top of page
  • Uitmelkbos

LIEWE HEUNIS EN ANDER MISTYKIES

‘n Vergissing waaroor ‘n ruk gelede op die blad Nagkantoor geglimlag is, was dié van ‘n jong verslaggewer wat in Pretoria se Mootgebied ‘n foto van ‘n slagoffer van die bosoorlog by sy ouers moes gaan haal.

‘n Familielid keer hom toe voor en beduie hy moenie nou pla nie, want “the minister is praying with the family”.“The minister from the defence force?” “Yes”. Hy het natuurlik bedoel die kapelaan.

Die volgende oggend staan egter in Beeld: “Die Minister van Verdediging, mnr. PW Botha, het twee uur saam met die bedroefde ouers gebid.”.

Hiermee enkele ander vergissings in nuuskantore:

Rex Gibson, oud-redakteur van die Rand Daily Mail, het ook ‘n juweeltjie oor ‘n mistasting met ‘n minister vertel.

’n Groentjie-verslaggewer het opdrag gekry het om Chris Heunis, die minister, te bel vir sy kommentaar op die een of ander verwikkeling. Die jong man raadpleeg toe die telefoongids, kry daar C.J. Heunis en skakel.

“Nee,” antwoord dié, “van daardie saak weet hy bokkerol” (hy’t ’n sterker woord gebruik). Vir impak voeg hy sommer ’n paar ander minagtende kragwoorde by wat almal hul weg tot in die RDM se kolomme vind.

Toe die minister boos bel en kla dat hy nooit sulke dinge kwytgeraak het nie, bring ’n vinnige ondersoek aan die lig daar was inderdaad ’n “ligte mistykie”. Die verslaggewer het C.J. Heunis die loodgieter gebel!

‘n Berig in Die Burger oor ‘n vlieënde kondoom wat met ‘n sierlike boog in ‘n swembad op Stellenbosch beland het, het die Cape Times waarskynlik laat wens Simonsberg wil hom bedek.

Die kondoom, gebruik en daarna gevul met water, het uit die bure se erf tot in prof. BH en mev. Eva Marie Koeppen se swemad getrek. Vir die egpaar was dit die laaste strooi in ‘n jarelange buretwis. Hulle is hof toe.

Die volgende dag berig die Times toe ook oor die insident. Onder die opskrif “Prof is mad over condom” haal hy ‘n vies prof. Koeppen self aan. Dié vertel in kleur n geur.

Ongelukkig vir die Engelse mededinger verskyn in Die Burger die volgende opvolgberig : “Mev. Eva Maria Koeppen, die klaer, het daarop gewys dat haar huidige man nie prof. BH van Koepen is soos n.a.v. die telefoongids berig is nie. Pof. Koepen is 10 jaar gelede oorlede. Mev. Koeppen is weer getroud maar het haar vorige van behou. Die stomme Times het sleg in ‘n slaggat getrap.

Sout is in die wonde gevryf toe ‘n Burgerman die Times bel en doodonskuldig vra wat prof. Koeppen se telefoonnommer dan is. Hy soek hom al tien jaar lank.

‘n Keer wat Die Burger bloedrooi moes bloos, was in 1958 toe die jong Jurie Gryffenberg, latere ambassadeur, opdrag kry om verslag te gaan doen oor ‘n rugbywedstryd: Bellville teen die toerspan van die Tukkies.

Hy (wat nie ‘n rugbyskrywer) is die enigste siel in die persbank. Hy vra sommer gou vir ‘n toeskouer watter span is watter een. Die volgende dag verskyn sy verslag, onderteken deur JG, op die sportblad. Die opskrif lui: “Bellville wen; heelagter kry 15 punte.”

O wee, dit was die Tukkies wat 24-6 gewen het. Dit was die Tukkie-heelagter, Charlie Meyer, wat 15 punte aangeteken het. Dit blyk dat JG die volle 70 minute lank die spanne met mekaar verwar het. Sy verslag was ‘n presiese spieëlbeeld van die werklikheid.

Dieselfde berig, in verkorte vorm, verskyn ingevolge ‘n ruilooreenkoms ook in die Times. Die korreksies in albei gevalle was heelwat langer as JG se oorspronklike agterstevoor-berig!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page