top of page
  • Uitmelkbos

LEM TEEN DIE KEEL VAN ‘N KIND


Rembrandt se uitbeelding van Abraham en Isak op die berg Moria

“Kinderbagasie” het eers na my 60ste jaar in my woordeskat verskyn. Deesdae hoor ek die woord al hoe meer. Veral van die kansel af. In Pinksterweek is in ons gemeente opnuut gewag gemaak van dié “bagasie” wat sommige jong slagoffers tot in hul grootmensjare treiter.

Voorbeelde wat genoem word, wissel van ‘n vals beskuldiging, ‘n taai oorveeg, ‘n afgedankste loesing tot by ekstreme vorme soos seksuele molestering (die “hande op die lyf”, die “fluisterstem in die oor”) en dies meer.


Dat kinders soms swaar ly onder bose ouers, nare onderwysers en allerlei gesagsfigure met voete van klei is ‘n feit. Met die slagoffers van mishandeling, teistering en vertrapping en hul lewenslange gesukkel om beproewings te verwerk, het ‘n mens (ook ek) diepe deernis. Oor die verskynsel van ”kinderbagasie” het ek nietemin tog sekere vrae.


My kennis van sielkunde is ongelukkig maar effentjies. Ek het in die Honneursklas op Tukkies vroeg-vroeg belang verloor en die res van die jaar liewers in die Capitol gaan fliek as om in Weskoppies praktiese ondervinding te gaan opdoen. My opinie is dus ‘n leke-opinie.


My indruk, vir wat dit werd is, is egter dat party mense iets onplesierigs uit hul kinderdae onthou opvallend nadat hulle as grootmense drooggemaak het en ‘n verskoning broodnodig het om hul onbehoorlike optrede te probeer regverdig.


‘n Mate van skeptisisme moet dus bely word oor die buitengewone prominensie wat die huidige generasie aan hierdie relatiewe nuutjie van “kinderbagasie” gee. .


Maar kom ons los my en my twyfel eers eenkant. Ons gaan lees in Genesis – die verhaal van die eerbiedwaardige Abraham wat in opdrag van Bo sy seun Isak na die berg Moria bring om hom te gaan offer.


Isak raak kennelik ongemaklik as hulle so in broeiende stilte aanstap. Hy sien sy pa het hout en vuur, maar geen offerlam nie. Hoe dan? Abraham stel hom gerus dat God sal voorsien. By die offerplek aangekom, is Isak (wat die hout op sy rug soontoe moes dra!) nog altyd in die duister. Hy aanskou onbegrypend sy pa se altaarbouery. Eensklaps gryp Abraham sy seun dan, bind hom vas, sit hom op die altaar en vat die mes om hom te slag.


In daardie stadium gryp die Engel van die Here in, maar watter trauma het die arme Isak nie dan al beleef om so goedsmoeds ter slagting gelei te word nie – sy kinderlike vertroue aan flarde geskok deur ‘n vaderlike geweldsdaad wat, in die woorde van oud-premier John Vorster in ‘n ander verband, eenvoudig “too ghastly” was “to contemplate”?


Vergeefs soek ek in Genesis ‘n vertroostende verduideliking van die vrome Abraham aan sy verskrikte seun, of enige insig oor hoe Isak deur die vreesaanjaende gebeure diep in sy hart getref moet gewees het. Die volgende wat ons van Isak hoor, is wanneer die skone Rebekka sy bruid word.


“Kinderbagasie”? ‘n Vertroude vader wat jou vasbind om jou te slag, moet tog ‘n onvergelykbaar groter trauma vir ‘n kind wees as ‘n onverdiende klap of ‘n kwaai pak slae. Maar Isak kry nie angsaanvalle nie en sy verhouding met sy pa bly klaarblyklik ongeskonde.


Ook in Genesis lees ons die verhaal van Lot en sy twee dogters, albei nog maagde, wat hy absoluut carte blanche aan ‘n seksbeluste spul woestaards in Gomorra aanbied: “Doen met hulle wat julle wil.” Maar dié verfoeilike daad van gruwelike troubreuk eindig, volgens huidige standaarde, verrassend. Diè twee gaan bly saam met die vlugtende Lot in ‘n grot. Daarna maak hulle hom dronk en verlei hom.


Moet my tog nou net nie beskuldig dat ek die Ou Testament met sy ingrypend anderse kulture, tradisies en praktyke wil misbruik om wandade van hier en nou te probeer vergoelik nie. Abraham was onder onmenslike druk om sy geloof te bewys en Lot se optrede was walglik, kort en klaar.


Maar dat sulke Bybelverhale my eie onsekerheid oor die kwessie van “kinderbagasie” voed, kan ek nie ontken nie. As ek lees wat Abraham en Lot hul arme kinders aangedoen het, is ek verbaas om byvoorbeeld van die kansel te hoor van ‘n “bekende sportpersoonlikheid” wat in die kleedkamer angsaanvalle kry net oor niks meer nie as ‘n onderwyseres wat hom kleintyd in die klas ‘n klap gegee het oor ay alewige gesnuiwery weens hooikoors!


Arrie-nee, hoeveel loesings en klappe het ek (en my maats) nie self gekry nie, en dan is my pa boonop dood toe ek maar ‘n tenger vyf jaar oud is. Ek moes die swaar eenvoudig op eie houtjie verwerk. Ook daarom sukkel ek om van die suspisie ontslae te raak dat nie almal wat “kinderbagasie” pleit, inderdaad sulke slagoffers was soos hulle te kenne gee nie.


Ek wil nie ongevoelig klink nie. Ek weet ook ek steek my kop in ‘n byenes. Ek kan egter nie help om te wonder nie of te veel gewig in terapiekamers nie soms aan onbeduidenhede in ‘n mens se kinderjare geheg word nie om sodoende emosionele stoornis of afwykende gedrag van ‘n ander oorsprong te verklaar.


Bestaan ‘n waterdigte metode om tussen “egte kinderbagasie” en “nie-egte kinderbagasie” of “gewaande kinderbagasie” te onderskei?

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page