top of page
  • Uitmelkbos

LIEWER ‘N RAKET AS ‘N KIERIE

By die gedenkdiens vir die 96-jarige Jan Dreyer gister op Melkbos was o.a. teenwoordig die man wat ná sy 90ste verjaardag ‘n rekenaar aan hom verkoop het.

Die teenwoordiges het gehoor dat Jan op 87 nog tennis gespeel het. Hy was al verby 90 toe hy vir die leraar, dr. Francois Hanekom, sê hy wil tog nooit met n kierie loop nie – “kieries is net vir ou mense”.

Jan (4 Julie 1913 – 10 April 2010) was in elke opsigte n formidabele man: groot van gestalte met reuse-hande, vlymskerp van gees en verstand en tot weke voor sy dood ook na liggaam nog merkwaardig sterk, fier en lewenskragtig.

By die tee ná die diens sien ek vir Richard, onse Melkbosse rekenaar-ghoeroe. Ek vra hom hoe hy by die uitgebreide Dreyer-familie inpas.

“Ek is die een wat ná 90 aan Oom Jan ‘n rekenaar verkoop het,” lag hy. “Toe hy by my winkel instap en sê hy soek n rekenaar, dag ek og, og, hier kom moeilikheid. Hy het egter net ‘n paar vrae gevra – en toe sommer so op sy eie rekenaarvaardig geraak.”

‘n Jaar gelede het Jan, op my uitnodiging, by die Probusklub van Blouberg kom praat oor Melkbos in die ou dae. Hy het dit gedoen met ‘n flinkheid, ‘n vlotheid, en ‘n georganiseerdheid wat sy toehoorders vol bewondering gelaat het. Hy het nooit ‘n nota geraadpleeg nie.

Die kenmerkende droë Jan Dreyer-humor oor hul gesin van 14 se vakansie-avonture het bygedra tot die genot om na hom te luister . Hulle het die melkkoei, drie skape en ses hoenders van Philadelphia saamgebring. Aan die einde is net die melkkoei saam huis toe. Die skape het tjops geword. Die hoenders is met verdrag gaargemaak nadat hul taak om eiers te lê, afgehandel was.

Een van die Probuslede wat Jan by die ete vlugtig ontmoet het, was Danie Krynauw. Later loop hy hom by Pick n Pay raak. “Jy sal my seker nie onthou nie …” begin Danie. “Nee, ek onthou jou goed. Jy is Danie Krynauw,” kom dit blitsvinnig. Danie kon sy ore nie glo nie oor die man se geheue.

Dr. Hanekom het in sy treffende rede na die Dreyers verwys as ‘n “clan”. Toe hy 28 jaar gelede na Melkbos gekom het, het hy gou geleer jy skinder nie van ‘n Dreyer nie, het hy onder gelag vertel. Kanse is goed dat jy van een Dreyer by ‘n ander skinder!

My eie paaie met die Dreyers het in 1958 in Bloemfontein gekruis toe Hugo Dreyer, jonger broer van Jan, my eerste redakteur by Die Volksblad was. Sy sprankelende, vrolike en lewenslustige vrou, Ans, is ná Hugo se dood met Jan getroud.

Toe ek en Tokkie in 1997 Melkbos toe trek, loop ons weer vir Ans raak, en ontmoet Jan. Die nuwe Dreyer in haar lewe, het ons gou ontdek, was die spreekwoordelike man uit een stuk, ‘n toring van krag vir almal om hom. Daar was ook by hom ‘n hartlikheid en ‘n innigheid wat dit lekker gemaak het om in sy vriendekring te wees.

Ans het kort daarna ‘n invalide geword. Hul heerlike hengeldae by Henties was iets van die verlede. Amper dertien jaar lank het Jan vir sy “sweetheart”, vasgekluister aan die bed, ‘n toegewyde, liefdevolle, opofferende (en soms ook ‘n uiters geduldige, moet ‘n mens byvoeg!) stut en steunpilaar geword.

In ‘n vrugbare lewe was daardie hoofstuk een van die inspirerendste, en een waarvoor Jan nooit genoeg lof en dankbaarheid kon kry nie … nie dat hy dit gesoek het nie. Sy diens was sonder prys.

Mense maak grappies oor “senior oomblikke”. Dan verwys hulle na dowwe oomblikke waarin die ouer mens ietwat warkop raak, sy geheue ietwat in die duister rondtas, ens.

Ek glo ons moet ‘n “senior oomblik” eerder definieer in terme van prestasie, helderheid van denke, flinke humor – van die positiewe kwaliteite wat in Jan Dreyer so ryklik teenwoordig was. Hy was die lewende bewys dat ‘n “senior oomblik” nie ‘n verleentheid hoef te wees nie.

Ek groet Jan Dreyer met ‘n dubbele saluut.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page