top of page
  • Uitmelkbos

Liefdestaak en groot sports

Een mens se liefdestaak is ‘n ander se wrewel. Daar het al liefdestake oor die Anglo-Boereoorlog verskyn wat mens op jou tande laat kners. Veral as jy met my probleem sit: My oupa is as jong geneesheer in die ou Kolonie nadergeroep om te gaan help met die vestiging van die veldambulanse in die noorde tydens die Anglo-Boereoorlog. Dit was nie juis aan dieselfde kant as wat my ander Oupa se mense geveg en gewond is nie. Die familie kry dit soms reg, laataande, om nie heeltemal versoening te bereik oor die tweespalt tussen die oupa’s nie. Gelukkig is Kay de Villiers se liefdestaak van só ‘n aard dat ek later vandeesweek in sy nuwe stel boeke oor die mediese geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog gaan belê. Die stel – met die gesamentlike titel Healers, Helpers and Hospitals – A History of Military Medicine in the Anglo-Boer War – is nou wel nie in Afrikaans nie, maar as mens De Villiers se artikel daaroor in Sondag se Rapport gelees het, dan het jy omtrent nie ‘n resensie nodig om jou na die boek te stuur nie. ‘n Dag later het Albert Grundlingh dié positiewe indruk bevestig met sy resensie van die stel in Die Burger. Teenoor die bruisende geesdrif vir die onderwerp wat uit De Villiers se skryfstyl straal, is Grundlingh meer besadig. Nie blind vir foute nie, nie onbewus van leemtes nie. Maar hy erken ruiterlik dis ‘n indrukwekkende publikasie. En dis al wat ek wou hoor. Hier is nou ‘n eersteklas voorbeeld van hoe ‘n kenner ‘n gesaghebbende verslag kan skryf sonder om te verdwaal in ‘n klomp newe-argumente. Kort, bondig, nugter. Ná De Villiers se artikel soek mens nie tesisse opgetert as resensies nie. Op dieselfde Burger-blad het Joan Hambidge in die hoofresensie lekker ‘n nuwerige soort sports gemaak. Diegene wat baie rondlees op webwerwe, sal sekerlik bewus wees van die groot literator-mode van die oomblik: die tweegesprek, met of sonder snydende sarkasme en vlymskerp satire. Ek’s jammer vir die kort man en die vet man en die hovaardige man, maar Joan of Arch het die vorm al toeka se dae bemeester en wys in haar resensie van P.J. Haasbroek se Die ander vennoot presies hoe treffend dit hanteer kan word. Behalwe op een plek waar slim sy baas gevang het (Joan vra haar denkbeeldige gespreksgenoot Germiena uit oor die slot, terwyl sy in die intro aandui dat Germiena nou maar eers besig is om die boek te lees) is die geheel baie geslaag, as resensie (dit gee ‘n aanduiding van inhoud, kwaliteit, tematiek) én as entertainment. Ek wil haar net op een punt korrigeer. Ek glo nie die uitgewer het die feit dat Haasbroek se manuskrip ‘n prys van die Afrikanerbond gewen het verswyg omdat hulle bang was dit sou politiek gevoelige lesers afskrik nie. Hulle het waarskynlik stilgebly daaroor omdat hulle geweet het so-iets maak niks indruk op mense wat boeke koop nie. Iets wat my persoonlik baie min imponeer, is die manier waarop Volksblad voortgaan om Afrikaanse boeke af te skeep. Pas het die intellektuele elite van die Afrikanerdom, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, in Bloemfontein vergader. Die Maandag daarna praat Volksblad saam by wyse van ‘n resensie van J.C. Kannemeyer se Briewe van Peter Blum, wat reeds weke (indien nie maande nie) vantevore in Beeld en Die Burger geplaas was. Dieselfde resensie van Leon Rousseau. (Dis my ou liedjie: Só ‘n boek verdien meer as een resensie. Die oggendblaaie het Kannemeyer hier geen guns gedoen nie.) Dan is daar ook ‘n aankondiging van ‘n nuwe boek oor M.T. Steyn wat nog gepubliseer moet word, en les bes bewandel Adéle Dempers die hoër en kouer paaie met ‘n bespreking van ‘n nuwe liefdesverhaal van Margaret Bakkes, Klara kom tuis. Hulle noem dit ‘n boekeblad.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page