top of page
  • Uitmelkbos

LIEGBEK- SKALE


Die volmaakte oplossing vir daardie alewige ellende as dit weegtyd raak op die badkamerskaal – kan nie dink hoekom ek hierdie onderstebo-tegniek nie lankal uitgevind nie!

Skale is natuurlik ernstige sake. ‘n Mens kan nie grappies maak oor sulke konstante ontnugterings in jou lewe nie.

In vanoggend se Die Burger vertel Willem Pretorius tog ‘n grappie oor ‘n skaal. In die rubriek Van Alle Kante vertel hy van die man wie se versugting was om vir sy verjaardag iets te kry wat in 2 sekondes van 0 tot 200 kan gaan. Sy vrou koop toe vir hom ‘n skaal.

Ek ken die storie andersom, met die vrou in die rol van die ontvanger. Oor die gewer se lotgevalle kan ‘n mens glo in die koerant se begrafniskennisgewings lees.

Hoe ook al, dis galgehumor. Niks om oor te lag nie.

Op die oomblik voer ek ‘n stryd teen die skaal. Dis eintlik ‘n langtermynstorie, wat al weke kom. In Sabiepark besluit ek in April eendag ‘n nuwe skaal is nodig. Ons ry Hazyview toe en koop ene.

Terug, klim ek op en slaan amper ‘n hartklep. “Die liegbek-ding is niks werd nie,” deel ek Tokkie deur dun lippe mee. “Hy weeg my 5 kilo’s te swaar.”

Die volgende dag moet ons opsluit weer die 80 kilometer Hazyview toe en terug. Die foutiewe skaal moet teruggegee word. Net om seker te maak hoe ver die ding uit is, ry ek by twee apteke aan (die enigste twee op Hazyview?).

Kan nie wees nie – dis dieselle blerrie storie op hul skale ook.

In stilte ry ek en my vrou toe maar terug Sabiepark toe, skaal en al. Ek is DIK die duiwel in vir alles en almal. Sal maar nie sê TvD was DIK van die lag nie!

Dalk is die enigste raad vir sulke klein teenspoedjies ou Daan Drommel se reaksie wat ek in die versie “Badkamerskaal” in “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” opgeteken het:

“Net een skrale kilo

Op die badkamerskaal,

Dis al wat Daan Drommel

In ‘n week kon behaal;

Toe roep hy raadop:

“Ek is moeg vir die pyn” –

En vat in sy kelder

Nog ‘n botteltjie wyn!

Gesondheid!

0 views

Recent Posts

See All

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page