top of page
  • Uitmelkbos

LIEFLINGSEUN KOM TOT VAL

Met Amerika nou weer so sterk in die nuus weens Donald Trump se manewales, dwing my gedagtes terug na 18 Julie 1969. ’n Insident op die eiland Chappaquiddick in Cape Cod, Massachussets, het die VSA se geskiedenis waarskynlik oornag op ’n ander koers gestuur.

’n Lieflingseun, senator Edward (Ted) Kennedy, het in skande tot ’n val gekom.

Hy was die broer van onder andere die charismatiese JFK (pres. John F. Kennedy) en die jonger Bobby wat skynbaar ook onstuitbaar op pad Withuis toe was voordat hy op 6 Junie 1968, soos sy oudste broer, deur ’n sluipmoordenaar doodgeskiet is.

Die jong senator (37) het met ’n mooi verpleegster van New Jersey, Mary Jo Kopechne (28), van ’n jolige huisparty op Chappaquiddick weggery en met sy spogmotor, ’n deftige 1967-model Oldsmobile Delmont 88, van ’n bruggie af in ’n getypoel geplons.

Hy het uitgeswem; sy het in die Olds verdrink (net agt dae voor haar 29ste verjaardag). Die Kennedy-dinastie van Boston was in sy hart gewond.

Die Kennedy-storie was sensasioneel. Die hantering het aansienlike uitdagings aan koerante se goeie oordeel en kreatiwiteit gestel. Die politieke skandaal met sy sappige detail het naamlik saamgeval met die lansering van Apollo 11 op 16 Julie 1969 van Cape Kennedy af met kommandeur Neil Armstrong, Michael Collins en Edwin “Buzz” Aldrin aan boord.

Die Apollo-driemanskap se taak was die voorheen ondenkbare: ’n bemande maanlanding; ’n epogmakende wêreldstorie. Maar so ’n super-“sepie” met ’n voorste senator in die skurkerol beland darem ook nie aldag in ’n joernalis se skoot nie!

Suid-Afrikaanse dagblaaie het, tot hul eer, deurgaans Apollo 11 prominenter hanteer. Selfs die respektabele Boston Sunday Globe van Kennedy se tuisstad in Massachusetts het egter – seker ná pynlike kopkrap – op 20 Julie Kennedy hoofberig gemaak en Apollo 11 onder die voulyn op die onderste helfte van die blad aangebied. Sy opskrif was: “Ted Kennedy escapes, woman dies as car plunges into Vineyard pond”.

Die populêre Amerikaanse ponieblad Sunday News het niks teruggehou nie. Kennedy was sy voorblad vol onder die groot opskrif: “Teddy escapes, blonde drowns”.

Die Maandag was die New York Times se aardskuddende banier, tereg, anders gefokus: “Men walk on moon”.

Kan nie vinnig dink aan twee ander gelyktydige nuusstories van soveel omvang en betekenis wat koerante, veral in Amerika, voor sulke uiters moeilike keuses gestel het nie. Foto: ‘n Studie in kontraste. Drie Amerikaanse voorblaaie uit 1969.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page