So was dit – Stories van gister en vandag, deur Johan van Wyk. Resensie: Herman Lategan. (Rapport Boeke) Ek het al gewonder wat is die grootste kompliment wat ‘n resensent ‘n boek kan gee. Herman Lategan het hier ‘n lofbetuiging gelewer wat die resensie sommer vlerke gee. Hy haal uit die boek aan, en reageer dan só: “Nadat ’n mens so iets lees, bly jy liewer stil. Dié boek gee ek nie weg of vat dit na ’n tweedehandseboekwinkel nie. Dis te kosbaar. Hy bly op my boekrak (om herlees te word) tot die dag wanneer ook ek na beter oorde verhuis.” Goed, dis al voorheen gesê, maar nie op hierdie manier nie.
In die aanslag op onse velle val ons bloed op die grond, deur Frans Calitz. Resensie: Herman Lategan (Rapport Boeke) Lategan sê mens moet nie jou neus optrek vir boeke wat deur die skrywers self gepubliseer is nie. En dan verwys hy na S.J.A. de Villiers se Kook en geniet. Goed en wel. Alles wat hy oor die boek sê, al die kritiek wat hy uitspreek of op versagtende wyse insinueer, laat mens dadelik besef dat hierdie publikasie ‘n professionele uitgewer nodig gehad het. Ofskoon hy dan wal gegooi teen vooroordeel, slaag Lategan dan wel daarin om my te laat besluit om nie hierdie boek te koop en te lees nie.
Duisend dae op jou spoor, deur Cas Vos. Resensie: Zandra Bezuidenhout. (Rapport Boeke) Afrikaanse boekeblaaie gee meer aandag aan digbundels as aan prosa – meer romans kry nie die gelukkie van ‘n resensie nie, terwyl vrot bundels kosbare sentimeters koerantruimte ontvang. Zandra Bezuidenhout het hierdie bundel benader met die wete dat sy Cas Vos se vorige bundels hoog aangeslaan het, en is iemand wat, soos sy dit formuleer, Cas Vos se spoor volg. Dit is belangrike inligting om te verskaf, want dit verklaar hoekom sy die bundel in gedempte toon bespreek, en uiteindelik ‘n mening formuleer wat dit vir jou duidelik maak dat dit só ‘n mindere poging deur Vos is dat dit net vir diegene is wat Vos se spoor volg. Die vraag wat by my ontstaan, is of dit nie beter sou wees om net haar slotparagraaf te gepubliseer het, en die res van die ruimte aan ‘n verdienstelike roman af te staan nie?
Evolusie, Wetenskap en Geloof, deur Jaap Durand. Resensie: Cas van Rensburg. (Rapport Boeke) Die titel van hierdie boek laat mens se moed sak. Hoe sê die rugbyskrywers? “Snuifgetrap.” Ek het nie rekening gehou met Cas van Rensburg nie. Sy hele aanpak kom neer op ‘n blitskursus oor Teilhard de Chardin, via Jaap Durand se reaksie op hom. Dis interessant en meevoerend geskryf, en die moeite werd om end-uit te lees. Wens net die titel was meer vindingryk!
Rangeer, deur Clinton V. du Plessis. Resensie: Nini Bennett. (Rapport Boeke) Jammer, “hoewel sommige gedigte nog die nodige afronding kort” is nie genoeg van ‘n kritiese reaksie op Du Plessis se bundel om vir hom of die leser nuttig te wees nie. Wat help dit mens pak ‘n bundel tematies uit, maar jy takseer nie die digkuns nie? En om sake te vererger, probeer Bennett om die digter te plaas teenoor ‘n rits ander digters en pop kunstenaars, en les bes ook die Beat Generation, alles in een paragraaf nadat sy soveel ruimte afgestaan het aan verduidelik en aanhaal (sonder evaluerende respons) en eintlik bitter min gesê het. As dit so ‘n goeie bundel is, verdien dit ‘n beter, reaktiewe resensie.
My hel in Dubai, deur Selna Visser, en Ilse Salzwdel. Resensie: Vernon Janse van Rensburg. (Boeke24) Kyk, dis een ding om respek en deernis te hê met die person oor wie ‘n boek handel, en ‘n ander ding om ‘n swak boek deur daardie persoon en haar hulpskrywer krities te bespreek. Janse van Rensburg gee genoegsame blyke dat hy bewus is van die boek se leemtes, maar deins dan uiteindelik weg van ‘n reguit kritiese samevatting.
Die ander vrou, deur Kristel Loots. Resensie: J.B. Roux (Boeke24) Dankie aan die resensent vir die opdiep van hierdie aanhaling: “(…) French kiss dat jou panty sommer vanself van jou lyf af val.”
Koljander, deur Carié Maas. Resensent: Annamarie van der Walt. (Boeke24) Maas kan haar gelukkig ag met die resensente wat haar debuutwerk bespreek. Christell Stander het ‘n besonder knap bespreking in Rapport gelewer, en nou het Annemarie van der Walt vir Boeke24 ook ‘n baie leeswaardige resensie geskryf. Van der Walt is bereid om meer van die verhaal te vertel, maar ook sy skram weg van te veel inligting gee. Noudat ek die roman self gelees het, besef ek hoe ‘n fyn spel Van der Walt speel; en ook hoe gepas haar kritiese opmerkings oor ‘n verskeidenheid elemente in die roman is. Ek kan wel op een punt van haar verskil. Met verwysing na die besonderse aanwending van style in die dialoog, sê sy: “Waar dit wel soms effens haper is in die mond van die karakter Dominique, Karen se ontwerper. Dit neig om plek-plek te gemeenplasig te raak en strem die gang van die verhaallyn.” Is daardie gemeenplasigheid nie juis die punt nie – dit gee jou ‘n blik op haar karakter.
Dwelmslagoffer: Sestien jaar in ‘n Thai-tronk, deur Joanne Joseph, met Larissa Focke. Resensie: Susan Cilliers (Boeke24) As mens van die resensente van romans kan verwag dat hulle nie die hele verhaal aan jou moet vertel nie, sou mens eweneens van die resensent van ‘n niefiksie-boek oor die lewe en lotgevalle van ‘n dwelm-muil ook kon verwag om nié te skryf nie oor daardie een vraag wat altyd gestel word aan dwelm-muile wat gevang word. Wie het jou vliegkaartjie betaal en wat was die doel van jou reis? Mens kan net aanneem dat dit wel deeglik in die boek self bespreek word. Susan Cilliers pypkan die natuurlike slaggate van ‘n resensie soos hierdie, en draai mens se gedagtes in ‘n ander rigting. Die boek gaan nie oor die rede hoekom Vanessa Goosen haar in ‘n Thai-tronk bevind nie, maar oor die karakter wat sy openbaar het om haar beproewing te oorleef. Netjies.
コメント