top of page
  • Uitmelkbos

LIKKEWAAN IN DIE GRAS(-DAK)



Langtermyn-gas?

‘n Slang in die gras spel gevaar. ‘n Likkewaan in die gras spel net moeilikheid. Groot moeilikheid.

As daardie gras die gras op jou boshuis se dak is, en dit is boonop bedek met ‘n blikkappie (Harveyteëls), sit jy waarlik hande in die hare. Om slange te vang, bestaan raad. Om likkewane te vang – dis ‘n ander storie.

Ons kinders Brent en Marisa wat met hul drie seuns in Sabiepark kuier, bemerk vreemde agterpote onder die dak uithang toe hulle wil vuurtjie aansteek. Dadelik ‘n “telefoonkonferensie”. Hy moet uit is die konsensus.

Hulle probeer met braaitang en so. Die pote verdwyn. Die kantoor word geroep. Voel-voel met ‘n lang stok lewer niks op nie. Mnr. Likkewaan – sy tuiste is ‘n miershoop onder ‘n huilboerboon skuins agter die huis en hy het al ‘n keer moles gemaak deur skielik in die badkamer van die hoofslaapkamer te verskyn – het hom egter nou te diep ingewikkel.

Lok hom uit met hoendereier, is die raad. Tot dusver lewer die eier-strategie egter nog niks op nie. En die kinders keer op 9 April terug Kaap toe.

Vir die dak-kontrakteur het ek intussen laat weet: Jy sal moet dringend help om die probleem opgelos te kry, asseblief. Die dak is blykbaar nou sy nuwe “onderdak” en ‘n opening bo die afdak is sy “deur” waar hy inglip en uitglip. Die probleem is dat die likkewaan skade aanrig. Volgens my kinders is skade al sigbaar. Volgens die parkhoof se regterhand kan hy “verwoesting aanrig”.

‘n Mens kan natuurlik nie net die opening toe maak as jy nie seker is dat die likkewaan uit is nie. ‘n Dooie likkewaan gee glo ‘n afgryslike stank af. Ons sal dit nie kan uithou in die huis nie.

Ek het ook by studentemaat Piet Henning, voorheen van Chiredzi en op die oomblik van Louis Trichardt, aangeklop. Piet ken die bos en sy inwoners soos die palm van sy hand. Hy laat weet: “Likkewaan is inderdaad lief vir eiers; half-makkes reageer entoesiasties as jy dit na hulle op die gras rol. ‘n Wilde een moet seker dié vrygewigheid aanleer, meer moeite om hom te lok as hy onbewus daarvan onder die te?ls lê en dut.

“Daarteenoor, dakstaal word vuurwarm in die son, soos jy sal weet. Selfs likkewane kan so’n hitte nie maklik in die middle van die dag hou nie – tot 70°C of meer miskien? Jy’t seker al gesien hoe bak iemand ‘n eier op ‘n kar se warm enjinkap?

“As hy gelukkig is met sy nuwe huisvesting is hy natuurlik ‘n moontlike permanente gas, soos jy antisipeer, en wat eendag te dik kan word of wat ookal en dan vassit. Ons het so ‘n ervaring met ‘n eekhorinkie in die plafon gehad. ‘n Besonderse ryp aroma het mettertyd ontwikkel en die hele huis geparfumeer.

“Waar bobbejane, ape, ens. grasdakke vandaliseer, span mense dikwels vo?ltjiedraad oor die hele dak om hulle te keer. Miskien dieselfde gebruik aanpas op kleinskaal by Tarlehoet vir jou gemoedsrus?”

Die jongste is dat ook Stefan Broekman, parkhoof, projekteer dat ons nou ‘n langtermyngas het. Hy meen egter die ou sal hom net gemaklik inskommel en nie te veel – nie te veel! – skade aanrig nie.

Maar ek kry nagmerries: likkewane wat uit die dak op my neerstort terwyl ek slaap. Of daar’s ‘n dooie-reptiel-aroma wat die hele huis “parfumeer”. Ons is op 9 Junie daarheen op pad. Wat gaan ons inwag?

12 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page