Ons almal struikel dikwels, sê die Groot Boek. “As iemand nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man.” Nie almal erken egter ewe maklik as hulle gestruikel het nie – of, nog erger, deur hul struikeling ook ander tot struikeling gebring het nie.
Supermarkte stel nogal hul foute reg. Gee die duiwel wat hom toekom. Party gee vir jou ‘n produk absoluut verniet as dit verkeerd gemerk op die rak staan. Ook die vermaledyde koerante is nie onwillig om foute te erken nie, amper op ‘n daaglikse grondslag. Oor simpele foutjies soos ‘n van wat met ‘n “d” gespel is eerder as met ‘n “t, word soms korreksies geëis, en gegee (soms seker ietwat tandeknersend, maar darem).
‘n Mens sou die lysie van boetvaardiges sekerlik kon rek as jy wou. Aan die ander kant is die onboetvaardiges: diegene wat allerlei jakkalsdraaie sal gooi om ten enemale nie op ‘n fout vasgepen te word nie. Hoe ander se intelligensie in die proses gruwelik onderskat word, is soms om die hande van saam te slaan.
Ek weet van ‘n mediese fonds waarvan die lede op die oomblik tussen twee opsies moet stem. Op een plek in die amptelike dokumentasie oor die referendum staan uitdruklik: “Indien u nie stem nie, sal aanvaar word dat u in die huidige mediese skema wil bly.” Op ‘n ander plek word ‘n stemprosedure verduidelik wat ‘n wegblystem tot van nul en gener waarde reduseer.
Sekere mense met sterk gevoelens oor die saak het daardie onderstreepte sinnetjie gelees en nie verder gebodder nie. Hulle was doodgelukkig dat hulle hul doel met ‘n wegblystem kon bereik.
Daardie “ligte mistykie” en die verwarringspotensiaal daarvan is dadelik onder die aandag van die betrokke magte en owerhede gebring. ‘n Lys van misleides is op skrif verskaf. So ‘n slordigheid t.o.v. ‘n sleutelkwessie kan natuurlik die geldigheid van enige stemproses ernstig in die gedrang bring, is aan hulle uitgewys. ‘n Mens sou ‘n onmiddellike regstelling en verskoning verwag.
Maar nee, eers ‘n week later word kennis gegee dat die sperdatum van die referendum met twee weke uitgestel word om lede meer kans te gee om te besin. In die verbygaan word na “skynbare verwarring” verwys. Die aankondiging bevat geen verklaring vir die onaanvaarbare teenstrydigheid in die oorspronklike dokumentasie nie.
Besorgde lede het vergeefs na aanvaarding van aanspreeklikheid of boetedoening vir die misleiding met twee lynreg-teenstrydige mededelings gesoek. Aikona.
So ‘n ontwyking van verantwoordelikheid vind hierdie skepsel hoogs betreurenswaardig. Party mense is “skynbaar” eenvoudig nie in staat om hul onvolmaaktheid in hierdie opsig (volgens die Bybelse woord) ruiterlik te erken nie. Raar maar waar.
Comments