top of page
Uitmelkbos

LENNIT MAX: EPISODE DRIE

Lennit Max, gewese polisiekommissaris wat Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid geword het, is skielik met verlof na bewerings van indiskresie. ‘n Gewese polisieklerk, Belinda Petersen, loop en stories vertel oor wat o.m. in die geheim in sy kantoor, huis en ‘n plaaslike hotel tussen hulle sou gebeur het.

Vandag se voorbladnuus is episode drie van die Lennit Max-storie wat in 2003 begin het. Mense met lang geheues sal onthou dat in daardie jaar druk op Max uitgeoefen is om op ouderdom 41 jaar onverwags vroeg uit die polisiediens te tree.

Gerugte wou dat ‘n “oorlog” tussen Max en ‘n adjunk- kommissaris, Zelda Holtzman, ‘n rol gespeel het. Dié “oorlog” het, volgens koerante, begin toe sy uit sy kantoor gestorm en die deur toegeklap het. ‘n Klag van onder meer seksuele teistering teen Max het gevolg. Dit is ongegrond bevind.

Holtman het bedank en van die toneel verdwyn. Die troebelheid rondom Max se uittrede is nooit opgeklaar nie.

Max is daarna politiek toe. Sy politieke loopbaan het begin by die Onafhanklike Demokrate. Hy het tot Wes-Kaapse leier van die OD gevorder. ‘n Allemintige rusie het egter in 2005 tussen hom en die nasionale leier, Patricia de Lille, losgebars. Max is as Wes-Kaapse leier geskors, en De Lille het beweer hy is oneerlik deurdat hy by geleentheid van die party se geld misbruik het vir hotelverblyf en alkohol. Dit was episode twee.

Minder as ‘n jaar gelede het die D.A.-premier, Helen Zille, hom, desondanks, in haar omstrede net-vir-mans-kabinet aangestel.

In hierdie blog het die uwe op 27 April 2009, dae voor sy aanstelling, Max se geskiedenis opgehaal en gewaarsku dat Zille liefs rustig moet oorweeg of dit wys sal wees om iemand met soveel bagasie tot ‘n leiersrol in die “nuwe Wes-Kaap” te bevorder.

Hoe sleg die premier haar vingers verbrand het met Max se aanstelling sal die tyd leer. Laat ek billik wees: in hierdie stadium is mej. Petersen se stories nog net bewerings.

Maar skuldig of onskuldig, is dit ‘n feit dat ongemaklikheid oor sy doen en late Max nou al jare agtervolg.

Hierdie gryse waarnemer vind dit vreemd dat Zille só deurgedons het met sy bevordering tot in haar kabinet, maar nou-ja, sy lees nie hierdie blog nie, en die koerante het die Max-kwessie met sy herrysenis tot ministerskandidaat maar soetjies-soetjies gehanteer. Te soetjies, vrees ek.

‘n Mens moet nie tong uitsteek nie. Dis slegte maniere. Maar mag ek darem net sê, soos Winston Churchill op ‘n keer: “I have not always been wrong!”

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page