My vrou is nie gemaklik daarmee dat ek die ou tannie wat vanoggend oorlede is, “out” nie (sien my inskrywing oor die dood van 'n drag queen vroeër vanoggend). Daar is nog kinders, en daarom gaan ek my geliefde se wense respekteer. Geen name, dus nie. (Sy was nie bekend nie, julle sal haar nie in die koerant raakloop nie, dis deels hoekom ek haar wou besing).
Wel kan ek die volgende vertel, sonder om iemand te na te kom, is:
- Die tannie is as man gebore. - Sy wou altyd ’n vrou wees. - Sy was ’n student in Engeland toe die tweede wêreldoorlog uitbreek, en die oorlog het haar karnuffel. - Sy wou baie graag ’n geslagsveranderingsoperasie ondergaan. Daar was vriendelike dokters in daardie tyd, maar dinge vat lank voor hulle by ’n punt kom, verskoon die woordspeling. (Kyk gerus die film Trans America as julle meer wil weet.) - Haar behandeling is egter wreed onderbreek deur minder simpatieke dokters. - Sy is later getroud (as man), met ’n vrou. - Daar is kinders uit die huwelik gebore. (Lees Philip Liebenberg se boek as julle meer oor sulke sake wil weet.) - Veel later het sy na Suid-Afrika gekom en was ’n suksesvolle musikus. Klaarblyklik het sy hier as vrou haarself uitgeleef. - Oor die jare het sy egter nooit regtig ingepas nie.
Ek het haar baie na aan die einde van haar lewe leer ken. Sy was nie meer identifiseerbaar as van enige geslag nie.
My vrou het goed bevriend geraak met haar, en dis hoe ek haar ontmoet het.
Wat my egter opgeval het van haar situasie, is hoe alleen sy geword het: Verstoot deur haar eie gesin, het sy oud geword en alleen gebly. Vir haar pa kon sy nooit die seun was wat hy wou hê nie, vir sy (haar) vrou, kon sy nooit die ware man wees nie, en as pa vir die kinders het dit klaarblyklik ook gesukkel.
En nooit had sy die kans om werklik vrou te wees nie.
Was dit nie vir twee aparte kerkgemeenskappe nie, sou sy niemand gehad het nie. Die Goodhope MCC se mense het baie vir haar omgegee. Sy het ook soms gaan inloer by ’n ander gemeente, net om mense om haar te hê.
Daar is organisasies wat baie doen vir transgendermense in ons land en daar is ’n hele paar mense wat ons land se vryheid en menseregte benut. (Terloops, geslagsveranderingsoperasies is in die ou Suid-Afrika ook gedoen. Ek het in die tagtigs al mens geken wat suksesvol van geslag verander het.)
Van julle het nou al my storie, “Transgressie”, gelees. Ek het geraap en geskraap en mense se stories gesteel, toe verwerk en het so die name en plekke verbloem.
Dus, laat die res fiksie bly, dis dalk beter so.
Mag die engele vir haar ’n helder rooi rok gee as sy daar bo aankom.
Commentaires