Nou het die sanger Theuns Jordaan ook ‘n “liefdeskind” verwek. By ‘n bloedjong loskop-dollatjie van Namibië wat ‘n flirtasie in ‘n biertent by ‘n kunstefees woeps laat oorgaan het tot ‘n seksuele avontuurtjie met ‘n jagter op soek na prooi.
Die blonde meisietjie is blatant “opgetel”, sonder ‘n kondoom vir die sanger se plesiertjie misbruik (romodel, o rolmodel!) en daarna gerieflik van vergeet – totdat haar ma Jordaan telefonies gekonfronteer het met die pynlike nuus dat ‘n broodjie in die oond is.
“Liefdeskind”? Ek kry elke keer ‘n rilling van weersin as taal so verwring word om iets te beteken wat dit klaarblyklik nie in die gewone sin hoegenaamd nie beteken nie. Waar is die “liefde” tog in so ‘n blits-sekskapade?
As liefde so vinnig uitwoed – tussen middernag dalk en sonsopkoms! – is dit immers maar ‘n bra vlak en ligsinnige gevoel, en verwonder n mens jou oor die musiek, gedigte, romans en wat nog wat deur deur die eeue deur diepe, onsterflike liefdes geïnspireer is.
Ek kan aan ander woorde dink wat dalk meer ter sake is vir sulke kattekwaad. Wellus gee bepaald ‘n beter beskrywing van die aktiwiteite in mnr.Jordaan se bed, sou ek dink.
Ik heb gezegd, en ek wil nie onnodig hieraan bly karring nie. Ek sal egter bly wees as kopskrywers in koerante en andere wat so maklik die woord “liefdeskind” rondstrooi, my wil help om te verstaan wat hulle bedoel.
As die produk van wildvreemdes wat na ‘n paar drankies drankies hul inhibisies verloor en mekaar gryp, ‘n “liefdeskind” is. watter soort kind is dit dan wat in ware wedersyds liefde in ‘n vaste, hegte verbintenis van diepe geneentheid ontstaan? Is dit nie verreweg eerder ‘n “liefdeskind” nie, tensy ‘n mens nie ‘n benul het wat liefde beteken nie?
‘n Kreatiewe vriendin noem sulke onlogiese, sinnelose woorde soos “liefdeskind” seekoei-woorde. Daardie groot, vet, logge diere (hippopotamus amphibius) woon immers nie in die see nie, maar in vars water. Baie is geen koeie nie, maar bulle. ‘n Seekoeibul! Aardetjie tog, iemand het met die Afrikaanse naamgewing darem liederlik gestruikel.
Die seekoei was bekend aan die Grieke en Romeine as die “Gedierte van die Nyl” Dis tog klaarblyklik ‘n beter poging.
‘n Mens sou n lang lysie sulke seekoeiwoorde kon saamstel en selfs ‘n intellektueel uitdagende speletjie daarvan kon maak. Ek wil egter nog net ene byvoeg wat vir my amper ewe aanstootlik is as “liefdeskind”. Dis “gemorskos”.
Ek het pas die rolprent Slumdog Millionaire gesien. Dalk het daardie skrikwekkende tonele uit die krotbuurte van Moembaai my opnuut ‘n hekel in daardie woord gegee. Hoe ‘n mens egter die woord ”gemors”met die woord ”kos” kan koppel, bly vir my n raaisel – en dit in ‘n wêreld waarin hongersnood hoogty vier. Selfs predikante praat soms so.
Sit vir miljoene mense gerus ‘n porsie “gemorskos” voor. Hulle sal dit opslobber soos “koningskos”.
Van seekoeie gepraat, gaan lees weer Job 40: 10-19 in die Ou Testament, wat waarskynlik verwys na ‘n beskrywing van daardie dier uit ongeveer 1400 v.C. Dit is van die mooiste dierebeskrywings wat ek ken.
‘n Tweede seekoeistorie wat ek graag deel, is oor die seekoei se mis. Selfs ‘n oningewyde herken die mis maklik weens die tekstuur wat kwalik verraai watter tamaaie “fabriek” dit produseer. Geen ander dier waaier ook sy uitwerpsel oor so ‘n wye gebied nie.
Nie sonder rede nie, volgens ‘n mooi boslegende wat ons by Annatjie Strydom van Sabiepark gehoor het. Sy vertel: “Koning Leeu trap seekoei uit omdat hy die heeldag in die water lê. ‘Jy vreet al ons visse op!’ ‘Nee, Koning Leeu,’ antwoord Seekoei bedeesd , ‘ek eet nie vis nie. Ek lê maar so in die water om my vel teen die son te beskerm. As ek wil eet, kom ek uit. My kos is plante en gras.’ Koning Leeu bly egter skepties. ‘Dit wil ek sien’ bulder hy. ‘Jy sal my net op een manier kan oortuig. Sê jou wat, as jy buite die water kom mis, moet jy jou stert swaai. Die mis moet oop agter jou val. So sal ek kan sien of daar grate in is of nie’. Seekoei is ‘n gehoorsame onderdaan. Soms, net soms raak hy egter ‘n bietjie lui. As Koning Leeu nie naby is nie, sal hy sommer gou-gou in die water sy besigheid doen. Die visse moet ook eet. En die waterplante groei lekker van die natuurlike bemesting.”
Nou-ja, Seekoei het nie vir Koning Leeu gejok oor sy voorliefde vir die water nie. Dit is inderdaad, soos hy verduidelik het, vir beskerming.
Ten slotte: seekoeie ken die kuns om lui te lyk. Dis ‘n feit soos ‘n (see)-koei. Tienstuks van die luiste lui lummels in ‘n kuil naby Onder-Sabie in die Kruger-wildtuin (foto bo) het die inspirasie vir die volgende bosversie verskaf:
Een oefen kliphard om wydbek te gaap,
sy dikvriend lê heeldag en skommel en slaap;
waaraan ly daai luie donders?
Wrintiewaar…..dis hippo-konders!
Comentários