Mount-Aux-Sources, die Amfiteater, Cathredal Peak, Cathkin Peak, Champagne Castle – almal magtige spitse van die Drakensberg, almal asemrowend indrukwekkend. Dit was ‘n vooreg om op pad Sabiepark toe twee dae rond te ry deur die sogenaamde “Verlore vallei” tot by Thendele, Didima en Monk’s Cowl in die “Sjampanjevallei” (wel, amper tot by die skoorsteen).
Elke besoeker aan die Drakensberg behoort hom genoeg tyd te gun om al vier dié hoofare van die sentrale en noordelike bergroetes behoorlik te ontgin, wat hierdie kroonjuwele (en andere) ontsluit.
Piekniek in die koninklike Natalse park, ‘n wyntjie op die dek van die Cathredal Peak Hotel, ‘n pot Vyf Rose by die serene Champagne Castle Hotel, sommer net ‘n kort wandeling by die Drakensberg Sun en ‘n aftog na die “kaalvoet-vrou” by Retiefpas is treffende ervarings met hope vars berglug, ‘n verskeidenheid attraksies en ‘n kragtige visuele impak. Kry ‘n goeie kaart en sit af berg toe – gawe slaapplek vir elke beursie is om elke draai.
Vir my en Tokkie het op ons ontdekkingsreis ‘n onverwagte ekstra gewag: ‘n tradisionele Woensdagmiddag-konsert van die Drakensberg-seunskoor aan die voet van die Sterkhorn, naas Catkhkin Peak. Dié Woensdag, 29 Junie, was ‘n seunskoor uit Dallas, Texas, op besoek. Netjiese seuns in formele kleurbaadjies.
In die atmosfeerryke ouditorium het die Drakensberg-seuns gunstelinge soos Anli van Rooyen se Halleluja, Bridge over Troubled Waters en Jerusalem (in Afrikaans) die besoekers van oral meegevoer. In die koor se weergawe was twee tenoortjies, Nathan Julius en Paul Roos, die soliste – absolute engelstemme.
Maar as een naam neergeskryf moet word vir toekomstige referensie is dit Roderick Demmings, graad 12-leerling by Dallas se St. Marks. Hy toor op ‘n vleuelklavier met jazz wat die tone laat krul. Ek ken nie juis jazz nie, maar The Saints Go Marching In was ‘n aangename herkenning. Die gehoor was op hul voete … nie die eerste gehoor en sekerlik nie die laaste wat vir die (swart) jonge heer Demmings sal opstaan nie!
Ons was bevoorreg om tuis te gaan by ‘n gasteplaas, Brandkraal, in die hartjie van die berg se toeriste-hartland. Dis huislik, gesellig, plat op die aarde, uiters billik en boonop Afrikaans-vriendelik. Ons sal weer kom, het ek in Freddy en Agnes Bondesio se gasteboek geskryf.
Op Brandkraal word meer as 1 000 koeie van 03:30 soggens gemelk. Die moderne tegnologie is iets om te aanskou. Op die laaste dag van ons kuier is seker vier of vyf kalwertjies gebore – een het ons klaarblyklik met minute misgeloop. Hy was nog steierend op dom beentjies toe ons op die plaaspaadjie langs die “kraamkamer” stilhou.
Ontbyt word op die maat van boeremusiek opgedis. Terwyl jy weglê aan vars plaasprodukte, klink die mazurkas van agter ‘n toe deur op. “Freddy dans vir oefening,” deel Agnes mee. Sy selfoon lui en – seker op die vraag hoe dit gaan – hoor jy hom lakoniek bo die konsertinamusiek opmerk: “So skud-skud”!
Oor die skoonheid van die Drakenserg-omgewing kan ‘n mens liries raak. Oor die helder blou lug bokant die magtige bergspitse. Sy baie watervalle (o.a. die Tugela) en ander waters. Sy golwende valleie. Sy tradisionele Zoeloehutte. Sy rotskuns. Elke uitdraaipaadjie lewer sy eie verrassing. Draai by soveel as moontlik in. En ‘n laaste stukkie advies. As jy van Winterton of Bergville se kant bergop ry, hou maar die oë oop vir Thokozisa. ‘n Kleurryker inligtingsentrum met lekkerder eetplekkies en winkeltjies sal jy nie maklik raakloop nie.
Comments