
Oornag het 38 plakkerskrotte op die Seepuntse Promenade, vlakvoor bakens soos die bekende Bordeaux-woonstelle, verrys toe ‘n Griekwastam sy voorvaderlike regte op die Seepuntse strandfront kom opeis.
Dié nuus het mense oor die lengte en breedte van ons land ‘n week of wat gelede, om dit sag te stel, laat stik. Saam met die e-pos was ‘n handvol foto’s. Op een is die Bordeaux-blok prominent. Agter toring Leeukop.
Maat die media bly swyg hieroor soos die graf. Later begin die besef deurbring: iemand het, met watter motief ook al, ‘n klomp internetgebruikers ‘n poets gebak, gekul of mislei – kies maar die regte woord. Die foto’s waarmee die liegstorie geloofwaardigheid help gee is, is klaarblykliik met fyn manipulasie iewers op ‘n rekenaar geskep.
Nou weet elkeen wat nie onder ‘n kalkoen uitgebroei is nie, dat e-posse gevaarlik misleidend kan wees. Selfs die gewone stroom welmenende beroepe om steun vir skynbaar edele aksies is dikwels ‘n front vir skelmstreke – só is ons al dikwels gewaarsku. Daarom weerhou ek sonder uitsondering my steun vir alle petisies, gebedskettings en wat nog. ‘n Mens weet nie wat daaragter sit nie.
Gevaarliker as bogenoemde in ‘n land waarvan die senuwees maar taamlik rou en uitgerafel is, is doelbewuste politieke misleiding, soos die storie van die plakkers – opgedis met die sousie daarby dat dit ‘n regstryd van vyf jaar kan inlui, en “ if you thinking of buying a beachfront property – think again!”
Raad het ek nie juis nie, want hoe stuit jy ‘n leuenaar wat sy gif via die internet by goedgelowige mense inpomp?
Al wat ek kan aanraai, is: hou gerus maar die media dop. Koerante en die radio, selfs TV, sal bepaald nie so ‘n storie onopgevolg laat verbygaan nie. As dit nie die koerant haal nie, is dit loutere bog, soos die vals internetfoto’s van Mugabe se huis en Mbeki se vliegtuig destyds loutere bog was.
Een ding bewys hierdie stelling van my onbetwisbaar: dat die waarheid nie sonder die tradisionele media as korrektief staande sal kan bly teen die bombardement van internet-knoeiers nie.
Kom ons praat maar net oor koerante – my klein area van spesialistekennis. Hulle word deesdae uit baie oorde verguis, en hulle kry dit nie altyd honderd persent reg nie. Maar skaamteloos lieg soos internet-grapjaste lieg hulle nie. Punt.
Nee wat, diegene wat só internet -behep is en dwaaslik glo, praat of optree of koerante se tyd verby is, kan gerus gaan nadink oor die noodsaaklike rol wat hulle speel, en toenemend sal moet speel, om te sorg dat die gemeenskap dermate juis ingelig is dat hulle die regte besluite kan neem – wat een van die media se kernrolle in ‘n gesonde demokrasie is.
Comments