‘n mislukte oudisie as ‘n donkie (een van my beste vriende, wat later ‘n bekende regter geword het, is vir die rol verkies). Dit som so plus-minus my verhoogloopbaan op skool op na my belowende debuut as danser van die Franse minuet in 1947 (vorige blog).

Nee, ekskuus, HvD – ek was in ‘n stadium as voordragkunstenaar nogal gereken en my weergawe van “Wie het ‘n lot wat soos my lot so swaar is?” kon trane in die oë van tydgenote van die vroulike geslag bring.

Dan was daar my rol as Hennerik in ‘n Volkie-weergawe van die bekende radioprogram van doerie tyd Die Mielieblaarklub. Die klub het gereeld by debatsaande in ons matriekjaar aangeleenthede van diepe impak op die skoollewe filosofies ontleed. Hennerik was nie die ster nie, maar tog ….

Die kabouterkoning se rol was nie veeleisend nie. Ek moes bak-arm op die verhoog rondloop en geluide maak soos ‘n verergde bobbejaan s’n. Die rol het my gekwalifiseer vir ‘n satynkostuum wat tog daaraan ‘n sekere gesogtheid verleen het.

‘n Vernamer rol was dié van die prins, met ‘n kleurryker kostuum en heelwat woorde om welluidend te spreek. ‘n Mooier seun het die rol voor my neus weggeraap, al was ek, volgens eie oordeel, ‘n beter proposisie.

Die dag toe ons ons kostuums kry, kom die prins en die kabouterkoning in Nieuwestraat, Potchefstroom, op ons fietse van die skool af gery, elk met sy kostuum in die een hand. Een kyk na die mooi seuntjie agter die kleurryke satyn-kledingstuk van die prins het Ma verbaas teenoor Pa laat opmerk: “Hier kom Hennie met ‘n meisie”. Die “meisie” is vandag ‘n plastiese chirurg, wat steeds na voorkoms die destydse kabouterkoning na die kroon steek. Weet nie of hy onder sy “eie medisyne”

deurgelooop het nie.

Die energieke klavierspeler “John (Lover Boy) Massey” was ek in ‘n nagklub-orkes in ‘n mimiekspel in standerd nege. Ons had in ons mimiekgroepie ook ‘n ou met ‘n Hawaiese kitaar wat ek goed onthou, en ek meen ook o.m. ‘n tromspeler. Ek wou altyd graag klavier gespeel het en kon my inleef in die geluidlose spel op die glimmende wit en swart note terwyl die dansplaat op die draaitafel dreun.

My domineerol het ek met onderskeiding gevul, meen ek, buiten op die eerste aand toe ek weens ‘n aanval van verhoog-angs of iets my preek wat oor twee bladsye gestrek het, op bladsy twee begin voordra. Dit het fyn voetwerk gekos om daardie draai gemaak te kry om die begin en die einde om te ruil. Wonder nou nog of iemand in die gehoor dit agtergekom het. Die onderwyseres wat ons afgerig het, het wel. Sy was nie geamuseer nie.

Die rol van die donkie was in ‘n musiekblyspel in matriek oor Ali Baba en die Veertig Diewe. Die rol het my ontwyk omdat ek nie eens noot kon hou as ek soos n donkie probeer balk nie!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page