top of page
  • Uitmelkbos

LewensLANK en LANGER


Lewenslank, noem Henri van Biljon van Melkbos daardie paar slanke bene op die foto hierbo.

 Die foto is 50 jaar gelede deur ‘n Durbanse strandfotograaf geneem.  Die paartjie was op hul wittebroodsvakansie. Hulle is op 15 Desember 1962 getroud – gister presies 50 jaar gelede.  

 Dis ‘n huwelik wat al net so lank duur soos wat daardie twee lewenslange (of langer) bene is.

 Dis juis op ‘n viering van die egpaar se goue bruilof gistermiddag dat hierdie foto uitgedolwe is, by al die gaste in hul mooi huis op Melkbos die ronde gedoen het, deeglik bestudeer is en allerlei bewonderende kommentare en vrae uitgelok het. Kommentare soos dié van Henri hierbo en vrae soos of sy ‘n hoogspringer was.

 Wel, sy was, hoor. Vir Maties aan die Dalrymple deelgeneem. Afrigter: die Springbok-atleet Len Holdstock. 

 Gee julle ‘n raaiskoot wie die paartjie is. Hul vriende sal dalk veral vir Mercia Kroese van Living Sea herken.  Eggenoot Jutie het, as ek die uitdrukking verskoon sal word, ongetwyfeld meer myle opgesit.  Bankbestuurders kry dit soms maar hotagter!


Die onderste, meer resente foto bewys dat my opmerking geen mala fides jeens Jutie bevat nie.    

 Maar kierie ofte nie, gister was Jutie weer die flinke bruidegom. Toe Mendelssohn se Troumars uit die CD-speler opklink, het hy sy bruid kordaat nadergetrek en by haar ingehaak – soos hulle destyds ná die huwelikseremonie op die kerktrappies die eerste keer as mnr. en mev. Kroese verskyn het.

 Goue bruilofte produseer nostalgie soos min ander dinge. Dit produseer ook enorme dankbaarheid vir ‘n lang pad wat, met die onvermydelike hikkies hier en daar, tog voorspoedig en gelukkig verloop het. Soos in die geval van Jutie en Mercia.

Saam by die intieme viering was onder andere hul kinders, Marcel (eggenote: Annamarie) en Sarina, (eggenoot: Pablo, ‘n Argentyn) en tweeling-kleinkinders, die oulike tienerdogters van Marcel en Annamarie, Nicola en Anette.  Marcel-hulle het spesiaal uit die Seychelles gekom.

Marcel en “kleinsus” Sarina het in netjiese toesprakies – net genoeg humor, net genoeg sentiment – mooi oor hul ouers en hul gelukkige ouerhuis gepraat. Marcel het ‘n heildronk ingestel. Anette het, namens die tweeling,  haar oupa en ouma die lof toegeswaai dat niemand skaapstertjies soos hullekangaarmaak nie.

Snaaks hoe gesprekke aan tafel by sulke geleenthede op die gaste se eie paaie terugdwaal.   Jy dink terug aan hoe warm dit op jou troudag was, aan jou wittebroodshotel (wat intussen ‘n derderangse losieshuis geword het), aan die foto’s van jou wittebroodsdae, ens.  (Die “ens” behels natuurlik ook aspekte wat ‘n ordentlike mens uit beskroomdheid liefs nie uitlap nie.)

Mercia  onthou toe dat hulle ‘n kamera moes leen – die eie beursie was maar dun.  Aan die einde van die wittebrood val die geleende kamera toe van ‘n pont in die rivier.  Weg is al hul foto’s – buiten daardie een deur die strandfotograaf. Dat dit behoue gebly het, is stof tot dankbaarheid – en rede vir nuwe respek vir Jutie dat hy ‘n nooi van daardie stoffasie kon inpalm.      

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page